Welwitschias bou voort op goeie peil
Rugby
Tielman van Lill - Die Windhoek Draught Welwitschias het Saterdag hul 2017-veldtog in die Curriebeker eerste liga met mening op dreef gekry toe hulle die Oostelike Provinsie Kings in Windhoek met 51-25 oorrompel het.
Die wenspan het ses keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier.
Die aanskoulike kragmeting kan sekerlik gesien word as 'n beginpunt van groter dinge vir die Welwitschias, wat verlede naweek in Bloemfontein met 66-59 teen die Griffons verloor het (nege drieë teen tien) om hul eerste twee bonuspunte te behaal.
Die plaaslike rugbypubliek kan stadig maar seker hul terugkeer na die Hage Geingob-stadion maak om weer uithalerrugby te sien.
Die skeidsregter, mnr. Stephan Geldenhuys van Suid-Afrika, het die Welwitschias met 13 strafskoppe gepeper, terwyl hy sy arm net agt keer teen die besoekers gelig het.
Hoewel OP ná elf minute die eerste punte met 'n strafskop aangeteken het, het die Welwitschias kort daarna teruggeslaan toe agtsteman Christo van der Merwe ná 'n lynstaan met 'n kraglopie oorgebars het om die telling ná Theuns Kotze se doelskop tot 7-3 te laat rek.
OP slaan gou terug toe sy regtervleuel Allister Arends in die hoekie oorval om die voortou met 8-7 te neem. Met herinnering van die rekordtellings in die laaste twee provinsiale seisoene, het sommige toeskouers dalk visioene van nóg 'n pak slae sien kom. Maar dit was die laaste keer dat die besoekers sou voorloop en hulle kon eers weer in die tweede helfte die tuisspan se verdediging klop.
Die Welwitschias se gebiedsvoordeel en balbesit van 'n geskatte 80 persent in die eerste helfte, plaas hulle op die voorvoet en hulle teken 16 onbeantwoorde punte aan. Ná regtervleuel Johann Tromp se drie (25 minute) in die regterkantse hoek, tref Kotzé se dodelike skopvoet met 'n doel- en drie strafskoppe om rustyd met 'n voorsprong van 23-8 koeldrank te gaan drink.
Tweede helfte
Dit moes 'n bekommerde OP-span gewees het wat rustyd haastig planne moes smee om die Welwitschias te stuit en die besoekers het inderdaad beter gevaar, maar dit het eers gebeur nadat hul plaasvervangers opgestuur is.
Die tuisspan se kaptein Rohan Kitshoff se vyfpunter en Kotzé se trefferskop jaag die telling verder tot 30-8 op.
OP vervang vroeg sy sesflank Renier Erasmus met Justin Hollis en Luvo Claassen draf in losskakel Curtis Sias se plek op, maar die Welwitschias se flank Thomasau Forbes druk die volgende drie en Kotzé korrel raak (37-8).
Samespel verbeter vir die OP en Zingisa April, sy 7-flank wat soos 'n wafferse senter gapings kan slaan, val vir sy span se tweede drie oor, waarna skrumskakel Sonwabo Majola verdoel (37-15).
Die Oos-Kapenaars stuur nóg vars bene op met stut Dewald Barnard wat deur Xandre Vos vervang word en vir die gasheerspan maak slot Ruan Ludick vir Denzil van Wyk plek. Met linkervleuel Ivan-John du Preez se drie in die 59ste minuut wys die OP dat hy met die telling op 37-20 nog nie gaan lê het nie.
Dit is egter buitesenter Lesley Klim se sprankeldrie en Tromp se stukkie afronding agter die pale wat die laaste sê het met Kotzé se skopvoet wat die Welwitschias se telling vir oulaas tot 51-20 laat styg. Die Namibiese losskakel is met 35 tans die voorste puntemaker in die kompetisie.
Die OP se bulslot, Anele Lugisa, draf ná die finale toeter deur vir OP se troosprys en vierde drie deur om 'n enkele bonuspunt huis toe te neem.
Die puntemakers: Welwitschias: Drieë deur Johann Tromp (2), Christo van der Merwe, Rohan Kitshoff, Thomasau Forbes en Lesley Klim. Theuns Kotzé tref met ses doel- en drie strafskoppe vir sy bydrae van 21 punte.
OP Kings: Drieë deur Riaan Arendse, Zingisa April, Ivan-John du Preez en Anele Lungisa. Sonwabo Majola tref met een straf- en doelskop.
• Al die spanne in die eerste liga het sover twee wedstryde agter die rug. Die Welwitschias bevind hulle tans met sewe punte in die vierde posisie met sewe punte, teenoor die Down Touch Griffons (10 punte), SWD Arende (8), Luiperds (8), Boland Kavaliers (6), Hino Valke (5), Grens Bulldogs (2) en OP Kings (2).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie