Agribank staan hofaansoek teen
Saak hervat op 27 September
Kristien Kruger
“Dit is voor die hand liggend dat kliënte wat versuim om hul lenings by die eerste respondent [Agribank] te betaal, die eerste respondent dwing om sy mandaat uit te voer. Die aansoek is dus baie selfsugtig en onbedagsaam teenoor die hele Namibiese bevolking.”
So sê die Agricultural Bank of Namibia (Agribank) se bestuurder van regsdienste, me. Kuukuluntu Angula, in dié bank se beantwoordende beëdigde verklaring in die hofsaak waarin ’n instansie vir voorheen benadeelde boere die bank aanvat oor die beslaglegging op plase en die verkoop van dié plase op veiling.
VERKLARING
Die vereniging vir voorheen benadeelde kommersiële boere in Namibië (PDNCFU) beweer Agribank het – weens uitstaande skuld – beslag gelê op talle kommersiële plase wat lede van dié instansie deur die Regstellende Aksie Leningskema (AALS) aangekoop het.
Agribank sê in sy verklaring dat die PDNCFU nie locus standi [reg om jou tot die hof te wend] in hul aansoek bewys het nie en eis dat die aansoek gevolglik met koste van die hand gewys word.
“Die eerste respondent [Agribank] se invorderingsprosedures lei nie noodwendig tot verkope van eiendomme op veiling nie. Sover my kennis strek, is daar nie tans enige AALS-begunstigde wie se plaas verkoop word nie. Hierdie aansoek is op spekulasie gebring en kan nie slaag nie,” meen Angula.
PDNCFU-LEDE ONBEKEND
Angula voer ook aan dat die PDNCFU nie ’n lys van sy lede bekend gemaak het nie en nooit die plase van AALS-begunstigdes, wat die bank op veiling verkoop het of beplan om te verkoop, geïdentifiseer het nie.
“Die eerste respondent stel regstappe teen sy kliënte in vir hul versuim om hul lenings terug te betaal. Kliënte se wanbetaling laat die eerste respondent met geen ander keuse as om regsprosedures teen sulke kliënte in te stel nie.
“Waar die eerste respondent invorderingsprosedures aan die gang sit, doen hy dit onder omstandighede waar hy – volgens die wet – geregtig is om dit te doen.”
Die PDNCFU sê hul lede se wanbetalingdie kan grotendeels toegeskryf word aan die afgelope jare se droogte.
AGTERGROND
Die AALS het ten doel om voorheen benadeelde Namibiërs, wat reeds op groot skaal gemeenskaplik geboer het, te bevorder om kommersiële boere te word.
Die fokus is om die wanbalans in die eienaarskap van kommersiële landbougrond in privaat besit van vorige rassediskriminerende praktyke en wette te takel.
“Volgens statistiek vanaf September 2018, besit voorheen bevoordeelde individue sowat 27,9 miljoen hektaar. Dit is 70% van al die beskikbare landbougrond in die land.
“Voorheen benadeelde individue besit 6,4 miljoen hektaar en dit is slegs 16% van alle beskikbare landbougrond. Die regering besit 5,4 miljoen hektaar, ofte wel 14%,” lui PDNCFU se beëdigde verklaring.
Die partye het gister (Woensdag) voor regter Marlene Tommasi in die hoërhof in Windhoek verskyn.
Die saak is tot 27 September uitgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie