Wanderers en Old Boys brul voor semifinaal
Wanderers en Old Boys brul voor semifinaal

Wanderers en Old Boys brul voor semifinaal

Die naweek se verloorspanne, CCD Tigers en MR24/7 Welwitschia, het veral met hul kolfaanslag misluk.
Andrew Poolman
Tielman van Lill en Andrew Poolman



Die Namibiese naatbouler Jan Frylinck behoort gou weer piekfyn te wees nadat hy Saterdag 'n harde hou teen die kop in 'n klubwedstryd opgedoen het.

Die 26-jarige veelsydige speler het as kolwer 'n vyftigtal behaal in Samsung FNB Wanderers se oorwinning met 120 lopies teen CCD Tigers by laasgenoemde se veld.

Ná sy kolfbeurt van 71 lopies (84 balle, ses viere, twee sesse) het Frylinck egter nie wel gevoel nie. In 'n stadium terwyl die jong Eagles-snelbouler Ben Shikongo geboul het, het Frylinck die borand van die kolf bygekry en die bal het teen sy kolfhelm vasgevlieg.

Hy is agterna hospitaal toe vir 'n evaluasie en die bevinding was dat hy ligte harsingskudding opgedoen het. Ná 'n paar rusdae sal hy egter Woensdag weer kan oefen en hy behoort dus op sy pos te wees vir die onoorwonne Wanderers se verskyning komende naweek in die semifinaal van Krieket Namibië se premierliga in die eendagformaat (50 boulbeurte).

Frylinck het gevolglik glad nie geboul nie, maar Wanderers (249/8) het nietemin die CCD-kolflys tot net 129 almal uit beperk, vir 'n oortuigende sege in sy laaste ligaverpligting.

Ter aanvang van Wanderers se kolfbeurt het Danie van Schoor ook 'n vyftigtal opgestel (63 van 104 balle, 6x4 2x6), met JC Balt (17 van 33 balle) wat as sy aanvangsvennoot kolfkans gekry het.

JP Kotzé (4) is agter die paaltjies deur Wayne Raw uitgevang van die boulwerk van Tawanda Sithole (3/52 in 10 bb). Saam met Frylinck se vyftigtal het Michau du Preez (25 van 24 balle), Ruben Claassen (15), kaptein Nicolaas Scholtz (22) en Bernard Scholtz (19 nie uit nie van sewe balle, 2x4 2x6) ook kleiner bydraes gelewer.

CCD se kaptein Stephen Baard (1/49 in 10 bb) het die waardevolle paaltjie van Karl Birkenstock gekry, wat met sy tweede bal vir 'n nulletjie uitgevang is. Nicol Loftie-Eaton (2/46 in 10) het van Du Preez en Claassen ontslae geraak.

Die gasheerspan se kolwers kon nie die pas volhou nie. Die topdrie Stephen Baard (12), Wayne Raw (3) en Joshuan Julius (12) het almal voor Nicolaas Scholtz (3/17 in 6 bb, twee leeg) se draaiers met die nuwe bal geswig.

Later het Karl Birkenstock met vier paaltjies (4/20 in 10, twee leeg) en Bernard Scholtze met 2/38 in 10 ook verhinder dat CCD die wurggreep kon afskud.

Uiteindelik was CCD se nommer nege Lucian Bampton met 27 nie uit nie (42 balle, 1x4 1x6) loshande sy span se hardnekkigste kolwer, met Tawanda Sithole (16 van 35 balle, 1x4 1x6) die tweede grootste bydraer.



KUSSPAN VINNIG UIT PAD GEVEE

By die Sparta-veld op Walvisbaai was Ceiling Centre WHS Old Boys se draaiboulers onspeelbaar vir die plaaslike MR24/7 Welwitschias, wat vir 'n skamele 79 uitgeboul is voordat WHS met tien paaltjies gewen het.

Christiaan Schumacher was die verwoester met sy draaiballe vir Old Boys en trek ses paaltjies vir net 15 lopies in sy 5.5 boulbeurte plat. Schumacher het Namibië nog nie op internasionale vlak verteenwoordig nie, maar kan 'n geheime wapen met sy variasies wees. Hy is ook 'n bedrewe kolwer wat die wilgerlat kan laat praat.

Mauritius Ngupita, 'n ewe doeltreffende draaibouler, laat stap drie slagoffers vir 26 lopies.

Net Shalako Groenewald, met 29 lopies van 28 aflewerings (vier viere) slaag daarin om sy merk as aanvangskolwer vir die Welwitschias te maak, totdat Ngupita hom skoonboul.

As dit nie vir 18 wydlopers deur Old Boys was nie, is die kusspan nog meer verneder, want die tweede hoogste kolftelling was Samson Chivi (7).

Met Old Boys se gereelde kaptein Zane Green steeds beseer, het Craig Williams en Gerhard Janse van Rensburg die kolfbeurt geopen. Williams het slegs 22 balle nodig gehad om 57 nie uit nie te bereik. Met ses viere en vier sesse het hy ingeklim om te verseker die ganse wedstryd was in minder as twee ure verby.

Die jong Janse van Rensburg is 'n gulde kans gegee om ondervinding as aanvangskolwer op senior vlak op te doen. Sy 20* lopies kom van 17 aflewerings en hy laat klap vier balle teen die grenstou om die wenlopies binne net 6.3 boulbeurte te help bereik.

Die kusspan se draaibouler-broers, Shalako en Zhivago Groenewald, kon nie die Williams-kragvertoning stuit nie. Veral Shalako is swaar in sy twee boulbeurte vir 0/40 gestraf; Zhivago eindig met 0/19 ná 1.4 boulbeurte, terwyl Michael van Lingen 0/19 in sy twee boulbeurte afstaan.

• Komende Saterdag sal die onoorwonne voorloper Wanderers dus teen span nommer vier op die puntelys, Trustco United, vir 'n plek in die finaal opgeweg word.

Die huidige titelhouer WHS Old Boys (tweede) sal in sy semifinaal by CCD Tigers moet verbykom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!