Velle langs die pad hou potte aan die kook
Velverkopers sê dis lorriedrywers wat so mors
Tanja Bause
“Ek ry ten minste een keer per week daar verby met ’n bus vol toeriste. Was nog altyd te skaam om daar te stop. Behalwe vir vuil omgewing vertoon die tannies ook glad nie so goed nie. Julle is ons beeld na buite.”
Só het ’n leser onlangs per SMS vir Republikein laat weet rakende die vroue wat velle by Duineveld verkoop.
Maar ná ’n onverwagse besoek buite Mariental aan dié vroue, het Suiderland egter die teenoorgestelde gesien.
Die gebied langs die hoofpad waar hulle hul produkte vertoon, is netjies. Die vroue lyk versorg, hoewel hulle ou klere dra wat al beter dae gesien het.
“Ons bly op Duineveld sowat vier kilometer van die hoofpad. Daar is nie klerewinkels daar nie en dus dra ons maar wat ons het,” het me. Amelie Titus by navraag gesê.
“Ons verkoop ons produkte en as ons geld maak, gee ons dit eers op ons kinders en hulle opvoeding uit en nie op nuwe klere wat ons in Mariental moet gaan koop nie. Ons klere is wel oud, maar dit is skoon. Ons kan tog nie met Sondagrokkies, hoëhakskoene en ons velle vier kilometer op die grondpad kom stap nie.”
Ouma Anna Cloete het reeds in 1914 met die verwerking van die velle op Duineveld begin om ’n inkomste vir haar familie te skep. Die vaardighede is van geslag tot geslag oorgedra en vandag is daar 13 mans en vroue wat só ’n bestaan maak.
Die mans bly op Duineveld en looi die springbok- en skaapvelle. Die vroue neem beurte om die velle in kussings, matte, onderbaadjies, tafeldoeke, rokke en diesmeer te verwerk en dit langs die hoofpad te verkoop. Hulle doen alle werk met die hand, wat beteken die Duineveld-produkte is ’n 100 persent handgemaakte Namibiese produk.
Die Duineveld-projek het ’n paar jaar gelede masjiene vir die looi van die velle van die Duitse regering ontvang. “Dit maak ons werk makliker en nou kan ons meer produseer,” het me. Eva Bezuidenhout gesê.
Die vroue stap elke oggend met hulle produkte na die pad om besigheid te doen en saans neem hulle alles weer huis toe. Só moet hulle ook al hul water vir die dag saamdra.
“Baie oggende as ons hier aankom, is die plek vuil.”
Die vroue se verkoopplek is langs die hoofpad en in die nag stop swaarvoertuigbestuurders daar om te oornag. Daar is geen vullisdromme nie en die manne los dikwels hul vullis langs die pad.
“Ons tel dit maar op en vat dit Duineveld toe, want ons kan mos nie tussen vullis werk nie. Miskien het die skrywer van die SMS vroeg in die oggend verbygery toe ons nog nie skoongemaak het nie,” het me. Elma Tities gesê.
Die vroue is elke dag vanaf 07:00 tot 19:00 op hul pos. Volgens hulle is Namibiërs hul grootste kliënte.
“Toeriste en Suid-Afrikaners koop min by ons. Dit is ons eie mense wat ons aan die lewe hou,” het me. Shannon Jacobs gesê.
“Mevrou, ons is arm en dalk nie goed genoeg aangetrek nie. Maar ons werk elke dag vir ons geld. Ons steel nie en ons bedel nie. Ons wil niks van niemand verniet hê nie,” het me. Amelie Titus afgesluit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie