Vigus sal hom nog bewys
Dirk Jordaan
Die mededingende plaaslike mark vir 4X4-dubbelkajuitbakkies het so ’n tydjie gelede nog ’n deelnemer bygekry.
Die Vigus gaan die stut in die span van JMC, invoerder van Chinese Jiangling-voertuie, wees en al is die speelveld nog nie heeltemal gelyk nie, gaan hy homself bewys.
Hoewel die Vigus vloeiende lyne en omvouhoofligte het, is sy stilering, soos die meeste Chinese voertuie, ’n jaar of wat agter dié van sy mededingers. Maar daar skort niks met sy bougehalte of funksionaliteit nie.
Hy lyk en voel stewig en die allooivellings van 16” beteken jy kan behoorlike veldrybande opsit, sou jy wou. Hy het ook ’n dun, plastiekbedekte rolstaaf en vragankers aan die buitekant van die laaibak, asook ’n trappie al langs die kajuit af.
Die laaibak se kante is hoog, maar die bak lyk kleiner as sy mededingers s’n. By nadere ondersoek blyk dit toe inderdaad so te wees: Volgens die spesifikasielys is die laaibak presies vierkantig – 1 475 mm by 1 475 mm.
Die verlies daar beteken egter ’n wins op ’n ander plek. Die kajuit is ruim met genoeg beenspasie en is funksioneel toegerus. Sy binnekant herinner aan die Chinese sportnutsvoertuie. Ek wonder juis of die paneelbord nie by een van hulle geleen is nie.
Die Vigus is in twee afwerkingsvlakke beskikbaar. Die hele modelreeks het sluitwerende remme en lugsakke voor.
Hy is net met ’n handratkas te kry – maar dit stel nie teleur nie. Wisselings is glad en positief.
Die Vigus voel soos ’n bakkie behoort te voel – stewig op die pad, maar met ’n stuur wat lig genoeg is om dinge gemaklik te hou. Sy draaisirkel is wel groot en jy moet mooi beplan, of onder sekere omstandighede heen en weer, vorentoe en agtertoe.
Soos sommige van sy stalmaats, maak die Vigus vir enjins op die Japanse vervaardiger Mitsubishi staat. Beide die diesel- en petrolweergawes is net in ’n kapasiteit van 2,4 liter, sonder enige turbo, beskikbaar.
Dit beteken jy het ’n betroubare kragbron en daar is heeltemal genoeg trekkrag vir alledaagse gebruik, maar jy gaan geen tydren met hom wen nie.
Die vierwielaandrywing word met ’n moderne draaiknop geaktiveer en die Vigus het al die hindernisse op ADA se opleidingsterrein in Hartbeeshoek sonder probleme kafgedraf. Dit sluit in ’n steil, gruisbedekte helling en hobbels wat ’n voertuig se as kan knoop. Dit was net op ’n smal tweespoor deur ’n bos jong wattelbome waar sy bokwa-draaie hom gekortwiek het.
Die Vigus is ’n bewys daarvan dat Chinese vervaardigers die gaping tussen hul produkte en ander vervaardigers s’n jaarliks verklein. En, soos altyd, het hy ’n baie goeie prys.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie