VSA-verkiesing nog ver van verby
Vele faktore het invloed op wie die volgende president sal wees
Estelle de Bruyn
Dit is nog geen uitgemaakte saak wie in November as Amerika se nuwe president aangewys gaan word nie.
Prof. Steve Roberts, ’n hoogleraar in media en openbare betrekkinge aan die George Washington Universiteit in Amerika, het Dinsdag tydens ’n digitale videokonferensie sy sieninge oor die huidige Amerikaanse verkiesing met Namibiese joernaliste en studente gedeel.
Volgens Roberts is die Republikeine se Donald Trump en die Demokrate se Hillary Clinton waarskynlik die twee mees ongewilde kandidate nóg wat vir die Amerikaanse presidentskap gestaan het.
Clinton is ongewild omdat sy die verlede eerder as die toekoms verteenwoordig. Boonop is sy en Trump van die oudste presidentskandidate wat Amerika al opgelewer het.
“Clinton is al jare in die Amerikaanse politiek betrokke en in daardie tyd kon sy nie anders as om ‘letsels’ op te doen nie,” sê Roberts. Dink maar net aan die terreuraanval in Benghazi, Libië, waarin die Amerikaanse ambassadeur in Libië dood is toe Clinton minister van buitelandse sake was. Meer onlangs is die gebruik van haar private e-posdiener om amptelike geklassifiseerde inligting te stuur.
“Sy is ook nie ’n goeie spreker nie en steek sleg af by haar man, oudpres. Bill Clinton, en die huidige president, Barack Obama,” sê Roberts.
Tog tel die feit dat sy die eerste vrou is wat as presidentskandidaat staan in haar guns.
Dit sal volgens Roberts geskiedkundig wees indien sy verkies word, al is daar steeds baie mans wat nie ’n vrou as president wil hê nie.
Roberts beskryf Trump se uitlatings vandeesweek dat Clinton “nie die stamina het” om president te word en die Islamitiese Staat-groep (IS) die stryd aan te sê nie en dat sy “nie presidensieel” is nie, as seksisties.
Nog iets om in rekening te hou, is die sogenaamde politieke siklus in Amerika. Ná twee termyne vir die Demokrate in die Withuis, sou die geskiedkundige model aandui dat dit tyd vir verandering is en dat die Republikeine vanjaar ’n goeie kans staan om die leisels oor te neem.
“Daar is drie maande oor tot die verkiesings plaasvind en baie kan nog gebeur. Daar lê ook drie debatte voor waartydens Clinton en Trump op dieselfde verhoog teen mekaar te staan sal kom en Amerikaanse kiesers die geleentheid sal kry om hulle teen mekaar op te weeg,” sê Roberts.
Hy het ook op die veranderende demografie in Amerika gewys. Toe Ronald Reagan as president gestaan het, was 88 persent van die kiesers wit; toe Obama in 2008 teen Mitt Romney gestaan het, was 72 persent van kiesers wit en vanjaar is 70 persent wit.
Reagan het 56 persent van wit stemme gekry en gemaklik gewen, terwyl Romney met 59 persent van die wit stem, ver teen Obama verloor het.
In 2011 is meer kinders vir etniese minderhede as wit kinders in Amerika gebore.
Met 53 persent van Amerikaanse kiesers wat vrouens is, is dit ook noodsaaklik om die steun van hierdie groep kiesers te kry om ’n oorwinning te verseker. Obama het met sewe persent die mansstem in Amerika verloor, maar onder vrouekiesers was hy elf persent meer gewild as sy Republikeinse teenstander.
Die slotsom is, ondanks meningspeilings wat wys dat Clinton ’n gemaklike voorsprong het, dat ’n mens maar moet wag en kyk wat in die volgende drie maande gebeur en wie uiteindelik die guns van Amerikaanse kiesers by die stembus sal wen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie