Foto ter illustrasie. Foto Tanja Bause
Foto ter illustrasie. Foto Tanja Bause

Toerismebedryf tel kop op

Tweederdes na normaal
Besettingsyfers keer geleidelik terug na die vlakke voor die Covid-19-pandemie.
Henriette Lamprecht
Bedbesettingsyfers in die Namibiese toerismebedryf neem stadig maar seker toe.

Die algehele nasionale besettingsyfer was in April meer as 36,5%, teenoor die 27% in dieselfde tyd verlede jaar.

In April 2020 tydens die volle maand van die grendeltydperk, was dit ’n skrale 1,3%.

Volgens die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, is dit bemoedigend om te sien die land keer geleidelik terug na die vlakke voor die Covid-19-pandemie.

“In April 2019 het Namibië ’n gemiddelde kamerbesetting van net meer as 54% gehad. Dit beteken ons het nou al gevorder tot tweederdes terug na normaliteit,” het sy gesê.

Paetzold sê in 2019 het besoekers uit Europa sowat 50% van alle kamers beset. Vanjaar is dié vlak byna al bereik met 47% van die kamers wat deur gaste uit Europa, insluitend die Baltiese lande, Skandinavië en Brittanje beset word.

“Dis ’n positiewe teken wat aandui Namibië se tradisionele markte is terug tot byna normale vlakke,” sê sy.

Volgens Paetzold is die bedryf vol vertroue dat met aktiewe bemarking, spesiale aanbiedinge en die deelname van Namibiese toerismebesighede op nasionale, streek- en internasionale vlak die afgelope maande, die huidige herstelkoers sal voortduur.

“Daar is reuse-belangstelling in en aanvraag na Namibië van die internasionale reisbedryf.”

Internasionale lugrederye soos Qatar se terugkeer na Namibië aan die einde van Junie, sowel as die belangstelling van lugrederye soos KLM en Belgium Air om vennootskappe met die land te sluit, is verdere rede om te glo die toekoms lyk belowend, sê Paetzold.

Sy het gemaan die bedryf is bewus van die voortgesette uitdagings wat toerisme in die gesig staar en is daarom versigtig vir moontlike terugslae. Dit sluit in volgehoue reisbeperkinge weens die voortgesette bedreiging wat Covid inhou.

As deel van die vereniging se toewyding in die beplanning en bestuur van gesonde, volhoubare en professionele bemarking van die Namibiese toerismebedryf, bied HAN vanjaar weer sy jaarlikse HAN Tourism Trade Forum aan. Die forum, wat vir die eerste keer in 1999 aangebied is, bied ’n bedryfspesifieke platform vir verwante rolspelers in toerisme.

Ná ’n afwesigheid van twee jaar weens Covid-19, vind die forum oor twee dae vanaf 2 tot 3 Junie in Windhoek plaas.

“Dit bied ’n platform vir diensverskaffers en produkteienaars in die bedryf om idees te ontwikkel en saam met ons plaaslike vennote, insluitend toeroperateurs, konsultante en reisagentskappe te werk. Die doel is om toerpakkette te ontwikkel en die Namibiese produk so te ontwikkel dat dit aan internasionale verwagting voldoen en dit selfs oorskry!” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!