Veld tot kantoor
Eers was sy 'n kaalvoet bokoppasser. Nou is sy areabestuurder vir 'n toptoerismemaatskappy in die Kunenestreek.
Tanja Bause - Me. Lena Florry het vir haarself gesê om die geleentheid met beide hande aan te gryp, want sy was nie van plan om ooit weer bokke op te pas nie. Dit is hoe sy van 'n bokoppasser tot 'n areabestuurder by 'n bekende toerisme-onderneming gevorder het.
Sy is in die Noord-Kaap gebore en is saam met haar familie in 1974 saam met ander Riemvasmakers in die destydse Damaraland gevestig.
“Ons was nege kinders en saam met ons ouers is ons op die plaas Driefontein gevestig,” sê sy.
Florry het haar skoolloopbaan op Bergsig begin en dit op Khorixas voltooi.
“Ná ek skool klaargemaak het, het ek teruggekeer plaas toe. My ouers het nie geld gehad dat ons verder kon studeer nie. Hulle het van hulle bokke verkoop sodat sommige van ons kinders kon skool toe gaan, maar nie almal kon skool toe gaan nie,” sê sy.
Dit was nou Florry se beurt om bokke op te pas sodat die kinders wat na die diere gekyk het terwyl sy in die koshuis en op skool was, 'n ruskans kon kry.
“My dag het elke dag soos volg verloop: Ek moes douvoordag opstaan en die bokke melk. Dan moes ek vir my ouers drinkgoed, dit is nou tee en koffie, maak. Dan het ek die pot pap aangeslaan voordat ek my hoed opgesit het en my hond gevat het, en saam is ons twee met al die bokke veld toe. Die aand so om 17:00 het ons teruggekeer huis toe,” het Florry gesê.
“Ek het sonder skoene agter die bokke aangeloop. Ek is elke dag kaalvoet oor die Torra-klippe. Kyk na my voete. Hulle is verskriklik groot van so oor daai klippe loop,” het sy laggend gesê.
Florry het elke dag vroualleen haar ouers se bokke opgepas.
In 1996 het die eerste onderhandelinge tussen die Torra-bewaringsgebied en Wilderness Safaris begin.
“Die mense in die Torra-bewaringsgebied was baie opgewonde oor die werkgeleenthede wat geskep sou word met die opening van die lodge en almal wou daar gaan werk.
“Die raadslede van die gebied het besluit net een lid van 'n gesin kon vir die werk aansoek doen, sodat dit regverdig is en almal daarby kan baat.”
Florry het haar CV ingestuur en aansoek om 'n kelnerpos gedoen.
“My broer was een van die kinders wat nie skool toe kon gaan nie, en ek moes die bokke oppas, so daar is besluit dat hy die kelnerpos sal aanvaar.”
Volgens Florry het hulle as kinders nooit sakgeld gekry nie en dit was die eerste keer dat haar broer geld verdien het. Hy het ongelukkig begin drink en sy werk verloor.
“Wilderness het my onthou en my genader en gesê ek moet vir opleiding kom. Dit was in 1997, ses maande nadat die Damaraland Camp geopen is, en die jaar wat my lewe verander het.
“Ek was 'n regte bosmeisie toe ek met die opleiding begin het. Ek het nog nooit so iets gesien nie en het myself aan alles verkyk. Ek het gewonder wat eet witmense en wat doen hulle by so 'n lodge. Ek het niks geken nie,” sê sy.
Florry kon nie Engels praat nie en het vinnig besef dit is 'n taal wat sy in die toerismebedryf nodig gaan kry.
“Ek het my bestuurder genader en haar gevra om vir my Engels te leer. Ek het 'n lys in Afrikaans gemaak.
“Op die lys het goed soos 'good morning', 'green salad' en 'how are you?' gestaan. Sy het die Engelse woorde langsaan geskryf. Ek het hulle geleer en sodra ek hulle onder die knie gehad het, het ek 'n nuwe lys vir haar gegee. So het ek myself Engels geleer.
“Ek het vir myself gesê ek moet die geleentheid met beide hande aangryp. Ek sal dit nie verspil nie, want dan moet ek weer bokke gaan oppas en dít was ek nie van plan om ooit weer te doen nie.”
Volgens Florry was sy elke oggend vroeg by die werk en laaste in die bed, want sy wou nie hê die gaste moet ongelukkig wees nie - alles moes perfek wees.
In 2000 is sy as assistentbestuurder van Damaraland Camp aangestel.
Dié pos het sy vir 12 jaar beklee.
Florry is die afgelope paar jaar areabestuurder vir Wilderness Safaris.
Dit sluit die Damaraland Camp-, Doro Nawas Camp- en Rhino Camp-lodges in.
“Die vennootskap tussen Wilderness en die bewaringsgebiede het ons lewens verander. Ek weet hoe ek grootgeword het en hoe my ouers gesukkel het. Nou deel ek my salaris met hulle en hul lewens het ook verbeter. My twee kinders is in die koshuis op Khorixas en beide gaan skool toe en hoef nie bokke op te pas nie,” sê sy.
Florry is in 2005 as die toerismebedryf se Mej. Persoonlikheid aangewys - iets waarop sy baie trots is.
“Almal wil in Windhoek gaan werk, maar daar is werk in jou gemeenskap. Dit is waar ek begin het en nou kan ek iets teruggee,” het sy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie