Van die straat tot die kombuis
Henriette Lamprecht - “Ons het saam gelê op een stoep, onder een kombers. Dit was bítter dae.”
Vandag straal die 32-jarige Katriena Richter waar sy trots na haarself as die matrone van die nuut geopende Thinus Bakkes-skuiling vir haweloses in Windhoek verwys.
Nou is Katriena vir dié saam met wie sy dikwels onder kartonne teen die koue moes skuil, ’n biegmoeder en bowenal ’n voorbeeld van iets beters wat kán wag.
“Hoe moet ek vir die Here dankie sê vir wat ek gekry het? Hulle moet my voorbeeld kyk!”
Ses jaar gelede was die strate rondom die NG Moedergemeente in Windhoek die plek wat sy, haar kinders en haar kêrel “huis” genoem het. Snags het hulle skuiling op die perseel van die Metodistekerk gesoek en deur die dag is motors voor die landdroshof vir ’n inkomste gewas. Sy en haar kêrel het baie gedrink, erken sy. Soveel so dat haar oudste twee kinders deur die welsyn van haar weggevat is. Elke keer het sy besluit om die drank te los en kon sy weer haar seuntjies in haar sorg kry. Maar dan het sy en haar kêrel maar net weer die bottel nadergetrek as hulle by ouma gaan bly het.
“As ek nie gedrink het nie, dan het ek baie gejeuk, ek kon niks slaap nie.”
Van toe tot nou loop die invloed van ds. Thijs van der Merwe, sy vrou en die kerk soos ’n draad deur Katriena se lewe.
“Dominee en mevrou het my altyd dopgehou. Sondae het ek by die kerk kom ‘tiep’ en ek het altyd hier kos gekry. Mevrou Adri het later gevra ek moet help met die kosgee op Woensdae.”
Die groot ommekeer in haar en haar gesin se lewe kom in 2010 toe sy, en twee weke later haar kêrel, besluit om finaal hul rûe op drank te draai.
Haar twee seuntjies was weer terug onder haar vlerk en met die inkomste wat verdien is deur karre te was, het Katriena vir ’n eie huisie begin spaar.
Tussendeur het sy al hoe meer by die Van der Merwes se kosprojek betrokke geraak.
“Ons het N$1 365 gespaar en sinkplate gekoop en ’n baie klein huisie gebou. Twee mense van die straat vir wie ek blyplek gegee het, het onder die bed geslaap omdat die plek so klein was!” Vandag spog hul huisie met twee slaapkamers en ’n kombuis en is sy besig om ’n sitkamer aan te bou.
Drie jaar gelede het sy weer ma van ’n seun geword.
Drankmisbruik vier hoogty onder die haweloses wat sy ken en teenkom.
“Elke sent word aan drank bestee, hulle ‘worry’ niks. As hulle ophou drink, sál dinge regkom.”
By die skuiling op die perseel van die NG Moedergemeente word niemand egter toegelaat wat onder die invloed van drank of dwelms is nie. Vanaf 18:00 tot 20:00 kan haweloses hier kom aanklop vir van ’n maaltyd en ’n bed vir die nag, tot speletjies en berading. Elke persoon word geregistreer deur vrywilligers van die NG Moeder-, Windhoek-Oos- en Suiderhofgemeente sowel as Shofar Windhoek wat sewe aande per week aan diens is om ’n hand op watter manier ook al by te sit.
Die koste is N$15 per persoon per nag.
“Dit gaan oor hul menswaardigheid. “Is daar iemand wat nié kan betaal nie, sal ons hom natuurlik nie wegwys nie,” vertel Thijs.
Elkeen is verantwoordelik vir sy eie skottelgoed.
“Hulle moet weer grense kry en verantwoordelikheid neem vir hulself.”
Studente in maatskaplike werk verbonde aan die Universiteit van Namibië (Unam) gaan ook as deel van hul praktiese opleiding hul internskap by die skuiling doen, terwyl ’n teologiestudent verbonde aan die Namibiese Evangeliese Teologiese Kweekskool (NETS) op ’n permanente basis inwoon vir die oorhoofse verantwoordelikheid vir die skuiling.
Die skuiling se amptelike ‘uitsmyter’ is iemand wat reeds ’n lang pad saam met Thijs en die uitreikprogram vir haweloses stap.
“Hy was ’n langtermyngevangene en kén die ouens op die straat. Hy het homself só bewys dat hy nou deel is van ons groep hier.”
Wanneer die deure 20:00 sluit, open dit eers weer 07:00 die volgende dag.
Belonings vir goeie gedrag sluit van ’n sluitkassie tot die gebruik van ’n wasmasjien in. Die skuiling bied slaapplek aan 30 mense.
Thijs is oortuig daar is verskuilde potensiaal in álle behoeftige mense. Die geheim is om die méns agter die behoefte raak te sien.
“Daar is altyd dié wat met die hulp van ingryping en herintegrasie in die samelewing gerehabiliteer kan word.”
Vir navrae kontak Thijs by [email protected] of 081 124 3641.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie