Verpleegster vertel van Covid-19-pyn
Denver Kisting – “Ek sou myself nooit vergewe het nie as ek vir haar die virus gegee het.”
Só sê die verpleegster (geval 14) wat Covid-19 opgedoen het toe sy ’n Duitse burger (geval 3) behandel het in die private Windhoekse hospitaal waar sy werk.
Sy en haar man se agtjarige dogtertjie het ’n outo-immuunsiekte wat haar gestel kwesbaar maak.
Dat sy moontlik hul kind se gesondheid in die gedrang kon laat kom het, het haar emosioneel geknak, sê sy.
Dit het daartoe gelei dat sy, terwyl sy in isolasie was, etlike dae gehospitaliseer moes word waartydens sy suurstof ontvang het en op ’n drup was.
Haar man is ’n polisiebeampte wat by Staatshuis diens doen.
Die vrou is die afgelope naweek met haar gesin herenig nadat sy langer as twee weke in isolasie weg van hulle moes deurbring.
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het in die spervuur beland oor hoe hulle die vrou se geval hanteer het.
Sy het Donderdagoggend via sosiale media vasgestel dat sy glo herstel het.
Dít terwyl sy in daardie stadium steeds in isolasie was.
Dr. Theo-Ben Kandetu van die gesondheidsministerie het tydens ’n terugvoeringsessie by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) aangekondig die verpleegster word as gesond geag nadat sy negatief getoets het.
Sy het Vrydag van ’n isolasiefasiliteit naby die Internasionale Lughawe Hosea Kutako vertel van haar ontbering die afgelope weke.
Volgens haar het sy op 17 Maart die Duitse pasiënt behandel.
Sedert sy Covid-19-status rugbaar geword het, is sy ook vir die virus getoets.
In daardie stadium het sy nog geen simptome gehad nie. Sy het haarself egter tuis probeer afsonder hoewel sy steeds ’n badkamer en ’n kombuis met haar gesin gedeel het.
Omrede dié toetsuitslae onbeslissend was, is die monster Suid-Afrika toe gestuur om ook daar getoets te word, sê dr. Dave Uirab, die uitvoerende hoof van die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP).
Die vrou sê sy het toe simptome begin ontwikkel. Hoewel sy dit verwag het, het dit haar emosioneel geknou. “Ek het gehuil en gehuil.”
Sy is toe gekontak en gevra om vir ’n volgende toets te kom, omdat daar nie vir die toetsuitslae uit Suid-Afrika gewag kon word nie.
Beamptes van die gesondheidsministerie het haar van haar huis af na die Robert Mugabe-kliniek begelei, sê sy.
Sy is sedert daardie dag by ’n isolasiefasiliteit in Eros gehuisves.
Die tweede NIP-toets was positief hoewel die toets met die aanvanklike monster wat in Suid-Afrika gedoen is, negatief was.
Uirab het dit Vrydagaand bevestig. Ondanks dié teenstrydige toetsuitslae is sy as ’n Covid-19-geval beskou.
Aangesien daar ander mense by die fasiliteit in Eros was, wat nie die virus onder lede het nie, is sy verlede week oorgeplaas na die fasiliteit naby die lughawe waar die Roemeense egpaar (geval 1 en 2) ook gehuisves word.
Sy is op 14 April weer getoets. Hoewel dié negatiewe uitslae eers laat die volgende dag aan haar gekommunikeer is, het Kandetu vroeër daardie dag by die CCC gesê sy het herstel.
Die vrou is toe ná die aankondiging wéér getoets en het Vrydagaand vasgestel dié toets was ook negatief.
Sy kon toe huis toe gaan. “Dit gaan goed, dankie, bly om weer tuis te wees. Ons het na mekaar verlang, maar ek is bly alle uitslae is negatief,” het sy Saterdagoggend aan Republikein gesê.
Kandetu het ook verlede week onthul die Roemeense egpaar, wie se toetsuitslae omstreeks 21:00 op Vrydag 13 Maart bekend was, het steeds nie van die virus herstel nie. Dít is in teenstelling met ’n vroeëre weergawe van dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste.
Mnr. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van dié ministerie, het Vrydagaand gesê geval 15 en 16 het ook intussen herstel.
Dít bring die aantal aktiewe gevalle op 10 te staan. In dié stadium het Namibië 16 positiewe gevalle aangeteken, terwyl niemand nog amptelik weens die coronavirus dood is nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie