Wupperthal 1830 se rooibostee bring hoop
Wupperthal 1830 se rooibostee bring hoop

Wupperthal 1830 se rooibostee bring hoop

Johann Maarman – Nóú is ons op die map! Selfs die Engelse koningin kan maar nou ons fynproewer-rooibostee bestel!

So het ’n verheugde prof. Brian Figaji, voorsitter van die direksie van Bestinvestin, ’n maatskappy met 91% in swart besit, gesê nadat hulle vandeesweek hul eerste rooibostee-oes aan die plaaslike en internasionale mark bekend gestel het.

Nie enige rooibostee nie. Nie gemengde rooibostee nie. Wupperthal-rooibostee. Egte rooibos. 100%. Super-graad.

Daarom heet die naam ook Wupperthal 1830-rooibostee.

Die tee word eksklusief deur kleinboere van Wupperthal geoes, maar word by Nieuwoudtville Rooibos in die Noord-Kaap verwerk en verpak.

Figaji sê hulle het die ooreenkoms met die kleinboere en die rooibostee-werkers aangegaan omdat Bestinvestin die gemeenskap wou ontwikkel en as erkenning van kleinboere se rol in die rooibostee-bedryf.

“Ons het hierdie vennootskap op wedersydse respek vir mekaar en eerlikheid gebou.

“Ek is baie trots op hierdie ondersteuningsprogram vir die kleinboere en op hul positiewe reaksie. Vir my is dit ’n aanduiding van die vertroue en hoop wat hierdie vennootskap vir albei partye bring.

“Ons doelwit is om werkloosheid in Nieuwoudtville vir ’n ses te slaan, want vorentoe praat ons net drie dinge: bemagtiging, werkskepping en rooibos-tee.”

Matthew Sampson, uitvoerende bestuurshoof, sê ná drie jaar van harde werk, is hul gesogte Wupperthal-rooibostee nou op die mark. “Om so ’n projek aan te pak was nie maklik nie, maar as ’n mens jouself uitdaag, kan jy ’n agent vir verandering wees. Ons is diep dankbaar vir die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse regering wat saam met ons hande gevat het.”

Ons het hierdie vennootskap op wedersydse respek vir mekaar en eerlikheid gebou.

Prof. Brian Figaji

Edgar Valentyn, voorsitter van die Fair Wupperthal Rooibos-koöperasie, sê hulle was sedert Augustus 2015 deurlopend in gesprek met Bestinvestin.

“Oor die afgelope twee jaar waarin ons saam in een bootjie geroei het, van die verwerking en prosessering tot die verpakking van die tee, was daar vele uitdagings. Met trots kan ek sê dat ons nou uiteindelik daar is waar ons ’n reeds verpakte, luukse rooibostee aan die mark kan voorsien. Hierdie inisiatief sal daadwerklik ons kleinboere se finansiële welstand verbeter.”

Norman Shushu, Noord-Kaapse LUR vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die samewerking tussen sy departement, Bestinvestin en die kleinboere het net weer bewys watter resultate dit kan oplewer as almal bereid is om skouer aan die wiel te sit.

“Ons het nou die deur oopgemaak vir klein entrepreneurs om tee van hoë gehalte aan die wêreld te lewer. Dit ontsluit ook nuwe vennootskappe en ons landelike kleinboere word nou deel van die produksieketting. Meer nog, hulle word ook nou aandeelhouers.

“Ons in die Noord-Kaap het ’n super-moderne tee-aanleg in Nieuwoudtville gebou en vorentoe kan ons net die vrugte pluk.

“Hierdie aanleg skep nou werk vir mense en sodoende verlig ons ook die armoede in die dorp. Ons het soveel hoop vir hierdie tee-projek dat ons in die toekoms ook ystee en kosmetiese rooibosprodukte gaan vervaardig.”

· Joyene Isaacs, departementshoof van landbou in die Wes-Kaap, sê hierdie vennootskap tussen die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse regering bemagtig nie net die kleinboere en die gemeenskappe nie, maar dit skep ook die geleentheid vir kleinboere om hul produksie te verhoog. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!