Wig tussen NRU en Maatskappy ál groter
Die Namibiese rugbypolitiek woed agter die skerms steeds voort.
Andrew Poolman
Die werkooreenkoms tussen die Namibië Rugby-unie (NRU) en die Namibiese Rugbymaatskappy in sy huidige vorm het vir die NRU onaanvaarbaar geword en is eensydig beëindig.
Ná die voortslepende wrywing tussen die twee partye wat die afgelope maand reeds Namibië sy deelname aan die Curriebeker eerste liga gekos het en steeds nie opgelos is nie, het die twee partye Maandag ’n ontmoeting met die Sportkommissie en die minister van sport, jeug en nasionale diens, mnr. Erastus Utoni, gehad.
Die twee vernaamste besluite wat uit dié ontmoeting van bykans vier ure gespruit het, is gister deur die NRU-president, mnr. Corrie Mensah, op ’n nuuskonferensie aan die media oorgedra.
Eerstens is ooreengekom dat Mensah dertig dae gegun word om ’n voorgestelde nuwe werkooreenkoms tussen die Unie en die Maatskappy op te stel.
Tweedens mag rugby en die spelers nie negatief deur die besluite op raadsvlak beïnvloed word nie en sal die drie vriendskaplike wedstryde wat deur die Maatskappy vasgeknoop is, soos beplan voortgaan.
Die drie besoekende spanne uit Suid-Afrika wat in Windhoek teen die Namibiese uitnodigingspan te staan sal kom, is die presidentspanne van die Blou Bulle (komende Saterdag), die Boland Kavaliers (6 Oktober) en die Westelike Provinsie (13 Oktober).
MAGSTRYD SLEEP VOORT
Die Namibiese Rugbymaatskappy, met Mervin Green as uitvoerende hoof en Bradley Basson as raadsvoorsitter, het oor die afgelope jaar operasioneel begin raak.
Die aanvanklike verstandhouding was dat die Maatskappy die professionele kant van die spel hanteer – met ander woorde die nasionale spanne en hoëprestasieprogram, die kontraktering van nasionale spelers en afrigters, asook die werwing van borge om beide die professionele en amateurkant van die spel te finansier.
Aan die ander kant sou die Rugby-unie die amateurspel bedryf en bevorder, wat ontwikkeling, vrouerugby, sewesrugby en klubrugby insluit.
Mensah, as die nuwe president, en sy bestuur is in April vanjaar by die NRU se jaarvergadering verkies.
Lyn Jones se bedanking ná die SuperSport-uitdaagreeks, asook sy bestemde opvolger Roger Thompson se onbeskikbaarheid vanweë persoonlike redes, het egter ’n situasie geskep waar afrigters vir beide die Windhoek Draught Welwitschias (die plaaslike amateurspan wat op provinsiale vlak meeding), die nasionale o.20-span asook die nasionale sewesspan aangewys moes word.
Die meningsverskille het in Augustus, voor die afskop van die Curriebeker eerste liga, ’n konflik in die openbare oog geword toe die Maatskappy vir JP Nel en Jaco Engels as afrigters van die Welwitschias aangestel het, terwyl die Unie aangekondig het dat Johan Diergaardt die hoofafrigter is.
Terwyl die Unie tevore die mandaat aan die Maatskappy oorgedra het om onder meer die afrigters aan te stel, is die werkooreenkoms nou in geheel nie meer aanvaarbaar nie.
Die Maatskappy en sy prominente borge het volgehou dat net die betaalde afrigters as deel van die bestaande hoëprestasie program erken word, het die Unie voet by stuk gehou oor Diergaardt se aanstelling.
“Diergaardt het ’n Wêreldrugby vlak 3 afrigterskwalifikasie en met die 2011 Wêreldbeker as deel van sy ondervinding, is hy die bes gekwalifiseerde Namibiese kandidaat. Ons aanvaar dus nie die opvatting dat hy sommer van nêrens af ingedruk word nie,” het Mensah gesê.
Die Maatskappy het onlangs ’n nuuskonferensie gehou waar uitgewys is dat Namibië se onlangse kwalifisering vir die 2019 Wêreldbeker deel van die suksesverhaal in sy kort bestaan is. Die herstelde vertroue van borge, insluitend Wêreldrugby wat sedert 2012 sy belegging in Namibië van 80 000 tot 660 000 pond per jaar vergroot het, is ook op rekord geplaas.
Volgens Mensah het die Maatskappy Vrydag gereageer dat hy nie die Unie se eensydige beëindiging van die werkooreenkoms aanvaar nie en dat sake soos normaal moet voortgaan.
Oor en weer briewe kon sake nie nader aan ’n oplossing bring nie en ten laaste is die Sportkommissie en die minister betrek om die harmonie te help herstel, wat tot Maandag se vergadering gelei het.
Mensah wou nie die redes bespreek waarom die Unie die werkooreenkoms opgeskort het nie.
Hy het gesê daar word gewag op terugvoer van die Maatskappy se kant, sodra dié se voorsitter, mnr. Bradley Basson, die nuwe kompromie-ooreenkoms met sy volle raad, die prominente borge insluitend die Namibië Brouerye en FNB Namibia, asook Wêreldrugby bespreek het.
Die pos van spanbestuurder van die Welwitschias is ook nog nie amptelik uitgeklaar nie. Dit is onseker of Desiree Coetzee soos die afgelope seisoene sou voortgaan, en of sy deur die NRU se aanstelling Greg Olivier vervang word.
Mensah het gesê die nuwe kompromie-ooreenkoms sal ook aan SA Rugby as ’n belangrike rolspeler vir insluiting in provinsiale kompetisie gekommunikeer word.
“Die Unie wou nooit hierdie meningsverskille in die openbare forum en in die media laat beland het nie, maar sulke dinge gebeur. Dit is in die Unie se grondwet dat hy ’n liggaam soos die Maatskappy op die been kan bring om finansiering te werf en om sy bates te bestuur.
“Die nuut verkose NRU-raad het egter probleme met die interpretasie van die werkooreenkoms soos ons dit intussen ontvang het.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie