Valuta-gekonkel is uit, sê Maria Ramos
Te midde van die storm verwag Barclays Africa die volgende paar jaar goeie groei op die vasteland.
Riana de Lange - Maria Ramos, uitvoerende hoof van die Barclays Africa-groep, wat Absa besit, het die versekering gegee die groep doen alles moontlik om te keer dat daar weer 'n gekonkel met valutatransaksies is.
As dié valutahandelaars binne Absa wat verdink word van die oortreding, daaraan skuldig bevind word dat hulle gedragskodes en wette oortree het, sal hulle die gevolge dra.
Twee handelaars is reeds geskors hangende die ondersoek.
Ramos is Donderdag op 'n mediasessie oor die groep se voljaarresultate met vrae gepeper nadat die Mededingingskommissie onlangs beweerde samespanning oor die rand-dollarwisselkoers na die Mededingingstribunaal verwys het.
Die beweerde oortredings het tussen “minstens 2007-'13” plaasgevind, sê die kommissie.
Die kommissie vra vir 'n boete van 10% van die jaarlikse omset van 14 banke, waaronder die Suid-Afrikaanse banke Investec en Standard Bank.
Die kommissie vra nie vir 'n boete teen Absa nie omdat hy sy samewerking gee.
Ramos het benadruk dit is ononderhandelbaar dat werknemers optree soos vereis deur die wet en volgens die maatskappy se waardes.
Die maatskappy is daartoe verbind, het 'n verantwoordelikheid en 'n plig om met die mededingingsowerhede saam te werk – en doen dit, het sy bygevoeg. “Dit is al wat ek daaroor gaan sê.”
Songezo Zibi, kommunikasiehoof van Barclays Africa, sê vertroulikheid is een van die vereistes van Absa se ooreenkoms met die kommissie en daarom kan hulle nie nou meer sê nie.
Goeie groei verwag
Te midde van die storm verwag Barclays Africa die volgende paar jaar goeie groei op die vasteland namate hy hom vestig as 'n onafhanklike Pan-Afrika-bank ná die skeidingsooreenkoms met die Britse Barclays.
Ramos sê sakebedrywighede buite Suid-Afrika dra nou net minder as 25% by tot die groep se totale inkomste. Wesensverdienste per aandeel het in die jaar met 5% gestyg tot R14,9 miljard.
Suid-Afrikaanse bedrywighede se bydrae is 2% hoër tot R12,2 miljard en die res van Afrika s'n 17% hoër tot R2,8 miljard. Inkomste het met 8% tot R72,4 miljard toegeneem.
Jason Quinn, groep- finansiële direkteur, sê kredietafskrywings wat met 26% gestyg het, toon verbruikers is onder druk.
Die afname van 5% in nuwe huisregistrasies, asook die aansienlike daling in verkope van nuwe voertuie, word ook in die bank se boeke weerspieël.
Volgens Ramos lê 'n uitdagende jaar voor omdat verbruikers onder druk is.
Hoewel beter ekonomiese groei verwag word in Suid-Afrika en ander lande waar Barclays sake doen, sal dit nie sterk groei wees nie.
Die groep, wat sake doen in 12 Afrikalande, is optimisties oor groei in lande soos Kenia, Zambië, Botswana en Ghana.
Barclays plc en Barclays Africa het intussen ook meer besonderhede oor hul bedryfskeiding gegee. Dit volg nadat Barclays verlede jaar aangekondig hy wil sy belang in Barclays Africa tot minder as 20% verminder. Tot dusver is sy belang verminder tot 50,1%.
Ingevolge 'n ooreenkoms sal die moedermaatskappy R12,8 miljard (volgens die wisselkoers op 31 Desember 2016) bydra vir die proses om die twee te skei. Die geld sal onder meer gebruik word vir beleggings in tegnologie en om die handelsnaam te verander. Die verwagting is dat dié finansiële bydrae die kapitaal- en kontantvloei-impak van die skeiding met Barclays sal neutraliseer.
'n Skema vir swart ekonomiese bemagtiging is ook deel van die onderhandelinge, hoewel die besonderhede nog uitgeklaar moet word, sê Barclays.
Barclays plc het egter ooreengekom om 'n bedrag gelykstaande aan 1,5% van Barclays Africa se markwaarde, of sowat R2,1 miljard, vir die vestiging van so 'n skema by te dra. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie