Vroeu00eb Kerskous vir meesters
Vroeu00eb Kerskous vir meesters

Vroeë Kerskous vir meesters

N$30 000 se prysgeld kan opgeraap word.
Wanderers Muurbalklub bied vandag en môre die laaste twee dae van sy jaarlikse Visions Consulting ope- en meesterstoernooi in Pionierspark aan, waarvan Pionierspark-apteek 'n ondersteunende borg is.

Volgens Steven Berry, voorsitter van Wanderers-muurbal, het sowat 90 gretige spelers reeds ingeskryf wat verreweg die meeste is wat die klub al vir 'n kompetisie ontvang het.

“Met al die groot toernooie vir die jaar agter die rug, het ons gereken daar sal nie so baie inskrywings wees nie, maar met soveel deelnemers gaan dit 'n opwindende toernooi wees. Dié kompetisie was veronderstel om in Augustus plaas te vind, maar is tot Oktobermaand en toe weer tot November uitgestel.

“Ons het dus rede tot kommer gehad, want die tradisionele muurbalseisoen is reeds iets van die verlede en mense was al besig om reëlings vir jaareindfunksies te tref. Behalwe dit is spelers besig om reëlings by die werk vir die feesseisoen te tref, maar die teenoorgestelde het gebeur met die reusegetal inskrywings wat ons ontvang het,” het Berry verduidelik.

Altesame 21 vroue, agt juniors (onder 12 jaar), 36 meesters asook 18 nuwelinge het vir deelname geregistreer. Wanderers het die afgelope drie jaar met innoverende beplanning die sport in gewildheid laat groei, wat 'n beduidende toename in spelers gelewer het. Van die 90 spelers is 88 by Wanderers geregistreer wat gereeld hul muurbal daar speel.

Weens die onverwagte getal inskrywings het van die spelers hul eerste ronde Woensdag en gister afgehandel en sal al die deelnemers teen vanaand minstens een wedstryd afgehandel hê.

Die meesterskompetisie is vir môreaand geskeduleer, waarna die A-afdeling van die ope toernooi afgehandel sal word.

Met Visions Consulting wat die afgelope drie jaar dié toernooi borg, het dit vir vele spelers 'n hoogtepunt geword. Belangstellendes en toeskouers is meer as welkom om van Namibië se voorste muurbalspelers in aksie te sien.

Die jong Kyle Kriel is opnuut 'n gunsteling om die kompetisie te wen, maar Sven Grüttemeier asook medejuniors soos Brandon Grane en Arno Diekmann sal hom nie 'n duim beweegruimte sonder 'n geveg gun nie.

By die meesters sal Archie Botha, 'n voormalige nasionale speler, en verdedigende kampioen Gerdus Louwrens beslis vir Michau Basson, die gunsteling, probeer hokslaan. Ander spelers wat die oog kan vang, is Uwe Grüttemeier asook die tweemalige kampioen van die B-afdeling, Graham Watermeyer, wat weer dié afdeling kan wen.

Die ervare Gregory Moore asook Jacques van der Smit sal saam met die vroue Adri Lambert, Lida-Marie Calitz en Jessica Moore opnuut hul merk maak.

“Ons sien uit daarna om weereens die bestes in Namibië te ontvang sodat die toeskouers topklas muurbal kan sien,” het Berry afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!