Waar my hart skuil
Toe ek destyds daar doer in die verre Namib, 160 kilometer wes van Maltahöhe my verstand begin kry het, het ons in ‘n baie groot grênt huis op Saffier gebly, maar die kleinhuise was steeds strategies ‘n ent weg van die huis geplaas gewees. . .
Die oumense het toe van ‘n opstal en ’n werf gepraat. Praat mense nog so?
Saffier was die plaas se naam wat pa Ponie vir iets soos 2 000 pond gekoop het. Daar was niks nie, nie ‘n enkele lyndraad, boorgat of huis nie. Die Suid-Afrikaanse regering het vir sy oudsoldate wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, as toegif die eerste boorgat verniet geboor. Die boorman wat met ‘n primitiewe stamperboor die dorre aarde se maag moes binnedring, het toe ‘n boek met die naam Saffier gelees en dít is hoe die plaas sy naam gekry het.
Ek onthou so ‘n entjie voor die huis was ‘n sementblad nog sigbaar waar eens op ‘n tyd ‘n tweevertrekhuisie gestaan het. Dit was ma-hulle se eerste blyplek. Voor pa Saffier gekoop het, het hy soos talle ander aspirantboere met sy vee agter weiding aangetrek waarvoor hulle ‘n “graspermit” by die landroskantoor op Maltahöhe moes uitneem.
Toe my ouers in 1948 afgehaak het, was die eerste pienkvoet gou daar, maar dit het nie hierdie pioniers van die dorsland gekeer om onwrikbaar die elemente van die natuur met die mees basiese middele suksesvol te tem nie.
Ek onthou hoe hulle in die begin in ‘n sink-kaia gebly het voor daar geld was om die einste tweevertrekpondokkie te bou, waarvan die stille getuies vir jare nog voor die huis sigbaar was. Ek het meer as dikwels gewonder of vandag se vroue vir dieselfde sal kans sien?
Ek onthou hoe ons saans ná ‘n bitter warm dag buite op die stoep gesit het om die eerste koelte van die nag te ervaar. Ek onthou die geitjies wat sommer vroeg al met hul getjiktjiktjik begin gesels het en die ongevraagde getjank van ‘n rooijakkals waar hy na sy maat roep.
Daar was nie elektrisiteit by die opstal nie, maar wel gasligte wat in die hele huis geïnstalleer was. Die ligte het vir my as kind gerusstellende vetroosting in die pikdonker nagte van die Namib gebring wanneer dit saans aangesteek is. Die sagte sisgeluid en reuk van die lampe onthou ek soos gister.
Wat die lekkerste was, was die koolstoof in die kombuis waar ons altyd in die winter geëet het. Die Ellis-stoof is vroegoggend met kameelhout gestook en het sommer gou-gou gesellig geknetter, terwyl ou Sara die ketel vir die eerste brousel moerkoffie reggesit het.
Wintertyd is lamtyd en die karakoelboere van daai jare se bestaan was die verkoop van die lammers se pelse wat na die buiteland uitgevoer is. En as dit lamtyd is, was daar nie tyd vir ginnegaap nie, en is daar voordag al met die F100-bakkie na die poste gery om die lammers te gaan haal.
By die opstal moes daar vinnig besluit word watter van die lammertjies gehou gaan word en watter vir die pelsies gebruik gaan word, want anders gaan die patroonstruktuur van die pelsies verander as die lammers te oud raak.
Die karakoellammers wat gehou is om mee te teel, was ook ‘n groot bron van inkomste. Veral die ramme kon onbehoorlike pryse op veilings en by die skou behaal. Pa Ponie was daai jare een van die min geregistreerde ramtelers in die land en boonop ‘n spoggerige een ook daarby.
Ek was altyd aan my pa se sy, dalk sy skaduwee, want wat maak ‘n alleenkind nou anders op ‘n plaas as om sy afgod se skaduwee te wees?
Nadat die houlammers oorplaatjies gekry het, is hulle eers sorgvuldig geborsel en dan behoorlik op ‘n spesiale tafel afgeneem waarna hulle terug in die sorg van die blêrende ooie in die kraal geplaas is. Al soekend met ‘n wikkelende stertjie sou die lammertjies hul ma’s se vol uier vir melk aanval.
Wanneer ek soms hier in Windhoek die barbaarse aanslag van die stad voel, wens ek, smag ek, om weer soos met kindwees onder ‘n kameelboom in die Namib met my tone in die sand te kan sit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie