ZAR X sê JSE ‘vertraag proses’
Dringende aansoek van die hand gewys
Nellie Brand-Jonker
Die maatskappy wat Suid-Afrika se tweede beurs, ZAR X, gaan bedryf, sê die JSE se poging om sy beurslisensie op te skort, is ’n vertragingstaktiek.
Geoff Cook, direkteur van ZAR X, verwelkom dit dat die appèlraad van die Raad op Finansiële Dienste (RFD) vandeesweek die dringende aansoek van die JSE van die hand gewys het om die beurslisensie op te skort hangende ’n appèl teen die toestaan van die lisensie.
Dit sal die eerste keer in 100 jaar wees wat Suid-Afrika nog ’n beurs kry.
Regter Louis Harms, adjunkvoorsitter van die appèlraad, het luidens ’n verklaring in sy uitspraak gesê daar is geen bewyse dat die JSE skade gaan ly of benadeel gaan word nie.
Volgens hom was die JSE se aansoek gegrond op die moontlike skade wat dit aan die finansiële stelsel van die land en sy beleggers kan aanrig.
Hy meen die JSE bespiegel hieroor.Die JSE se dringende aansoek vir tussentydse verligting is aanhangig gemaak hangende die aanhoor van die JSE se appèl teen die besluit van die RFD om ’n lisensie aan ZAR X te gee om ’n beurs te bedryf.
aPPèL STEEDS AANGEHOOR
Die RFD het begin September aan ZAR X ’n beurslisensie onderhewig aan voorwaardes toegestaan.
’n Beurslisensie is ook toe aan 4 Africa Exchange toegestaan.
ZAR X het vroeër die jaar by die RFD vir ’n lisensie aansoek gedoen.
Die RFD het aanvanklik ’n voorlopige lisensie toegestaan en die JSE het daarteen beswaar gemaak omdat die wet nie daarvoor voorsiening maak nie.
Die RFD se appèlraad het op 1 Augustus die JSE gelyk gegee en het opdrag gegee dat die voorlopige lisensie teruggetrek word.
Solly Keetse, hoof van die direktoraat van markmisbruik van die RFD, het gesê die JSE het die dringende aansoek om die besluit op te skort om die beurslisensie aan ZAR X te gee, op 12 September gebring.
“Dit is teleurstellend dat die JSE met sy strategie voortgaan om tegniese regsprosesse te gebruik om die opkoms van ’n werklike mededinger te vertraag,” sê Cook.
Hy sê die JSE het die proses wat deur die RFD gevolg is om die lisensie toe te staan, bevraagteken en het die “onwaar moontlikheid” geopper dat dit skade vir beleggers en die land se finansiële stelsel sal meebring.
“Die aanname dat mededinging vir die JSE sleg is vir beleggers en die finansiële markte is nie net ongegrond nie, maar hou ’n risiko in vir Suid-Afrika se swaar gewonne reputasie oor sy robuuste en doeltreffende finansiële stelsel.”
Volgens Cook dui die uitspraak van die appèlraad oor die dringende aansoek op min vertroue dat die JSE se appèl uiteindelik suksesvol gaan wees.
Cook sê hy hoop die uitspraak ontmoedig die voortsetting van die uiteindelike appèlsaak en ander partye wat soortgelyke taktieke wil gebruik.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie