Waar sal die brood vandaan kom?
Waar sal die brood vandaan kom?

Waar sal die brood vandaan kom?

Landbou kan nie ekonomie genoeg laat groei
Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher



Die jongste prestasie van die ekonomie, soos gemeet aan die Bruto Binnelandse Produk (BBP) as 'n aanduiding van hoe die eko­nomie gegroei het, is alles behalwe noemenswaardig.

Die interafhanklikheid tussen lande in Suider-Afrika is meer as net 'n gegewe.

Dit is 'n groeiende werklikheid en moet nie as gevolg van burokrasie gestrem word nie. Dit geld veral die verhouding tussen Namibië en Suid-Afrika.

Beide lande se ekonomie toon 'n besondere afhank­likheid van landbou as die beginpunt van veral landelike ontwikkeling, en om slegs die primêre deel van landbou se bydrae tot die ekonomie as maatstaf vir prestasie te gebruik, is kortsigtig.

Suid-Afrika

Wat Suid-Afrika betref, het die ekonomie 'n skrale 0,3% gegroei in 2016! Ekonomiese groei van meer as 5% is egter nodig om die nodige ruimte te skep vir indiensneming en verdere versnelling van inisiatiewe soos armoedeverligting.

Landbou word as een die prima-bedrywe ten opsigte van die skep van groei binne die nasionale ontwikkelingsplan gesien, maar dit is duidelik dat glad nie aan daardie verwagtinge voldoen is nie.

In slegs vyf van die afgelope 12 kwartale het landbou positief bygedra tot ekonomiese groei en in baie gevalle eintlik verhoed dat die ekonomie in resessie verval. 'n Resessie is wanneer 'n ekonomie in twee agtereenvolgende kwartale negatief groei.

'n Mens kan natuurlik argumenteer dat met 0,3% groei die ekonomie op 'n mespunt gebalan­seer is.

Die impak van die droogte het dus duidelik sy merk gelaat op die landbou se vermoë om as stut te dien vir broodnodige ekonomiese groei. Tot nou was dit 'n harde wedstryd en mens kan maar net vertrou dat beserings nie strategiese vlugvoetigheid aan bande gaan lê nie.

In die vierde kwartaal van 2016 het landbou egter begin terugbons met 'n positiewe bydrae van 2,4% - die grootste van al die basiese faktore wat gemeet word. Alhoewel landbou se proporsionele bydrae tot die primêre ekonomie klein is, is die wydkringende impak egter van die uiterste belang.

Anderkant die plaashek vind transformasie plaas wat die uiteindelike bydrae van landbou tot so hoog as 30% kan maak.



Namibië

Wat Namibië betref, was die situasie min of meer dieselfde. Volgens die nuutste ontleding van die BBP, het landbou tot die derde kwartaal van 2016 (die syfers vir die vierde kwartaal was ten tyde van hierdie skrywe ongelukkig nog nie beskikbaar nie) 3,12% tot die BBP bygedra.

Dit was ten spyte van die 1,6% bydrae in die derde kwartaal van 2016 ná ses agtereenvolgende kwartale van betekenisvolle negatiewe groei.

Vir die geheel van 2015 was landbou se bydrae 3,43%, wat 'n aanduiding is van die ongunstige toestande in die landbou in 2016 vergeleke met dié van 2015.

Dit is egter ook waar dat die toestand van 2015 oorgespoel het in 2016. Vir die meeste sektore het die vierde kwartaal egter altyd goeie nuus in terme van die kwantum van bydrae tot die ekonomie, maar landbou se bydrae kan egter negatief wees in die vierde kwartaal van 2016 vanweë die seisoenale aard van die sektor.

Nou dat die landbou besig is om te herstel, sal versnelde toegang tot markte een van die produktiefste remedies wees. Ná-droogte heropbouing­strategieë sal uiteraard hiermee kompeteer, want in beide lande moes nasio­nale kuddes noodwendig verklein word.

Beide lande gaan ook intens gebuk onder die normale negatiewes van ekonomieë met geen tot trae groei, naamlik die noodsaaklikheid van sosiale beskerming aan die armes. Die omvang daarvan en die feit dat die net van sosiale beskerming al wyer strek binne die klimaat van swak groei en werkskepping, plaas 'n rem op groei-inisiatiewe.

Die grondoorsaak lê egter veel dieper, naamlik in die vermoë van die talle afhanklikes van sosiale beskerming om te kan werk, en dít is weer 'n afgeleide van vaardigheid en onderwys.

Die ekonomie moet groei om die talle groeiende sosiale verantwoordelikhede te kan nakom.

Binne die nasionale ontwikkelingsplanne van beide lande is landbou uitgewys as een van die belangrikste bydraers tot dié ontwikkelingsideaal, met 'n beduidende verwagting ten opsigte van versnelde ekonomiese groei.

Dit gebeur egter nie, wat beteken beide lande se leiers is onder druk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!