Vegas-skieter se vriendin se ‘gewete is skoon’

Stephen Paddock (64), die Las Vegas-skieter, het vermoedelik vir Marilou Danley (62), sy lewensmaat, ’n vliegkaartjie na die Filippyne gekoop sodat hy ongehinderd die massaskietery kon beplan, het ’n familielid van haar aan CCN gesê.

Paddock het Sondagaand in Las Vegas in die Amerikaanse deelstaat Nevada 59 mense vanuit ’n kamer in die Mandalay Bay-hotel doodgeskiet en honderde mense gewond.

Dit word bestempel as die grootste massaskietvoorval in die Amerikaanse geskiedenis.

Danley, ’n boorling van die Filippyne, was bekommerd daaroor dat Paddock hul verhouding wil verbreek omdat hy ook $100 000 aan haar gestuur het om ’n huis vir haar en haar ouers te koop.

The New York Times berig sheriff Joseph Lombardo, woordvoerder van die metropolitaanse polisie in Las Vegas, het Woensdag aan verslaggewers gesê daar is bewyse dat Paddock beplan het om ná die skietery te ontsnap.

Lombardo sê hy vind dit moeilik om te glo Paddock kon so ’n grootskaalse skietery beplan sonder dat iemand iets geweet het.

“Ons moet die afleiding maak dat hy in die een of ander stadium hulp gehad het,” sê Lombardo.

Twee amptenare wat betrokke is by die ondersoek het egter aan Reuters gesê daar is geen bewyse dat Danley geweet het van Paddock se planne nie.

Matthew Lombard, Danley se prokureur, het Woensdag in Los Angeles haar verklaring aan die media voorgelees.

“Hy het nooit iets aan my gesê of iets gedoen waarvan ek bewus was wat as waarskuwing kon dien dat so ’n verskriklike ding gaan gebeur nie.”

Lombardo sê wat die polisie wel van Paddock weet, is dat hy dekades lank vuurwapens en ammunisie bymekaargemaak het en ’n geheime lewe gelei het.

Danley se broer, Reynaldo Bustos, het in die Filippyne in ’n TV-onderhoud met ABC News bevestig Danley sê sy het ’n skoon gewete.

Paddock se jonger broer, Eric ,het in ’n reeks teksboodskappe aan Reuters gesê sy broer en Marilou het jare gelede by ’n kasino ontmoet.

Sy het daar as gasvrou gewerk en die welgestelde Paddock was ’n gewaardeerde kliënt van die kasino.

Eric sê ook in een van die teksboodskappe hy glo dit is heel moontlik dat Danley niks van sy broer se planne af geweet het nie.

Eric sê Danley was simpatiek teenoor Paddock, wat met allergieë gesukkel het.

“Stephen was so ’n belangrike kliënt van die kasino’s waar hy gereeld gekom het dat personeel sy kamer se matte net met water gewas het omdat hy so allergies vir chemikalieë was,” sê Eric.

Die rede waarom Danley so vaal op die mediafoto lyk, is omdat sy ter wille van Paddock nie parfuum of haarsproei kon gebruik nie omdat dit hom so geaffekteer het, sê Eric. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!