Varkgriepbyt kring uit
Varkgriepbyt kring uit

Varkgriepbyt kring uit

’n Mediese kenner het gister gesê Namibië ervaar inderdaad tans ’n uitbreking van varkgriep – ’n wending waarteen die gesondheidsministerie kapsie maak.
Denver Kisting
Denver Kisting – Teen gistermiddag het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gesê laboratoriumtoetse het bevestig vyf mense het varkgriep onder lede.

Een van dié pasiënte verkeer steeds in ’n bedenklike toestand in die intensiewesorgeenheid van ’n Windhoekse hospitaal.

Die waarnemende permanente sekretaris van gesondheid, me. Petronella Masabane, het gistermiddag gesê vier van die vyf pasiënte word tans in hospitale vir dié siekte behandel.

Vier is volgens haar afkomstig van Rehoboth, terwyl een ’n inwoner van die hoofstad is.

Volgens ’n verklaring, wat Masabane uitgereik het, is twee gevalle vroulik en drie manlik.

Dít kom nadat dr. Bernard Haufiku, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, eergisteraand reeds die eerste geval bevestig het.

Masabane sê die vyf pasiënte is tussen ses maande en 45 jaar oud.

Dít kom te midde daarvan dat ’n familielid van die pasiënte uitgevaar het teen wat hulle as verwarrende en teenstrydige inligting bestempel.

Volgens haar sou die kritieke pasiënt nie so siek gewees het as hy uit die staanspoor die regte behandeling ontvang het nie.

Masabane sê die eerste geval is op 22 Junie by ’n private hospitaal aangemeld.

Die man, wat reeds die afgelope week om sy lewe veg, se toestand was gistermiddag steeds kritiek.

Volgens Republikein se bron is dié man se negejarige seun intussen ook met die virus gediagnoseer.

Die volwasse man word na wat verneem word in ’n kunsmatige koma gehou en is aan ’n ventilator gekoppel.

Sy identiteit is aan die koerant bekend.

Masabane het gister gesê tydens die laaste uitbreking van varkgriep in Namibië is meer as 8 000 gevalle aangemeld. Volgens haar is 102 gevalle hiervan positief as varkgriep gediagnoseer.

In daardie stadium, sê sy, is Ohangwena, Omusati en ||Kharas die swaarste getref.

Volgens die webwerf van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is een mens tydens daardie uitbreking dood.

SIMPTOME

Die tekens en simptome van varkgriep sluit onder meer ’n koors bo 38 grade Celsius, hoes, seer keel, loperige of toe neus, rooi, tranerige oë, lyfpyn, moegheid, diarree en naarheid en vomering in.

Volgens Masabane word varkgriep hoofsaaklik deur hoes en nies oorgedra of deur direkte kontak met oppervlakte wat besmette druppels bevat.

In die verklaring raai sy mense aan om hulle te laat inent teen varkgriep, eerder in die driekhoek van jou elmboog te nies of hoes en nie in jou hande nie, baie vloeistowwe in te neem en deeglik hande te was.

Haufiku het Woensdagaand gemaan mense moenie paniekerig raak nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!