Voor die hemelpoorte
Lloyd Zandberg
Paul McCartney, lid van die wêreldberoemde rockgroep The Beatles, het eendag iets kort en kragtig oor kore gesê: “Ek is mal daaroor om na ’n koor te luister. Ek is dol oor die mensklikheid, om die gesigte te sien en mense wat hulself ten volle aan ’n stuk musiek oorgee. Dit laat my optimisties oor die mensdom voel wanneer ek die eenheid van ’n koor sien.”
Fanie Dorfling stem waarskynlik saam met Paul. Hy is immers onlangs tot nuwe lid van Interkultur se Wêreldkoorraad verkies – ’n eerste vir hom en vir Namibië.
Ek dink dis veilig om te sê Fanie sekondeer Paul se stelling.
Interkultur is sedert 1988 die toonaangewende organiseerder van internasionale koorkompetisies en -feeste.
Die Wêreldkoorraad is Interkultur se hoogste internasionale adviesraad.
Om die wêreldwye koorgemeenskap te verteenwoordig, streef hulle daarna om minstens een bekende verteenwoordiger uit elke koorland ter wêreld te hê.
Altesaam 80 lande word reeds op dié raad verteenwoordig. Verteenwoordigers kom elke twee jaar tydens die Wêreldkoorspele bymekaar en doen verslag oor die koortoneel in hul onderskeie lande.
Fanie is so te sê Namibië se hoofseun wat kore betref.
”Ek het verlede jaar met my Kollege van die Kunste(Cota)-jeugkoor aan die Wêreldkoorspele deelgeneem en ons is as wêreldkampioene in die folk-afdeling met begeleiding bekroon. Die uitnodiging om Namibië te verteenwoordig het daarná gevolg,” sê hy.
Dis daar waar die bande met Interkultur gevestig is.
Fanie sê hy is veral bly Namibië sal nou op ’n internasionale platform naam kan maak.
Hy is tans voltydse dirigent by Cota, en waarnemende vakhoof van hul klassieke departement.
“Ek is opgewonde om die kans te kry om Namibiese kore op die internasionale platform te bevorder. Ons het soveel talent hier en dis tyd dat die wêreld hulle hoor.”
Hy beskou musiek as sy “opstaan en gaan slaap”.
“Veral koormusiek. Die mens se stem is ’n fassinerende instrument, en ek glo die mees persoonlike instrument. Jy kan nie musiek en jou siel en emosies van mekaar losmaak nie. Dit is my passie en ek kan my nie ’n lewe daarsonder indink nie.
“Musiek is meer as net note op papier; dit gaan oor emosies skep en oordra; dit gaan oor die ongelooflike vreugde en plesier in my siel as ek dirigeer. Behalwe vir die sielservaring wat met musiek gepaard gaan, is die menslikheidsfaktore net so belangrik. Veral om met jongmense te werk en deel te wees van hul vorming is hoogs bevredigend.
“Musiek gee hoop, musiek troos, musiek maak bly, deur musiek gee ons prys en loof ons talent. Dit is altyd ’n sielservaring waaruit ek, elke koorlid en die gehoor ewe veel kry en waarby ons baat.”
WAAR HET ALLES BEGIN?
Baie jare gelede. Toe Fanie nog beswaarlik tande in sy mond gehad het. Sy ma was ’n musiekonderwyser en kerkorrelis, sy pa kon mooi sing, sy broer kon sing en die jongste het ook koor gesing.
Musiek vloei deur die gesin se are.
“Ek het op ’n plaas grootgeword in ’n huis waar musiek daagliks gespeel is – veral Sondae onthou ek as dae waarop die mooiste musiek gespeel is. As ek terugdink, onthou ek Ma voor die orrel of Sondae in die kombuis met klassieke musiek wat oor die radio speel. Opvangs was maar sleg soms, en ek onthou die gesuis van die swak opvangs so tussen die musiek deur,” sê Fanie.
Sy vroegste herinneringe strek dekades terug.
“Musiek was vroeg reeds in my lewe. Daar was ’n traporrel in ons huis en ek het my gesin tot raserny gedryf met pogings tot musiek toe ek maar ’n tjokker was. Ek het klavierlesse geneem op hoërskool en koor gesing en revue gedoen. Dit was goeie jare, en ek dink my liefde vir koorsang het daar begin. Ek onthou ’n gesprek met my klavieronderwyser, mnr. Pilkington, terwyl ons na ’n konsert stap. Ek het soveel vrae oor koor gehad en hy het geduldig geantwoord.”
Dorfling het aanvanklik nie musiek gestudeer nie. Hy sê hy het koormusiek op universiteit ontdek. Hy het onderwys gestudeer en daarna by Hoërskool De Duine skoolgehou.
“Daar het ek ook my eerste koor begin en het wonderlike herinneringe aan daardie tyd. Daarná was ek onderwyser by Hoërskool Swakopmund en ek het ’n lieflike koor daar opgebou. Koormusiek het my op universiteit kom vind en toe ek met my eie kore by skole begin het as onderwyser, kon ek nie anders as om dit te doen nie.”
As onderwyser het iemand hom eendag gevra: As jy iets anders kon doen, wat sou dit wees? Sonder huiwering het hy gesê musiek maak en heeldag met kore werk.
“Dit was my wake-up call, en al het ek toe nie geweet hoe nie, het ek geweet ek moet dit najaag. Ek het bedank en dinge is so bestuur deur die Vader dat ek vandag presies dít kan doen. Dit het beteken voltyds werk en musiek studeer. Alles die moeite werd. Ek glo nie ek sal ooit ophou studeer nie. Hoe meer jy weet, hoe meer besef jy daar is nog baie om te ontdek en te leer. Dis ’n wonderlike ervaring.”
GEHORE EN GEHOOR
Fanie glo musiek is meer as note op papier en hande in die lug rondswaai asof jy spitsverkeer beheer.
“Dit kort sielsbetrokkenheid. As ’n sanger op ’n emosionele vlak ’n band met die musiek bou en van daar af musiek maak, dán is dit musiek en voer ’n mens gehore mee. ’n Goeie komponis weet hoe om met die gebruik van akkoorde en progressie die gewenste effek te skep. Ek kry hoendervleis as musiek my na die ‘a-ha’-plek neem waar mens voel jy styg uit bo dit wat jy is. Dit is die kosbaarste ervaring om koor te dirigeer. Jy, jou koor en die musiek word een, en dit vloei uit ons siele.”
Wat hoor hy wat gehore nie hoor nie?
Foute, sê Fanie.
“As dirigent raak mens seker oor-krities en die kuns is om balans te vind. Verder dink ek hoor ek hopelik wat die gehoor hoor: musiek uit die siel uit, vreugde. Musiek is vir my ’n sielservaring en ek hoop dit is ook hoe gehore dit beleef.”
Fanie glo musiek het reuse- opvoedkundige waarde.
“Ek sien die vormingswaarde van musiek op ’n daaglikse basis in my koorlede. Daar is soveel studies daaroor gedoen, dis tyd dat ons leiers dit besef en musiek na skole terugbring. Dit bemagtig kinders met soveel lewensvaardighede, wat veel verder as net die musiek strek.”
Onder meer word waardes soos dissipline, uithouvermoë en samewerking geleer.
“Dit breek alle maatskaplike mure af en almal word een in die proses van musiek maak. Daarbenewens het sang ook ongelooflik baie waarde op sielkundige en gesondsheidvlak. Dit skep vir baie koorlede ’n veilige skans teen die wêreld – vir my ook. Jy vergeet van die dinge daar buite terwyl jy musiek maak.”
Die oomblikke wat vir Fanie in sy loopbaan uitstaan, is sy koorreise.
“Ek was al in onder meer Amerika, Spanje, Duitsland, Bulgarye, Swede, Letland en Suid-Afrika met koorkompetisies en koorfeeste. Dit grootste herinnering is die voorreg om te kon sing met ongelooflike akoestiek in die St. Alexander Nevsky Cathedral in Sofia, Bulgarye.
“Dit was die naaste wat ek al aan die hemel was,” sê hy.
As jy vermoed die man slaap nie snags nie, is jy reg. Fanie is tans besig met sy meestersgraad in dirigeer.
“Ek sukkel om my kop af te skakel – veral ná konserte sal ek dit bly ontleed en in my kop oor dirigeer. Die ding van musiek is dat dit my herlaai, maak nie saak hoe sleg ’n dag was nie. Jy stap in ’n oefening in papmoeg, en loop vol energie uit. Dis heerlik.”
Verder is min dinge vir Fanie so lekker as om iewers in Namibië se wye vlaktes weg te raak.
“Ek is mal oor die natuur en die stilte en sielsvrede wat ek daar kry.”
As alles volgens plan verloop, sal Fanie sy meestersgraad teen Desember in die sakkie hê.
In die Kerstyd wil hy verlore slaap inhaal, hoewel hy weet “’n mens neem nooit regtig vakansie van jou passie nie”.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie