VSA regering sluit sy deure
VSA regering sluit sy deure

VSA regering sluit sy deure

Senators het ’n wetsontwerp gekeer wat die finansiering van die regering tot 16 Februarie verleng.
Die Amerikaanse regering het Vrydagaand om middernag (VSA tyd) amptelik gesluit nadat Demokrate en Republikeine nie daarin kon slaag om op die nippertjie ’n ooreenkoms te bereik om hul bedrywighede te finansier nie, weens ’n bitter twis oor immigrasie en grenssekuriteit.

In ’n dramatiese laataandsessie het senators ’n wetsontwerp gekeer wat die finansiering van die regering tot 16 Februarie verleng. Die wetsontwerp het 60 stemme van die 100 lede van die senaat benodig, maar net 50 mense het dit gesteun.

Die meeste Demokrate het teen die wetsontwerp gestem omdat hul pogings om die honderdduisende immigrante, wat as Dromers bekend staan, misluk het.

Dringende onderhandelinge tussen Mitch McConnell, die senaat se meerderheidsleier, en Chuck Schumer, die Demokratiese leier in die senaat, in die laaste minute voor middernag, was onsuksesvol en die Amerikaanse regering se geld was om middernag tegnies op.

Die sluiting het amptelik Saterdag begin, die eerste herdenking van pres. Donald Trump se inhuldiging as president.

Trump se administrasie het die Demokrate onmiddellik die skuld gegee.

“Hulle het vanaand politiek gestel bo ons nasionale veiligheid, militêre families, kwesbare kinders en ons land se vermoë om alle Amerikaners te dien,” het die Withuis in ’n verklaring gesê.

Die Trump-administrasie het gesê hulle sal nie immigrasie bespreek voordat die land weer aan die gang is nie.

“Wanneer Demokrate begin om ons weermag, polisie en noodpersoneel te betaal, sal ons weer met onderhandelinge oor immigrasiehervorming begin,” lui die verklaring.

Totdat ’n ooreenkoms bereik is oor finansiering, sal tientalle federale agentskappe oor die land heen nie hul werk kan doen nie, en honderdduisende “nie-noodsaaklike” federale werkers sal op tydelike onbetaalde verlof wees.

Die Republikeins-beheerde huis van verteenwoordigers het Donderdag ’n tydelike finansieringmaatreël aanvaar. Maar die Republikeine het daarna die steun van ten minste 10 Demokrate benodig om die voorstelwet deur die senaat te kry. Hoewel vyf Demokrate daarvoor gestem het, het vyf daarteen gestem.

Demokratiese leiers eis dat die reëling sowat 700 000 ongedokumenteerde immigrante, wat bekend staan as Dromers en wat as kinders in Amerika aangekom het, sal beskerm dat hulle nie gedeporteer word nie.

Republikeine het geweier om dié beskerming in te sluit, en nie een van die kante is bereid om toe te gee nie. McConnell en Schumer sê hulle is steeds vasbeslote om tot ’n vergelyk te kom en die finansiering van die regering so gou moontlik te hervat.

Trump, wat streng stappe teen immigrasie ’n hoeksteen van sy presidensiële veldtog gemaak het, het verlede week ’n tweepartyvoorstel van die hand gewys, en gesê hy wil enige ooreenkoms vir Dromers in ’n groter wet insluit wat ook finansiering vir ’n grensmuur en strenger sekuriteit op die grens tussen Amerika en Mexiko insluit.

In ’n sluiting van die regering sal “noodsaaklike” werknemers wat betrokke is by openbare veiligheid en nasionale sekuriteit aanhou werk. Dit sluit meer as 1,3 miljoen mense op aktiewe diens in die weermag in van wie verwag sal word om te werk, maar wat nie betaal sal word totdat die finansiering hervat is nie. – Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!