Van Schalkwyk spring tronkstraf vry
Van Schalkwyk spring tronkstraf vry

Van Schalkwyk spring tronkstraf vry

Die strafverhoor is Vrydag met vonnisoplegging afgehandel, maar nou lê ‘n siviele eis van N$11 miljoen vir Jacobus van Schalkwyk en sy ouers voor.
Sanet de Waal
Marc Springer

Byna vyf jaar nadat die 18-jarige Dunja von Dewitz in ‘n motorongeluk gesterf het en haar kêrel, Roedolf Jaco (RJ) Visser, ernstig beseer is, kon haar ouers berusting vind in die wete geregtigheid het geskied.

Jacobus van Schalkwyk (23), bestuurder van die voertuig, is Vrydag in die streekhof in Windhoek ‘n boete van N$20 000, alternatiewelik vier jaar tronkstraf, opgelê vir sy skuldigbevinding aan strafbare manslag.

Hy is ook tronkstraf van twee jaar opgelê, wat opgeskort is vir vyf jaar. Dit beteken as hy ‘n soortgelyke oortreding in die volgende vyf jaar begaan, tree die tronkstraf in werking.

Landdros Alexis Diergaardt het tydens vonnisoplegging gesê Van Schalkwyk verdien ‘n tweede kans en sy het hom gemaan om die beste daarvan te maak.

Me. Erna von Dewitz, Dunja se moeder, het voor vonnisoplegging getuig hoewel haar dogter se dood hul as familie verpletter het, wil hulle nie sien dat Van Schalkwyk tronk toe gaan nie. Sy het gesê hulle is verlig dat hy skuldig bevind is, want dit het vir hulle ‘n mate van afsluiting gebring.

Die ongeluk het op 15 Oktober 2016 omstreek 01:30 in Mandume Ndemufayorylaan in Windhoek plaasgevind. Dunja en RJ was passasiers in ‘n Ford Figo wat deur Van Schalkwyk bestuur is. Hy het beheer oor die voertuig verloor en ‘n ongeluk gemaak. Dunja is op slag dood en RJ is ernstig beseer.

Aangesien Van Schalkwyk na bewering die toneel van die ongeluk verlaat en die polisieondersoek lank gesloer het, is hy eers weke later as die bestuurder geïdentifiseer en aangekla.

Ná sy eerste verskyning op 12 Desember 2016 is die verhoor verskeie kere uitgestel en in Julie 2017 van die rol verwyder toe verskeie dokumente soos die nadoodse ondersoek en verklarings deur getuies nog nie beskikbaar was nie. Dit is weer later op die hofrol gevoeg.

In ‘n siviele verhoor wat nog hangend is, eis die Von Dewitz- en Visser-ouerpaar N$11 miljoen van Van Schalkwyk en sy ouers. Hulle voer in hofstukke aan hy was onder die invloed van alkohol agter die stuurwiel en het teen ‘n hoë spoed gery. –[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!