Wenbul herregistreer, maar titel kwyt
Wenbul herregistreer, maar titel kwyt

Wenbul herregistreer, maar titel kwyt

Die telersvereniging en Botes het ’n skikkingsooreenkoms bereik, maar die bul sal nié sy Suid-Afrikaanse titel in 2014 herwin nie.
Elvira Hattingh
Die Brahmaan-bul Lared Shepard 300, met sy korrekte vaar asook sy nageslag, sal as stoetdier herregistreer word. Hy sal egter nié sy titel as 2014 se Suider-Afrikaanse Breedplan Bul van die Jaar herwin nie.

Dié nuus is in ’n verklaring wat Dinsdag deur die Namibië Brahmaantelersvereniging (NBBS) uitgereik is.

Die telersvereniging sê die saak met mnr. Danie Botes, eienaar van dié bul en die Lared Brahmaanstoet, is buite die hof geskik.

Dit volg nadat Botes die telersvereniging asook nege ander in 2015 hof toe gesleep het omdat Lared Shepard 300 se registrasie van hul databasis geskrap is. Dit is gedoen nadat Botes nie die nodige bewyse van die bul se korrekte vaar gelewer het nie.

Die telersvereniging sê vir hulle was die belangrikste kwessie dat Botes sy eis laat vaar van N$3,5 miljoen vir onder meer reputasieskade en laster nadat die vereniging glo kwaadwillig versuim het om die bul te erken, asook die gevolglike onttrekking van die bul se wentitel.

Die NBBS sê ná gesprekke tussen die onderskeie regsverteenwoordigers is op ’n skikkingsooreenkoms besluit, waarvolgens Botes sy eis teruggetrek het en die vereniging die bul en sy nageslag herregistreer, dié keer met sy korrekte vaar (DB 08-0043). Elke party het onderneem om hul eie regskoste te dra.

Die vereniging sê hulle het ingestem tot herregistrasie ter wille van die belange van hul lede, die aansien van die beesras, die beduidende koste van ’n lang regsgeding en, die belangrikste, die feit dat Botes sy finansiële eis onttrek.

AGTERGROND

Die NBBS sê die bul het die titel as Suider-Afrikaanse Breedplan Bul van die Jaar verkeerdelik ontvang omdat Botes die verkeerde bul as sy vaar aangedui het.

Die vereniging verduidelik dat Botes Shepard die eerste keer in 2011 op hul databasis geregistreer het, met Lared Smoke wat as sy vaar aangedui word. Smoke is ’n vorige wenner van die Breedplan-kompetisie.

Ten spyte daarvan dat DNS-toetse glo getoon het dat Smoke nie die bul se vaar kon wees nie, wou Botes, volgens die vereniging, nie die feit aanvaar nie.

“In 2014 het Botes vir die Breedplan-kompetisie ingeskryf met Smoke as Shepard se vaar. Nadat inskrywings vir die kompetisie gesluit het, het hy die besonderhede van Shepard se vaar by die Namibië Stoettelersvereniging (NSBA) verander na DB 09-0180. Dit was óók die verkeerde vaar,” het die telersvereniging gesê.

Volgens die NSBA het Botes beslis teen einde Augustus geweet dat die bul bepunt sal word volgens dit wat op die kompetisie se inskrywingsvorm weergegee is en waar Smoke as die vaar aangedui word.

“Ten spyte hiervan het hy die toekenning by die seremonie ontvang sonder om enigeen se aandag op die enorme fout oor Shepard se vaar te vestig – ook nie eens toe die beoordelaar spesifiek aan die gehoor gesê het dat die bul se pa ’n voormalige wenner, naamlik Smoke, was nie. ”

Die NBBS sê dit is vanweë die rol wat hulle in die ondersoek oor die bul se vaar gespeel het, dat Botes hulle voor die hof gedaag het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!