Vleisraad ondersteun geknelde DVS
Vleisraad ondersteun geknelde DVS

Vleisraad ondersteun geknelde DVS

'n Geldtekort plaas die direktoraat veeartseny­­dienste se dieregesondheidstake onder druk.
Die Namibiese vleisbedryf is afhanklik van goeie diensle­wering deur die dieregesondheidsowerheid om die land se hoë dieregesondheidstatus te handhaaf en marktoegang in die Europese Unie en elders te behou.

Begrotingsbesnoeiings vanweë ekonomiese druk op die fiskus beïnvloed egter die afgelope jare toenemend die funksies van die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, water en bosbou.

Dit is teen dié agtergrond dat die Vleisraad van Namibië in die huidige boekjaar N$6 miljoen begroot het om DVS finansieel en met logistieke dienste te ondersteun, sê Paul Strydom, hoofbestuurder van dié raad.

Patricia Gurubes, voorsitter, sê in die Vleisraad se 2018-jaarverslag aangesien hierdie finansiële tekorte in die afsienbare toekoms gaan voortduur, moet die vleisbedryf 'n

langtermyn strategie hê vir die befondsing van noodsaaklike veeartsenydienste.

“Daar is voorgestel dat sekere van die funksies wat tans deur DVS verrig word, na die Vleisraad se FANMeat-afdeling uitkontrakteur en deur heffings gefinansier word. Ongelukkig is die onderhandeling daarvoor gestaak,” lui haar verslag.

Die funksies wat vir uitkontraktering oorweeg is, sluit in ondersteuning aan NamLITS, die instandhouding van die veterinêre kordonheinings en grensheinings tussen die buurlande, asook plaas- en gemeenskapsinspeksies, sê sy.

Dit sal volgens haar onder toesig van DVS geskiet. Laasgenoemde sal ook die verantwoordelike owerheid bly.

Die FANMeat-afdeling reik reeds veebrande en oorplaatjies op 'n kosteverhalende wyse namens DVS uit, sê Gurubes. Verder word 'n NamLITS-kliëntediensfunksie ook verrig om produsente met die registrasie van van oorplaatjienommers, die ontrekking van lewendehawe uit die stelsel, die konsolidering van bewegingspermitte, kuddestate en die 90/40 dae-reël by te staan.

Gurubes sê die Vleisraad het ter wille van die instandhouding van noodsaaklike veeatsenydienste, geld vanaf die noodheffingsfonds vir veterinêre dienste na DVS gekanaliseer sodat lewendehawe- en vleisuitvoersertifiserings kan geskied.

Dit behels die laboratoriumtoetse wat gedoen moet word om die aanwesigheid van sekere dieresiektes uit te skakel.

Desmond Cloete, hoofbemarkingsbeampte by die Vleisraad, sê omdat die instandhouding van die kordonheinings so belangrik is, staan sy afdeling DVS daarmee by.

Dit sluit in om byvoorbeeld stukwerkers beskikbaar te stel vir herstelwerk aan heinings wat deur olifante beskadig is en om vragmotors van DVS wat materiaal en werkers moet vervoer, te diens en in stand te hou.

Hy het ook pas toegesien dat 'n padskraper versien word wat gebruik gaan word wanneer die heining van die Botswana-grens af, tot by die Mururani-hek naby Grootfontein herstel word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!