Vakbonde: SADC moet by Zim ingryp
Vakbonde: SADC moet by Zim ingryp

Vakbonde: SADC moet by Zim ingryp

Kwessies soos weerloosheid, ’n arm, maar werkende jeug, die uitbuiting van vroue en informele sake is in die hoofstad bespreek.
Augetto Graig
Augetto Graig - Dis hoog tyd dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingstreek (SADC) se arbeidsministers by die krisis in Zimbabwe ingryp.

Dít volgens me. Zingiswa Losi, president van die Suider-Afrikaanse Vakbondkoördineringsraad (SATUCC), vandeesweek tydens ’n byeenkoms van SADC-arbeidministers in Windhoek.

Sy het verlede week versoek dat mnr. Kwasi Adu Amankwah, die Internasionale Vakbondkonfederasie in Afrika (ITUC Africa) se hoofsekretaris, vrygelaat word.

Amankwah is in Februarie ná sy besoek aan die kongres van vakbonde in Zimbabwe in Harare in hegtenis geneem.

Losi het gesê die growwe skending van mense- en vakbondregte kom oor die hele streek voor, maar sedert Januarie vanjaar is die reg op die vryheid om te vergader, die reg op organisering en gesamentlike onderhandeling in Zimbabwe veral geskend.

“Ons veroordeel die Zimbabwiese regering se brutale reaksie op die protes teen brandstofprysverhogings ten sterkste,” het sy gesê.

Losi het gesê Zimbabwe het sy weermag op ongewapende, weerlose burgers losgelaat bloot omdat hulle die reg om hulself uit te druk, uitgeoefen het.

Volgens haar word vakbondleiers in dié land steeds geteiken en gevange geneem, terwyl van hulle op verhore wag.

“Dit is onaanvaarbaar vir ’n verkose regering om ’n oorlog teen sy eie mense te voer,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dit kom op “misdade teen die mensdom” neer.

Sy het geëis dat klagte teen Zimbabwe se vakbondleiers laat vaar word en dat die mense van die land se besware aangehoor word.

By die geleentheid in die hoofstad het die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Erkki Nghimtina, gesê die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) moet demokratiseer.

Dié organisasie, wat vanjaar ’n eeu oud is en gelyke regte vir lidlande verteenwoordig, was deel van verlede week se bespreking.

Nghimtina het teen die agtergrond van Wêreldvrouedag verlede Vrydag klem op die lot van vroue in die werkplek in die streek gelê.

“Hulle staar steeds onregverdige behandeling en diskriminasie in die gesig – veral by die werk. Ons as streek moet vroue met respek behandel en die erkenning gee wat hulle toekom,” het hy gesê.

“Vandag is arbeidstekortkominge oral sigbaar, en maatskaplike beskerming is onvoldoende.”

Hy het gesê die streek se regerings, besighede en vakbonde moet doelbewuste stappe doen om armoede en uitbuiting uit te wis.

Vakbonde is veral nie tevrede met vordering op die gebied van arbeidskwessies in Suider-Afrika nie.

Losi het gesê die streek se ware rykdom lê in sy werknemers, maar hulle ly honger, is kwesbaar vir siektes en armoede, is ongeletterdheid, word misbruik en het ’n tekort aan basiese lewensmiddele.

Na afloop van SADC se Decent Work-program vanjaar is daar min om oor bly te wees, het sy gesê.

Afrika ervaar die hoogste vlak van kwesbare arbeid ter wêreld teen 66%, terwyl 67% van die jeug op die vasteland as werkende armes kwalifiseer, het sy gesê.

Boonop het die SADC van die hoogste vlakke van informele sake buiten landbou, het Losi gesê.

Dit behels ’n ernstige en voortdurende uitdaging omdat informele sake die verbetering van werksomstandighede belemmer en produktiwiteit en ekonomiese ontwikkeling negatief beïnvloed, het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!