Wolwe in skaapklere
Wolwe in skaapklere

Wolwe in skaapklere

[email protected]
Sanet de Waal
Otis Finck

’n Bekende polisie-inspekteur sê altyd wanneer iets te goed lyk of klink om waar te wees, dan is dit waarskynlik net só; té goed om waar te wees.

Hy beveel aan jy moet seker maak jy koop wat werklik bestaan voor jy besluit om ’n enkele sent daarvoor te betaal.

Onlangs wou ’n familielid geld leen. “Vir wat gaan jy dit gebruik?” vra ek sommer so uit gewoonte.

“Daar is iemand in Engeland wat vir my iets wil stuur en ek moet net vir die vervoerkostes betaal,” verduidelik sy opgewonde.

My nuuskierigheid kry onmiddellik die oorhand

“Hoeveel en wat gaan sy/hy vir jou stuur?”

“Ek het so N$5 000 nodig. Dit is bokse vol klere, grimering en juwele,” vertel sy.

“Nou waar kom jy aan die persoon?” wil ek weet.

“Ons het op Facebook ontmoet en toe begin gesels,” verduidelik sy en stuur vir my ’n klomp foto’s van die “waardevolle” items wat op haar wag om my te oortuig.

Ek vra vir die koerier se kontak- en bankbesonderhede.

Ek sien dis ’n Suid-Afrikaanse selfoonnommer en die rekeninghouer bank by ’n bekende plaaslike handelsnaam.

’n Alarm gaan in my agterkop af.

Toe ek bel, antwoord ’n man met ’n sterk Nigeriese aksent.

“Good day. How may I be of assistance?”

“I must pay money over for stuff to be sent to Namibia. May I have the name of the company and the account details,” deel ek die stem mee.

“Yes indeed. I represent Lightning Fast Couriers and we usually facilitate the distribution of stuff from the UK on behalf of this very generous client. Once we receive confirmation of the deposit, we will get the goods to you as soon as possible,” bevestig hy.

Met dit gesê, eindig ek die gesprek en lig haar in om maar te vergeet van daai bokse vol leë “promises” wat nooit hulle weg na haar sal vind nie.

Dit laat my dink aan die advertensies met beloftes van groot rykdom wat natuurlik teen ’n fooi bekom kan word.

Hoekom maak die kwaksalwers nie van hul eie medisyne gebruik en sorg dat hulle self stinkryk word nie?

Om alles te kroon moet ek hoor van ’n vrou wat met haar pensioensente pad gevat het na Suid-Afrika sodat ’n toordokter die duisende dollar wat reeds aan haar behoort het, kon “vermenigvuldig”.

Die geld is glo behandel en in ’n skoenboks geplaas met instruksies aan haar om die boksie in die donkerste hoekie van haar klerekas by die huis in Namibië te gaan bêre.

Sy is ook aangesê om onder geen onstandighede die boks oop te maak voor ’n tydperk van ses maande verstryk het nie.

Dit sou glo die geld oorgenoeg tyd gee om te broei.

Wat ’n verrassing het op die arme vrou gewag!

Sy is met ’n slap riem gevang en van al haar pensioensente beroof.

Wys jou net hoe vindingryk skelms is en tot watter uiterstes hulle sal gaan om jou van jou swaar verdiende loon te laat afskeid neem.

Maar eers moet jy vir hulle “joke” val voordat dit kan gebeur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!