Vlerkloos, draadloos, heeltemal hopeloos
Vlerkloos, draadloos, heeltemal hopeloos

Vlerkloos, draadloos, heeltemal hopeloos

Dani Booysen
WILLEM DE WET SKRYF:

Die merc's brul en die Swapo-gebou groei soos 'n paddastoel langs die eens trotse mediese baken wat tans 'n skande vir gesondheid is, maar die prag en praal beur voort.

Die nasionale redery se vlerke is af, die NBC se draad is loos, atletiek se hekke is toe, vis word steeds in die binnekring gevang, NWR se plekke val uitmekaar, paaie is vol gate, begraafplase en staatskole verval, museums word deur die publiek onderhou, inenting teen Covid-19 is 'n deurmekaarspul, en dan is ons grensbeamptes natuurlik ons eie grootste vyand met hul absolute arrogante, onbeskofte pogings om die laaste toeris ook de moer in die land te laat inkom en met die uitgaan maak ons seker daai toeris kom nooit weer terug nie. Is ons trots op die gemors?

Agbare President, dis tyd dat u 'n bestekopname maak en begin om die struggle comrades tot orde te roep. Jou harambee is besig om te ontaard in 'n fiasko en elkeen van jou vertrouelinge in die binnekring sal of sy hand uit die staatskas moet uithaal en begin om op te bou of hulle sal moet gaan boer op hul hervestigingsplase en landsake oorgee aan bevoegde mense wat die land wil vorentoe vat.

Dit is 'n bespotting om hulpelose en hopelose individue van een ministerie na die volgende te skuif net voor sy/haar onbeholpenheid op die lappe kom en hom/haar toe te laat om nog 'n ministerie in grond in te bestuur.

Ek besef dat die slaagsyfer net 30% is, maar dit begin op die oppervlak wys en ons is besig om oor die afgrond te skuif onder die huidige onkundige en selfverrykende bestuur van ons land se swakstes van die binnekringe.

Ek kan nie glo dat ons kabinet opgemaak is uit 'n meerderheid van dinosourusse met 'n dinosourusmentaliteit terwyl daar skrander jongelinge in die land rondsit en struggle om te bestaan en na 30 jaar binnekort ook in die dinosourusklas gaan val sonder dat hulle ooit die kans gekry het om hul staal te wys, want die ou struggle comrades sal daar sit tot hul omval en hulle hoef niks te doen in ruil vir die ruim vergoeding nie.

Nee man, ons het 'n mooi land met soveel potensiaal en soveel geleenthede maar ons leiers versmoor geleenthede en ambisie en het geen toekomsvisie nie. Hulle baai steeds in die poel van apartheid en kolonialisme en soek geleenthede om uit die verlede munt te slaan eerder as om aan te beweeg en 'n nuwe geskiedenis te laat gebeur.

Wat gebeur het, het gebeur en dis tyd om uit die nagmerrie wakker te skrik, jou tande te borsel en werk toe te gaan.

In elke land in die wêreld is daar geskiedenis waaroor iemand sy kop laat sak, maar ander het dit reg gekry om vrede daarmee te maak en aan te beweeg, maar ons bly klou aan daai emosionele teddiebeer vas soos 'n suigeling en gaan aan die skop en skree as enigiets naby aan daardie sielkundige steunpilaar van bejammering en regverdiging kom. Hoe lank wil ons nog bakhand ons toekoms ingaan en ons voortbestaan baseer op bedelgeld van die wat eens op 'n tyd ons mense benadeel het?

Staan op en maak ons nasie en land sterk en word 'n trotse storie van oorwinning oor die bejammeringsverslawing waaraan ons tans vasgeboei sit. Dit weerhou ons van vooruitgang en nasiebou. Solank as die oë op die verlede gerig bly, sal die toekoms ons onbeskore bly.

Daar is soveel redes om die rug op die verlede te draai en 'n trotse toekoms te bou, maar die makliker uitweg is om simpatie te soek. Nee mense, ons is trotse Namibiërs en ons het ghoens.

Kom ons staan op en bou 'n pad vir die toekoms en draai ons rug op die grondpad van gister. Maak vrede met die verlede en raak trots op die verlede.

Wie kan 'n verhaal van oorwinning so mooi uitbeeld en vertel soos Namibië en sy inwoners? Ons moet dit juis gebruik as motivering en wegspringplek om ons toekoms met trots uit te bou sodat ons nageslag met trots kan verwys na die generasie wat die ommeswaai bewerkstellig het.

Hou op NEEEB en verdeel en afvat en belas. Hou op name verander en standbeelde afbreek en raak doenig met dinge wat 'n toekoms gaan skep.

Niemand raak bemagtig of kry kos in sy mond met die verandering van 'n straatnaam nie maar 'n paar mense sal kan brood koop as ons daai selfde straat se potholes begin regmaak.

Oom Job, los jy ook 'n slag jou beret by die huis en trek 'n overall aan en doen iets wat vir iemand kos in die mond sit eerder as om jou posisie te misbruik om jou politieke ambisies na te jaag.

Kom manne die koffie raak koud!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!