Lewensraad vir die nuwe generasie

Linda Grobbelaar
Die redaksiespan het dit goed gedink om ‘n persoonlike onderhoud met ‘n persoon van belang te voer tydens Gobabis Gymnasium se fees. Wie dan anders as oom Dawie Harmse, ‘n oud-Gobabiet en stigter van die Gobabis Alumni?

Oom Dawie is ‘n afgetrede skoolhoof met 40 jaar ondervinding in die onderwys. Hy is tans ‘n afgetrede konsultant wat spesialiseer in die strategiese begeleiding van Direksies en Beheerlliggame van skole. Ek het ‘n paar vrae aan oom Dawie gerig in ‘n onderhoud tydens sy besoek aan Gobabis Gymnasium se 21-jarige feesvieringe.

Hy vertel dat Gobabis hom altyd na aan die hart sal lê.

“Ek het grootgeword in Gobabis, my wortels lê hier en ek het gematrikuleer aan Gobabis Hoërskool. Soos die ou gesegde sê: ‘n mens vergeet nooit jou wortels nie. Na skool het ek die onderwys betree en tot vandag toe verstaan ek die uitdagings van onderwys vir Afrikaners. Ek het die voorreg gehad om immers eerstehands te ervaar hoe Gobabis ontwikkel het in die pragtige plattelandse dorpie wat dit vandag is. Na elke besoek aan Gobabis, word die feit dat God ‘n roeping het vir Gobabis Gymnasium in geheel, maar ook vir elke individu vir my duideliker. Elkeen van ons het ‘n roeping en ‘n bydrae wat ons moet maak tot ons land, ons gemeenskap met die Here se genade,” sê hy.

Oom Dawie sê die Gobabis Alumni-groep is gestig met die doel dat oud Gobabis leerlinge nie sal vergeet waar hul wortels lê nie.

“Die Gobabis Alumini is gestig deur oud-leerlinge van die Gobabis omgewing wat tans in Suid-Afrika woon en wat eintlik daardeur maar wil sê: Gobabis, ons vergeet nie van julle nie. Die Alumni is ‘n geregistreerde maatskappy en die grondwet sê ons ondersteun Gobabis Gymnasium en sy gemeenskap. Enige donasies wat gemaak word aan die Alumni vorm ook deel van die algehele ondersteuning wat die skole ontvang. Tans bestaan die Alumni uit om-en-by 60 lede. Die hart van die Alumni is om Gobabis te bedank en te onthou vir die ontwikkeling en groei wat Gobabis vir hulle gebied het in hulle kinderjare.”

Hy vertel dat hy ‘n neiging ondervind om leerlinge van plattelandse skole mis te kyk.

“Ek het eerstehandse ondervinding oor die impak wat die platteland op elke individu het. Julle is geneig om te dink die wêreld daar buite is beter. Moenie jou eie omgewing onderskat nie, hier lê geweldige krag en talent. Die gras lyk altyd groener aan die anderkant, maar mense van die platteland is sterk mense wat hou by basiese goed en bou ‘n sterk fondasie, terwyl die stad baie afleidings bied. Die leeu van vernietiging loop rond en as jy nie vasgeanker is in die bloed van Jesus nie dan kan jy ook vernietig word,” sê hy.

Verder sê hy dat leerlinge van kleiner skole en kleiner dorpe nie hoef terug te staan vir diegene wat van groter en meer glansryke agtergronde kom nie.

“Dis nie hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig.” is ‘n gesegde wat ek dikwels gebruik vir bemoediging. Onthou jul skool is klein in getal, maar in gees en in inbors is julle baie keer sterker as die massas wat jy voor jou sien. Dink maar aan Dawid wat alleen voor die Fillistyne gestaan het en hy kom in die naam van die Here. Jy kan in ‘n groot skool wees – alles kom na jou toe en julle hardloop oor die klein skole, maar hulle ervaar nie soveel terugslae nie. Dis die terugslae wat jou sterker maak en op die einde van die dag is dit nie Gobabis Gymnasium wat so sterk is nie, dis die Here se genade.

Geen omgewing kweek sterker mense as die platteland nie. Teleurstellings op die platteland is onvermydelik, maar om op te staan en weer te probeer is noodsaaklik,” sê hy.

Oom Dawie se verhouding met die Here is tasbaar en duidelik sigbaar in sy manier van lewe. Juis daarom is hy so ‘n groot mentor vir baie leiers in die onderwyssfeer. Ek sluit af met een van sy vele lewenswaarhede: “Die lewe se beste leerskool is: hoe swaarder jy kry, hoe sterker word jy in Christus.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!