Van wie sal ons hulp kom?

Sou alle geregistreerde kiesers eerskomende Woensdag hul kruisies trek, is die lot van die land in 1,3 miljoen Namibiërs se hande.
Denver Kisting
face="Verdana">





Denver Kisting – Sy was in 1989 laas so opgewonde oor ’n verkiesing.

Dít was die woorde van me. Yvonne Dausab, voorsitter van die Kommissie van Regshervorming, etlike maande gelede op nasionale televisie.

Oor vyf dae gaan die land stembus toe om op ’n man – en vir die eerste keer moontlik ’n vrou – te besluit wat die land vir die volgende vyf jaar sal lei.

Terselfdertyd moet die land ook besin oor die meer as 90 lede van die Nasionale Vergadering (NV), die land se hoogste wetmakende liggaam.

Naas die National Unity Democratic Organisation (Nudo) se vrouekandidaat, me. Esther Muinjangue, word ander geskiedenis ook vanjaar gemaak.

Die land – en die regerende party – het nog nie gesien dat ’n onafhanklike kandidaat sy naam in die EVM-pot plaas in die hoop dat die meeste van die 1,3 stemgeregtigdes wat wel volgende week gaan stem, hul kruisie langs ’n onafhanklike presidensiële kandidaat trek nie.

Wat hierdie kandidaat, dr. Panduleni Itula, merkwaardig maak, is dat hy verseg om uit Swapo te bedank en oor geen noemenswaardige uitgebreide politieke ervaring beskik nie.

Itula is ’n tandheelkundige wat baie tyd buite Namibië se grense deurgebring het en vanjaar ses jaar terug in die land is.

Maar hy is vasbeslote om Namibië se vierde demokraties verkose president te word.

Sowat twee weke gelede het Eagle FM, ’n bloedjong geselsradiostasie ook met ’n eerste na vore gekom toe hulle die presidensiële kandidate uitgenooi het om aan ’n voorverkiesingdebat deel te neem sodat kiesers uit die perde se bekke self kan hoor hoe hulle die land uit sy ekonomiese ellende wil red en korrupsie wil nek omdraai.

Hulle is veral deur die gehoor gepols oor hul standpunt wat menseregte, spesifiek die regte van minderheidsgroepe, betref.

Dit het gou rugbaar geword pres. Hage Geingob, die huidige staatshoof, sien nie vir dié platform kans nie.

Geen amptelike rede is in die openbare domein geplaas nie.

Itula het daarná laat weet as Geingob nie daar gaan wees nie, stel hy ook nie belang nie.

Dít kom nadat hy aanvanklik die organiseerders laat weet het hy’s daar – kom wat wil.

Die sosialemediagort was onmiddellik gaar toe Itula se stoel op die verhoog van die stampvolgepakte Nasionale Teater van Namibië (NTN) leeg was. Dit was met opset om aan te dui Itula se kansellasie het hulle ter elfder ure bereik, het me. Ndapewoshali Shapwanale van Eagle FM gesê.

Me. Gwen Lister, veteraanjoernalis en voorsitter van Namibia Media Trust (NMT), waaronder The Namibian ressorteer, het Itula op Twitter bygekom oor wat sy as lelike maniere beskou.

Haar kommentaar was in reaksie op ’n plasing van hom op dié bondige platform dat hy met Kandidaat X (oënskynlik Geingob) ’n appeltjie te skil het en nie met die res nie.

Die tandedokter het kort daarná wel by die NTN opgedaag, maar is toegang tot die verhoog geweier omdat die gesprek toe reeds aan die gang was.

Republikein het berig hoe die polisie hom glo uit die teater moes begelei toe hy na bewering tekens van oproerigheid wou openbaar.

Kandidate sê hul sê

Nudo se Muinjangue het aan die gesprekleier, mnr. Wonder Guchu, gesê sy meen die land se ekonomiese verknorsing is niks nuuts nie. “Ek is oortuig dit het lank terug begin. Tien jaar ná onafhanklikwording het ons begin sien dinge loop nie goed in die land nie. Die enigste rede is dat ons voorgee ons is ’n multipartydemokrasie,” het sy gesê.

Namibië is inderwaarheid ’n eenpartystaat, meen sy.

“En ons weet van korrupsie in die land. Ons weet van die baie miljoene wat uit die land verdwyn. Groot name word beskerm.”

Boonop, sê Muinjangue, word mense van instelling A na instelling B “herwin” wanneer hulle nie presteer nie, “terwyl ons produktiewe jeugdiges het” wat werkloos is.

’n Ander uitdaging wat die land se ekonomie kniehalter, is nepotisme, sê sy.

“Trouens, dis ’n omgekeerde apartheidstelsel wat ons het. Wanneer dit by tenders kom, gaan dit net in een rigting.”

Sy sê gegewe die land se magdom natuurlike hulpbronne, maak dit geen sin dat hordes mense in sinkhuise bly nie.

As ’n maatskaplike werker meen sy ál die land se psigomaatskaplike probleme, soos werkloosheid, armoede en geslagsgegronde geweld, hou met mekaar verband.

Nudo, sê sy, wil dit hul werk maak om Namibiërs se waardigheid te herstel. “Dit is tyd vir verandering en transformasie. Dit is tyd om alternatiewe politiek te lewer.”

Om sy land se mense se potensiaal te ontgin, behoort enige regering se verantwoordelikheid te wees, sê Muinjangue.

Volgens haar het Swapo tydens hul bykans 30 jaar lange heerskappy werk vir hul kamerade geskep.

Sy sê die wysiging van die Grondwet om die aantal lede van die Nasionale Vergadering (NV) te verhoog, het juis dit ten doel gehad.

Boonop is daar te veel herhaling in die staatsdiens, sê sy.

Die ministeries van gesondheid en maatskaplike dienste; geslagsgelykheid en kinderwelsyn; veteranesake; en armoedeverligting het baie oorvleuelende funksies, sê sy.

Sy wou ook weet hoekom die Teenkorrupsiekommissie (ACC) en die kantoor van die ombudsman nie kan saamsmelt om meer doeltreffend en vaartbelyn te wees nie. Die ACC is in elk geval ’n bulterriër sonder tande, meen sy.

Muinjangue sê sy verstaan eweneens nie hoekom Namibië ’n ministerie van onderwys, kuns en kultuur én ’n ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing moet hê nie.

“Dis nie nodig nie. So baie van die goed wat die regering doen, dra tot onnodige besteding by. Selfs die president se raadgewers is nie nodig nie. Dis om seker te maak iemand het brood op die tafel, maar wat van gewone Namibiërs?”

Met Chinese kontrakteurs wat volgens haar die boubedryf oorgeneem het, baat Namibiërs kwalik meer by dié sukkelende bedryf. Van ’n oordrag van vaardighede is daar geen sprake nie, sê sy.

Dié opposisieleier het op ’n vraag van ’n lid van die gehoor oor hul standpunt oor die regte van lesbiese, gay, biseksuele en transgender mense gesê ’n gesprek rondom die LGBT-vraagstuk is nodig.

’n Kopskuif is iets wat ’n proses is en nie oornag gebeur nie, het sy gesê. En seks bly volgens haar steeds in baie huise ’n taboe.

Die president van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, meen die meeste staatsdiensondernemings (SOE’s) in Namibië doen nie hul werk nie.

Buitendien het talle SOE’s tans waarnemende uitvoerende hoofde.

Van dié liggame word gevolglik deur raadsvoorsitters gelei, wat nie daagliks met hul werksaamhede gemoeid is nie.

En, sê hy, baie kan nie sonder regeringshulp en -ingryping kop bo water hou nie.

Volgens Venaani was die kandidate wat die presidensiële debat misgeloop het “polities onverantwoordelik”.

Hy sê die land se ekonomie is op sy knieë vanweë onder meer Namibië se oorafhanklikheid van die Suider-Afrikaanse Doeaneunie (Sacu) se inkomste.

Die regering belê ook veels te veel in nywerhede wat geen vrugte afwerp nie, sê hy.

’n Voorbeeld hiervan is volgens hom die sukkelende Air Namibia. Hoe die nasionale lugredery bedryf word, is syns insiens nie volhoubaar nie.

Die PDM, voorheen die Democratic Turnhalle Alliance (DTA), beplan ’n beleid van “minimum regering (government) met maksimum leiding (governance)”, sê hy.

Die regering moet leer om weg te bly uit ruimtes wat veronderstel is om sakeinstellings te wees, sê Venaani. “Dis nie die regering se werk om besighede te bedryf nie. Dis die private sektor se werk. Die regering kan wel strategiese bates bestuur.”

Swapo, sê Venaani, leer nie. “Die regerende party luister nie na rede nie. Rede is nie hul politiek nie,” sê hy.

Hy gee sy Nudo-eweknie gelyk oor die herwinning van onbevoegde mense, maar vat dit ’n stappie verder.

“Ons herwin dieselfde korrupte mense.”

Dié debat was ure voor The Namibian die sogenaamde fishrot-skandaal oopgevlek is, wat tot die bedanking van die minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, en die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernhard Esau, gelei het.

Dié oudministers was na bewering voor in die koor toe ’n Yslandse maatskappy omkoopgeld vir Namibiese viskwotas betaal het.

Venaani het hom voorts beroep op ’n beleid dat mense net in een SOE-raad mag dien.

Daar moet ook indringend gekyk word na die salarisstruktuur van dié liggame se uitvoerende hoofde. “Waar ’n uitvoerende hoof nie presteer nie, kan hy nie ’n Ohlthaver & List-salaris verdien nie. Alles waaraan hierdie regering raak, word in die grond in bestuur,” sê hy.

Sy antwoord op die LGBT-vraag was dat die PDM gayregte steun. Trouens, het hy aangevoer, hulle was die eerste politieke party om dít te doen.

Die Rally for Democracy and Progress (RDP) se mnr. Mike Kavekotora het gesê ernstige planne moet gemaak word om die regering se salarisrekening kleiner te maak. “Staatsamptenare is verbruikers van die geld wat hulle nie maak nie. Die land se ekonomie word nie en moenie deur staatsamptenare beheer word nie.”

Hy stem saam met Venaani en Muinjangue dat baantjies vir boeties aan die orde van die dag is.

Dit keer volgens hom dat die salarisrekening, wat die helfte van die staat se uitgawes beslaan, onder beheer gebring kan word. “Die regering gebruik die staatsdiens om werk vir sy eie mense te skep. En hulle lewer nie die dienste wat van hulle verwag word nie.”

Kavekotora sê die Swapo-geleide regering beskik nie oor die politieke wilskrag om die salarisrekeningtameletjie te pak nie. “Hulle kanaliseer eerder geld uit ’n produktiewe ekonomie na ’n onproduktiewe sektor.”

Hy gee egter toe die salarisrekening moenie drasties verminder word nie. Dit moet eerder geleidelik geskied, sê hy. “Die eerste ding is om die ekonomie te laat groei om regverdige verdeling van hulpbronne teweeg te bring.”

’n Menselikehulpbronne-oudit is nodig en die dooie hout móét uitgeskop word, meen hy.

“Ons bestee geld wat ons nie het nie. Ons lewe nie binne ons middele nie. Ongebore kinders sal die skuld dra van die wanbestuur van die ekonomie.”

Mnr. Bernadus Swartbooi, leier van die Landless People’s Movement (LPM), sê die regering se skuld het buite beheer geraak.

Boonop, sê dié oud-Swapo-adjunkminister, bly die begrotingstekort klim.

“Ons bestee asof daar geen môre is nie.”

Daar het dadels gekom van talle van die regering se inisiatiewe om die land te bou, sê hy. “En ons het konsekwent gaan leen om hierdie tipe roekelose besteding te finansier.”

Hy meen ook ’n oudit is nodig om te bepaal of Namibië regtig so baie staatsamptenare nodig het.

Volgens hom moet dié kategorie werknemers aangemoedig word om op 55 jaar af te tree. “Dit sal hulpbronne beskikbaar stel.”

Swartbooi sê hy is baie seker die huidige besuinigingsmaatreëls sal die armes, “wat letterlik weens hongersnood kan doodgaan”, verder in ellende dompel.

Onder die LPM sal daar niks meer as 12 ministers wees nie, het hy gesê. Die eertydse adjunkgrondminister meen adjunkte is oorbodig.

SOE’s wat nie die pyp rook nie, moet gelikwideer word, sê hy.

Swartbooi meen ook die land se jeug het genoeg swaargekry. “Dit is tyd om op die jeug te fokus.”

Die strukturele hindernisse om sake in Namibië te bedryf, verdien aandag, sê hy.

Hoewel die LPM reeds ’n geruime tyd oor die gaykwessie besin, het hulle nog geen beleidstandpunt ingeneem nie.

Maar, sê hy, hy glo nie in diskriminasie nie. “Diskriminasie is pynlik.”

Hy het Namibiërs uitgenooi om voorleggings te doen wat die LPM aanstaande jaar op sy beleidsberaad onder die loep kan neem.

Dr. Tangeni Iiyambo is Swanu, die land se oudste party, se presidensiële kandidaat.

Hy meen die tyd het aangebreek dat Namibiërs Namibië lei.

Daar is volgens hom té veel twyfelagtige ooreenkomste met buitelandse magte gesluit.

Swapo, sê Iiyambo, is niks anders as arrogant nie.

Lede van die LGBT-gemeenskap is welkom in die Swanu-huis, het hy gesê. “Regte is onverdeelbaar.”

Voor volgende Woensdag moet ’n paar goed nog gebeur.

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) se hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, het opnuut die afgelope week gesê hul masjinerie is gerat.

Maar Maandag moet die verkiesingstribunaal eers sê of elektroniese stemtoestelle (EVM’s) wel op 27 November gebruik mag word.

Itula het dié week die ECN voor die tribunaal gedaag omdat hy meen dié masjiene kan nie vertrou word.

Maar alle aanduidinge is Namibiërs sal oor ’n week weet van wie hul hulp vir die volgende vyf jaar sal moet kom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!