United, Wanderers onttrek uit NRU-liga

Net vier uit die aanvanklike agt klubs in die premierliga is nog gereed om voort te gaan.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Namibië Rugby-unie (NRU) het Vrydag sy voorlopige wedstrydprogram uitgestuur wat bestem is om op die naweek van 8 Augustus af te skop.

Dit is ondanks die feit dat drie premierligaklubs van die hoofstad intussen hul onttrekking aan die NRU-ligas vir die res van die jaar bevestig het.

Die 2019-premierligakampioen Trustco United en FNB Wanderers het Donderdag skriftelik hul spanne uit deelname onttrek, terwyl FNB Western Suburbs reeds in die media sy besware geopper het en dieselfde pad sal volg, volgens die voorsitter, mnr. Keith Allies.

Vanweë die Erongostreek se Covid-19-inperkingstatus is Kudus van Walvisbaai reeds buite rekening.

Mnr. Winmar Rust, voorsitter van United, sê die risiko vir die verspreiding van die coronavirus is eenvoudig te groot, terwyl die NRU se neergelegde regulasies vir ’n veilige terugkeer tot kontaksport dit nie die moeite werd maak om voort te gaan nie.

“Daar mag net 250 mense in totaal by ’n wedstryd wees. Dit sluit die spelers, bestuurspanne, skeidsregters en noodhulppersoneel in. Op die ou end laat dit jou met ruimte vir omtrent 50 toeskouers. Hierdie hekinkomste is beswaarlik lewensvatbaar as jy boonop nog mense moet betaal om te keer dat meer toeskouers inkom.

“Intussen moet jou klub afrigters aanstel en betaal en nog uitgawes aangaan – net vir ’n enkelronde wedstryde teen die paar klubs wat nog oorbly.

“Hiermee saam kan die NRU in enige stadium ingryp en die liga stopsit indien iemand die regulasies verontagsaam.

“United se spelers stem saam met ons besluit. Dis nie die moeite werd om ’n afgewaterde liga vir 2020 in die oorblywende tyd te probeer inforseer nie. Kom ons begin liewer volgende jaar op ’n nuwe blaadjie.”

Wanderers se voorsitter, mnr. Willem van Zyl, sê die Wit Hingste se besluit is nie ligtelik geneem nie.

“Sodra klubs onttrek, begin raak die transaksie nie meer die moeite werd nie.

“Die situasie vir vele van ons spelers is dat hulle nou hul werksituasie moet beskerm. Verskeie se salarisse is besnoei en hulle werk oortyd en naweke.

“Die werklikheid is dat Covid-19 nog lank nie iets van die verlede is nie. ’n Rugbyspeler sal by sy werkplek mooi moet verduidelik hoekom hy dalk ’n hele maatskappy aan die risiko van inperking blootstel – om van sy naby familie nie eens te praat nie.

“Die nasionale noodtoestand is nog nie opgehef nie. Erongo is gehok, die aantal gevalle klim daagliks en ons weet nie wat die werklike stand in Windhoek is nie. Dit lyk na ’n kwessie van tyd en wie weet wanneer die regering weer gedwing word om alle kontaksport te verbied.

“Wanderers is een van verskeie klubs wat FNB Namibia as hoofborg het. My voorstel was dat die NRU ’n ontmoeting fasiliteer waar die betrokke klubs, die NRU en die borg die pad vorentoe kan deurpraat.

“Om te onttrek, is glad nie lekker nie. Ons sou bitter graag wou speel en voluit gaan. Die besluit is nie uit ons duim gesuig nie.

“Wanderers het vele planne vir ons eeufeesvieringe gehad, wat ons nou maar na 2021 moet aanskuif.

“Te veel van ons spelers is nie bereid om die risiko te loop nie en ons sal dus nie drie spanne kan volmaak nie. Die NRU het verwagtinge dat elke premierligaklub ook ’n vrouespan op die been moet bring, maar ons is reeds in die tweede helfte van die jaar. Laat ons liewer tot Januarie wag om voluit vorentoe te gaan.”

VIER SPANNE BLY OOR

FNB Unam is gereed om te speel, sê dié klub se voorsitter, mnr. Christie Windvogel.

“Ons het ja gestem om te speel. Jy kan nie ’n meerderheidstem by die NRU se algemene jaarvergadering twee weke later wil herroep nie. Dit skep ’n ongewenste presedent.

“Ek lees in ’n Engelse dagblad dat Unam ook wou onttrek. Dit is onwaar; die koerant het nie met my gepraat nie. Die universiteit volg prosesse – ons het aansoek gedoen dat die rugbystadion vir kompetisie voorberei word, maar nou lees die beamptes in die media die storie dat ons wil onttrek.”

Windvogel sê een voorstel wat as deel van die Covid-19-protokol ondersoek word, is om net twee stadions in Windhoek te ontsmet en gereed te kry om wedstryde aan te bied.

“Volgens dié voorstel sal Rehoboth-rugbyklub en Reho Falcon dan ook hul wedstryde in Windhoek kom speel. Grootfontein sal wel sy tuiswedstryde aanbied – ons sal darem nie verwag dat hulle elke naweek hierheen moet ry nie.”

In berigte elders het Rehoboth-rugbyklub se voorsitter Marschell Diergaardt gesê hulle is ywerig om te speel, terwyl Reho Falcon se spanbestuurder Deon Mouton meer versigtig geantwoord het dat van hul spelers besorg oor die risiko is en dat die klub nog met die NRU en borge moet praat.

Benewens die premierliga bied die NRU ook die reserweliga en eerste liga aan.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!