• Tuisblad
  • Sake
  • Zimbabwiese argitekte vir ministerie van werke
Zimbabwiese argitekte vir ministerie van werke
Zimbabwiese argitekte vir ministerie van werke

Zimbabwiese argitekte vir ministerie van werke

Plaaslike professionele lui is bekommerd oor die redes vir en impak van voorkeuraksie.
Augetto Graig
Augetto Graig - “Ons sien geen rede hoekom hulle nie Namibiërs kan gebruik nie.”

Dit was die president van die Namibië Instituut van Argitekte (NIA), mnr. Willem Dewulf, se reaksie nadat die minister van werke en vervoer op 28 Julie die president van die Namibiese Raad vir Argitekte en Bourekenaars, mnr. Kevin McNamara, opdrag gegee het om 29 Zimbabwiërs van registrasievereistes vry te stel.

Alhoewel minister Alpheus !Naruseb die reg het om op die vrystellings aan te dring, verstaan die organisasie wat professionele lui in die bedryf verteenwoordig, nie sy redes nie, sê Dewulf.

“Veral met die huidige finansiële krisis in ag geneem, is daar meer as genoeg Namibiërs om werk vir die regering te doen, nadat baie van die praktyke verklein is en nou so min as moontlik werknemers aanhou,” het Dewulf gesê.

Volgens die permanente sekretaris van werke envervoer, mnr. Willem Goeiemann, is 'n ooreenkoms tussen Namibië en Zimbabwe om professionele lui te help in Namibië by toepaslike liggame soos die raad geregistreer. Die ooreenkoms is in 2012 onderteken en die raad is in Desember 2014 in die verband genader. Daarna het die ministerie die vrystellings op 13 April 2017 in die Staatskoerant gepubliseer. Die minister se brief aan McNamara het daarop gevolg.

Volgens Dewulf het die gedagte vir die ooreenkoms vyf jaar terug onstaan om professionele lui hierheen te bring en te laat werk mits hulle plaaslike argitekte en bourekenaars oplei.

“Baie min opleiding het dusver plaasgevind,” sê Dewulf, wat ook aandring dat die las van opleiding amper geheel en al op plaaslike professionele lui val.

Die instituut werk nou met die raad saam en is die professionele liggaam verantwoordelik om argitektuur in die land te bevorder, die wetenskap en kuns daarvan te beskerm en die belange van lede te ondersteun. Oor die algemeen is dit altyd teen vrystellings gekant omdat dit as onregverdig beskou word.

“Is regeringsprojekte van laer gehalte as private projekte, aangesien ongeregistreerde argitekte en bourekenaars daarop moet werk? Sal ons geregistreerde professionele lui nou nog meer werk moet verloor?” is van die vrae wat volgens Dewulf gevra word. “Veral die tydsberekening van die vrystellings is eienaardig omdat daar tans so baie Namibiërs beskikbaar is en wat werk soek,” het hy gesê.

'n Baie belangrike gevolg van die registrasieproses, wat die ministerie wil vermy, is aanspreeklikheid. Professionele lui in die bedryf word persoonlik by die raad geregistreer en nie as 'n maatskappy of firma nie. Dit beteken dat 'n argitek of bourekenaar wat 'n fout maak, persoonlik vervolg kan word.

Van die argitekte op die ministerie se lys is nie lede van die instituut nie, terwyl ander nie hul lidmaatskap betaal het nie. Lidmaatskap van die instituut is ook 'n vereiste vir registrasie by die raad, wat dus die minister se bevel bloot ignoreer. Goeiemann lê egter klem daarop dat die vrystelling van 'n spesiale registrasie net van toepassing is op die werknemers wat by die ooreenkoms met Zimbabwe betrokke is.

Dit is gekoppel aan die tydperk wat hulle vir die Namibiese regering werk en verstryk daarna, sê hy. Hulle kan ook nie aan individue of private instansies dienste lewer nie en die argitekraad mag dit monitor, sê Goeiemann. Die ooreenkoms word tans deur die kantoor van die prokureur-generaal hersien en dus is die werkskontrakte vir die 29 buitelanders tot 31 Oktober verleng, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!