Wêreldkampioen lééf vir karate

In Goju-Kai-Karate-Do het Leonard Martin een van sy grootste passies ontdek.
Tanja Bause
Tanja Bause

“Toe ek vyf jaar oud was, het my pa my karateklasse toe gestuur omdat ek baie stout was en hy gedink het ek sal daar dissipline leer. Sy plan het nie gehelp nie, maar dit het wel my karateloopbaan begin – iets wat later in my lewe my passie en ’n baie suksesvolle loopbaan van 46 jaar geword het,” vertel Renshi Leonard Martin (51), sesde dan swartgordel, nasionale stylhoof en hoofinstrukteur van Namibia Goju-Kai-Karate-Do.

Leonard is in Walvisbaai gebore en het daar sy skoolloopbaan voltooi.

“Ná skool het ek deur die wêreld getoer en karate as my passie gevolg.”

GOJU-KAI

In 1985, toe Leonard 15 jaar oud was, het hy saam met die S.W.A. junior karatespan in Durban aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem en vir Renshi Frank Brandon leer ken.

“Dis was waar alles regtig met karate vir my begin het. Ons het destyds net Shotokan en Goju-ryu as karatestyle in Namibië gehad, maar Brandon het my aan Goju-Kai blootgestel. Toe ek gehoor het dat Shihan Trevor Norval Namibië toe trek, het ek by sy dojo (klub) aangesluit en nog nie weer teruggekyk nie.”

In 1991 is Leonard Japan toe vir sy Nidan gradering.

“Dit was ’n historiese oomblik in my lewe toe ek die seun van die stigter van Goju-Kai leer ken het. Met my terugkoms van Japan af het ek geweet dat die ware Goju-manier die regte pad vir my en my lewe is.”

In 2001 is die derde Goju-Kai wêreldkampioenskap in Australië in Perth gehou en Leonard het goud vir sy Jiyu-Kumite gewen en daardeur wêreldkampioen in dié kategorie geword.

“Dit was die hoogtepunt van my lewe. Ek sal dit koester tot die dag wat ek sterf.”

In 2005 het hy aan die vierde wêreldkampioenskap in Nederland deelgeneem.

“Ek het wêreldkampioen in die Ippon-Kumite-kategorie geword en ek was ontsettend trots dat ek nog met die jong manne kon meeding en hulle kon wen.”

Vier jaar later by die kampioenskap in Suid-Afrika het Leonard die nasionale span as hoofinstrukteur begelei. Daardie jaar is Leonard met ’n Ultimate Warrior-baadjie vir sy toewyding tot en suksesvolle deelname aan die Jiyu-Kumite en Ippon-Kumite bekroon.

“Net vier mense in die wêreld van Goju-Kai het hierdie eer te beurt geval – Shihan Frank Brandon van Suid-Afrika, Shihan Craig Soly van Australië, Shihan Mashatoshi Yamaguchi van Japan en ek. Vir my was dit nog ’n mylpaal in my lewe.”

Nog ’n hoogtepunt was toe hy in 2017 die Goju-Kai globale wêreldkampioenskap in Kanada op 47-jarige ouderdom gewen het.

“Ek het die meesterskategorie gewen. Ek het nie geweet dat ek dit nog in my gehad het om op daardie vlak mee te kan ding.”

Leonard is die hoofinstrukteur vir die Goju-Kai karatestyl in Namibië en dit maak hom trots om deel van sy studente se lewe te kan wees.

“Om te sien hoe hulle voor my grootword en groei en suksesvol in hul lewe is, beteken vir my alles en om te weet dat deel van die sukses deur karate is en dat ek kon bydra, is van onskatbare waarde.”

Sy seun Brandon-Lee en dogter Katelin is ook by karate betrokke en baie suksesvol.

Leonard onthou nog toe hy sy eerste swart gordel behaal het.

“Dis beslis ’n prestasie waarna almal streef – maar vir diegene vir wie karate hul absolute passie is, is dit slegs die begin van hul loopbaan.”

SPORT

Karate is wel sy passie, maar hy neem ewe ywerig deel aan Ysterman-driekamp, fietsry, swem en langafstand-drafkompetisies.

“Ek het in 1987 toe ek nog op skool was aan my eerste fietsrybyeenkoms deelgeneem. Die skool het geld vir ’n skoolbus ingesamel en ons het van Walvisbaai na Windhoek gery. Dit het later vir my daaroor gegaan om my fiksheid te toets en ek het begin om aan driekamp deel te neem.”

Leonard het reeds agt keer die Nedbank Desert Dash as soloryer of in ’n tweemanspan saam met sy seun gery.

“My eerste Desert Dash was ongelooflik. Ek het glad nie geweet wat om te verwag nie, maar dit was ontsagwekkend en ek was mal daaroor.”

Hy het ook reeds 20 keer agtereenvolgens die Cape Argus gery en tien keer op ’n streep die volle Ysterman voltooi. Hy het ook vier keer die Cape Epic voltooi en vyf keer aan die Munga deelgeneem.

“Die Munga is die moeilikste en taaiste wedren op aarde. Dis 1 154 kilometer van Bloemfontein na Kaapstad in vyf dae. Ek het drie van dié wedrenne voltooi en twee kon ek weens dehidrasie nie voltooi nie.”

Om met mense te kan werk, die jeug leiding te kan gee en te help waar hy kan, is vir Leonard baie belangrik, maar sy familie is sy alles.

Sy advies vir mense daar buite is om nooit op te hou hoop nie.

“Glo en jy sal bereik. Die lewe gaan oor uitdagings. As jy nie probeer nie, sal jy nooit weet of jy sou geslaag het nie.”

SY LOOPBAAN IN KORT

Hy het Namibië vir 27 jaar internasionaal verteenwoordig.

• Namibiese nasionale kampioen in kata en kumite van 1990 tot 2005.

• Internasionale Goju-Kai-Karate wêreldkampioen in kumite: 2001 in Australië en 2005 in Nederland.

• Internasionale Goju-Kai-Karate wêreldkampioen: Veterane kata en tweede plek vir kumite in 2017 in Kanada.

• Sone 6-kampioenskappe: Wen kata en kumite in 1995, 1996, 1997 en 1998; wen in 2000 die meesters goue medaljes in Johannesburg vir individuele kata en kumite, span kata en kumite en ope kumite.

• Afrika-spele: 1991 in Egipte, 1995 in Zimbabwe, 1999 in Suid-Afrika en 2003 in Nigerië. In kata en kumite deelgeneem en elke keer in die top agt geëindig.

• Afrika-spele: 2007 in Marokko, 2010 in Maputo as nasionale afrigter vir Namibië.

• Afrika-Spele: 2015 in Kongo as spanbestuurder.

• Namibië se nasionale afrigter en spanbestuurder by Sone 6, Streek 5, UFAK, Afrikaspeles en Afrika-kampioenskappe.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!