Weidingsherstel ‘n prioriteit na dié droogte
‘n Kenner meen die enigste manier vir landbouers om vooruit te boer, is om die nasionale weidingskrisis te takel.
Elvira Hattingh - Veeprodusente asook die lewendehawebedryf is ongeag die droogte kniediep in die moeilikheid as dit by weidingstoestande kom.
Mnr. Colin Nott, wat aan die hoof staan van die spesiale koördineringseenheid wat die nasionale weiveldbestuursbeleid en -strategie (NRMPS) implementeer, het tydens die Landbouvooruitskouiingskonferensie op Dinsdag 8 Oktober in Windhoek gesê in heropbouing ná die droogte behoort die klem op die verbetering van weidingstoestande te wees.
Nott sê ‘n volhoubare bestokkingskoers is agt keer belangriker vir ‘n winsgewende boerdery as enige ander faktor - wat insluit vee se vrugbaarheid, hul prestasie of karkasgrootte. Hy sê as jou weidingskapasiteit aanhou verswak, kan jy nie jou winste vergroot deur die ander faktore te probeer verbeter nie.
Hy sê in groot dele van die land was die bestokkingskoers voorheen 1:10, maar nou is dit sowat 1:30.
“Ons het tans drie keer meer grond nodig om dieselfde aantal vee te produseer. Die probleem is nié ons grond of ‘n gebrek aan reën nie. Ons grond het in die verlede soveel vee gedra. Dit het eerder met ons mense te doen.”
Nott sê die droogte het die land se swak weidingstoestande verder beklemtoon en landbouers in ‘n kritieke situasie gedompel.
Hy sê ook die herstel van veegetalle is nou noodsaaklik vir verbeterde weiding ná die droogte. “Die grond het vee nodig om te herstel; in droë klimatsdele kan weiding nié op sy eie herstel nie.”
Nott sê tot 60 miljoen ha weiding in Namibië is tans gedegradeer, met tot 45 miljoen ha hiervan wat boonop onder bosindringing gebuk gaan.
“Dit bring ‘n jaarlikse verlies van N$3 miljard vir die Namibiese ekonomie mee,” het hy gesê.
Sowat 30 miljoen ha van die gebiede waar weiding gedegradeer is, val in kommunale gebiede. Boere in dié gebiede is tans nie in staat om dit om te keer nie omdat hulle nie die nodige meganismes en infrastruktuur het om weidingsplanne en -beheer toe te pas nie.
HERSTEL VAN DRAKRAG
Nott sê landbouers is by magte om twee faktore te beheer: Die vermindering van produksiekoste per dier asook die verbetering van produktiwiteit per ha.
“Ons moet die drakrag na 1:10 herstel. Ons kan nie van die huidige 1:30 na 1:40 gaan en probeer om steeds ‘n wins te maak nie. Dit is noodsaaklik en die sleutel vir oorlewing,” het Nott gesê.
“Die eerste ding wat jy moet doen is om meer gras te kweek en jou volhoubare bestokkingskoers te herstel. Dit kán gedoen word, word tans gedoen en is al gedoen.”
Nott sê dit is eerstens nodig om die plantmateriaal bó en onder die grond te vermeerder sodat mikrobiome kan vermeerder.
“Namibiese landbougrond was voorheen redelik goed bedek, maar nou is daar kaal grond waar mikrobes verlore gaan.
“As jy nie mikrobe het nie, is jou grond nie gesond nie en kan jy vergeet dat dit gras sal produseer. Mikrobers verbeter die grond se koolstofinhoud asook die die werking daarvan.
“Dit sal op sy beurt tot verbeterde grondbedekking dwarsdeur die jaar lei en is een van die belangrikste maniere om die grondstruktuur te verbeter.
“Mikrobes is nodig om kos aan die gras beskikbaar te stel sodat dit kan groei.
“Plante se produktiwiteit asook die aantal mikrobes in die grond kan verbeter word deur verbeterde weidingsbestuur. Dit is al oral oor die wêreld gedoen.
“As dit behoorlik gedoen word, beteken dit wins vir die boer, dit is gesond vir die verbruiker en voordelig vir beide die Namibiese ekonomie en die planeet.”
BENUTTING, RUSTYD NOODSAAKLIK
Nott sê weiding het slegs twee goed nodig: Dit moet bewei word omdat benutting produktiwiteit bevorder, maar ook genoeg tyd kry om te herstel.
“Jou grond, die mikrobes daarbinne en meerjarige grasse het dit nodig.”
Nott sê ‘n mens kan oorbeweiding asook te veel rus vir weiding in dieselfde kamp hê. “Die intensiteit van beweiding bepaal die hoeveelheid tyd wat plante benodig om weer te herstel.
“Tydens die droë seisoen wat gras nie groei nie, is dit belangrik dat meerjarige grasse se biomassa bó die grond benut word,” het hy gesê.
Nott sê as vee net die bopunte van gras vreet, is dit moontlik om hulle oor 40 of 50 dae toe te laat om weer dieselfde gras te benut, afhangende van in watter gebied jy woon en of dit gereën het. Terselfdertyd is ‘n veel langer rustyd nodig as gras tot net bo die wortel geëet is.
“Om dit egter te kan doen, is dit nodig om beskikbare weiding voortdurend dop te hou en jou bestokking dienooreenkomstig aan te pas.
“As jy min reën ontvang en swakker weiding het, verminder jou vee. Meer reën en meer weiding noodsaak dat jy meer vee daarop moet laat wei omdat gras benut móét word,” het Nott gesê.
BEDRYFSINISIATIEF
“Ons kan weidingstoestande verbeter en primêre produktiwiteit verbeter. Ons sal dit egter slegs regkry as ons die meerderheid Namibiese boere kan kry om hierdie praktyke gewillig toe te pas.
“Ons praat van 200 000 huishoudings wat hoe hulle dinge doen, moet verander. Dit is nie net landbouers se probleem nie. Dit vereis ‘n gekoördineerde reaksie wat die regering, banke, markte en skenkers insluit. ‘n Nuwe beweging moet hiervoor begin word,” het Nott gesê.
Nott sê die NRMPS-projek binne die ministerie van landbou, water en bosbou se weidingsbeleid, het reeds die eerste stap gedoen om nasopnale weiding te verbeter. Hy meen egter markinsentiewe, bankleningskemas, insentiewe deur die regering, banke en landbou-unies moet ook geskep word.
Hy meen ook boere sal gehelp moet word om vinniger van hul vee ontslae te raak wanneer droogtetoestande dit vereis en boonop nie op dié veeverkope belas word nie.
“Kommunale gebiede kan en moet ‘n groot rol in die vernuwing van die Namibiese ekonomie speel. Hulle kan dit slegs doen binne as hulle grondeenhede kan registreer en die beweiding daarvan kan beplan.
“Tot dan, kan weiding nie reg bestuur word nie en hul produktiwiteit dus nie verhoog nie,” het Nott gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie