Waar is ons ‘celebs’?
Dit verstom my elke keer as ek iewers by ‘n geleentheid is en ‘n plaaslike musikant, kunstenaar of enige ou wat iets maak, se werk ten toon gestel word.
Nog elke keer wat dit gebeur het, word ek eenvoudig uit die veld geslaan.
Waar is hierdie mense? Hoekom hoor ons nie van hulle nie? Kruip hulle iewers weg? Wat is die blokkasie? Ek wil weet. Dis my werk om te weet.
Dit het my nou ‘n baie lang ruk geneem om te besef dat daar ‘n groot gaping in ons vermaakbedryf is. Of eerder in die wyse waarop ons blootstelling ontwikkel.
As jy nou ‘n lys van kreatiewe breine in Namibië moet noem, hetsy dit ‘n skilder, musikant, skrywer, akteur, noem dit.
Hoeveel kan jy noem? En waar is hulle?
Ek was onlangs by ‘n glansgeleentheid. Ek haat eintlik daai woord, want dit klink so high class, maar ja, dit was seker ‘n deftige besigheid. Nie heeltemal ‘n oomblik om my matriekafskied-das te loop uitgrawe nie, maar ek moes sorg dat my wange skoongeskeer is.
Van die bedryf se rykste, slimste, invloedrykste mense was ook teenwoordig. Ek moes heeltyd sorg dat ek perfekte Afrikaans praat en dat ek nie per ongeluk die f-bom laat val nie.
Vir die grootste deel van die aand het almal lekker gesels en aan fantastiese kos gepik. Ek sê jou, dit was ’n uithaalgeleentheid.
Tussen die hoof- en nagereg het ‘n jongerige man op die klein, tydelike verhoog gaan staan. Die klankman draai toe die ligte af en die ou op die verhoog speel ‘n E mineur op sy sessnaar.
Terselfdertyd sing hy op daai einste noot ‘n falsetto en ek dink vir ‘n oomblik Mumford & Sons is in die land. Ek hoor vir Bryan Adams in sy jonger dae en stukkies van Mark Knopfler kom ook deur.
Nee wag, dink ek. Kyk op die program wat langs my bord lê, wie is die ou?
Ek gaan nie sy naam hier sê nie, ek vermoed dit gaan dalk ‘n onnodige situasie veroorsaak.
Maar vir hierdie rubriek noem ons hom Jan.
So sorg Jan dat elkeen teenwoordig hartseer, opgewonde, nostalgies en enige ander emosie voel wat musiek kan uitlok. Rou, rou, bloedige rou talent. Die mense om my tafel hou op eet, sluk en asemhaal. Niemand is seker wat ons getref het nie. Dit voel of ons in New York by ‘n one night only show sit.
Dís die goeie nuus. My vraag bly egter: Hoekom weet ons nie van hierdie mense nie? As Jan, en hy is ‘n plaaslike kunstenaar, iewers anders gewoon het, sou hy nie genoeg ure in die dag gehad het om vir almal wat sy musiek ken, regstreeks te speel nie.
Hy sou op elke voorblad moontlik gepryk het. Sy aantal Instagram-volgelinge sou ’n sessyfer getal wees. Hy sou groot, uitverkoopte stadionkonserte oorsee gehad het. Ek is seker hiervan.
Ek sonder nou wel een mens uit, maar moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek werk al ‘n geruime tyd in die vermaakbedryf en besef dit elke keer weer: Die talent is eenvoudig verstommend. En ons het báie.
Hier is nog ‘n vraag: Hoekom sukkel jy om kaartjies te kry as ‘n Suid-Afrikaanse talent aan hierdie kant van die grens kom optree of iets doen? Dis nou as jy in die eerste plek kry, maar dan sing ons eie Jan by ‘n eg Namibiese geleenthied en ons het net 10 mense teenwoordig, waarvan die helfte uit sy agent, ‘n joernalis en ‘n bestuurder bestaan.
Ongelukkig word kuns of hoe goed jy is, direk gemeet aan hoe bekend jy is.
En om bekendheid te verwerf, moet ons van jou weet. Dit beteken ons moet van jou lees. Of jou iewers sien.
Ek het tot die volgende slotsom gekom oor hoekom ons nie van hierdie ouens weet nie: Namibië het nie genoeg tabloids nie.
Jy kan nou maar sê van Huisgenoot wat jy wil. Jy kan sê Sarie, Rooi Rose en daai soort publikasies is alles net shine en vals. Maar as dit nie vir dié publikasies was nie, het Suid-Afrikaners ook gesukkel om sale vol te kry.
Ons Namibiërs gaan soontoe, want die mark loop van moontlike voorblaaie oor. Namibiers wat “goed” of “suksesvol” is, was al iewers op ‘n Suid-Afrikaanse voorblad.
Ons het ‘n probleem. Hoe gaan ons hierdie rou talent blootstel, en binne ons landsgrense hou? Dalk ‘n plaaslike tydskrif? Een keer ’n week se Kollig is duidelik nie genoeg nie, en ek kan dit nie alleen doen nie.
Help my.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie