Bradley Coleman sal vir byna drie dekades agter tralies wees ná sy mislukte poging om teen sy vonnis te appelleer. Foto argief
Bradley Coleman sal vir byna drie dekades agter tralies wees ná sy mislukte poging om teen sy vonnis te appelleer. Foto argief

Geen uitkomkans vir verkragter, ontvoerder

Ontken skuld op alle aanklagte
'n Man wat skuldig bevind is aan verkragting en ontvoering se appèlsaak is verlede week van die hand gewys.
Jana-Mari Smith
’n Man wat tot byna drie dekades gevangenisstraf gevonnis is nadat hy in 2019 ’n vrou in Windhoek ontvoer en verkrag het, het misluk in sy poging om teen die skuldigbevinding en vonnis te appel­leer.

Hoërhofregters Naomi Shivute en Herman January het Vrydag Bradley Coleman se appèl van die hand gewys, wat bevind het hy het nie wesenlike of dwingende bewyse gelewer dat sy skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel moet word nie.

Verder het die hof bevind die klaagster in die aangeleentheid was ’n geloofwaardige getuie en die hof het geen rede gehad om in te meng met ’n streeklanddroshof se uitspraak in 2021 nie.

“Ons vind geen dwaling in die benadering van die betrokke hof op die gronde wat betwis word nie. ­Verkragting is ’n ernstige ­oortreding, ongeag of die slagoffer beserings opgedoen het of nie. Die klaagster se menswaar­digheid is ernstig geskend en haar privaatheid is aangetas,” het die regters bevind.

Coleman is op twee aanklagte van verkragting en ’n klag van ontvoering skuldig bevind en is in Mei 2021 deur streeklanddros Alexis Diergaardt van Windhoek gevonnis.

Die klaagster het gesê hy het haar op 1 Februarie 2019 onder valse voorwendsels na ’n gastehuis in Khomasdal gelok en gesê hy het hulp nodig om ’n verrassingspartytjie te reël. Coleman was destyds haar suster se kêrel.

Die vrou het vertel hy het haar oor die volgende ure, ook deur die nag, met ’n mes gedreig, vasgebind, kleefband oor haar mond geplak en haar twee keer verkrag.

Coleman het skuld op alle aanklagte ontken. Hy het erken dat hy die vrou vasgebind het, maar het gesê hy het later besef wat hy doen is verkeerd en haar toe losgemaak. Hy het verder beweer hulle het daardie aand konsensuele seks gehad.

Diergaardt het sy weergawe van die hand gewys en hom tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op elk van die twee aanklagte van verkragting, met drie jaar opgeskort op een van die aanklagte.

Sy het hom tot een jaar gevonnis op die aanklag van ontvoering, wat saam met die res van sy vonnis uitgedien moet word.

‘DWALING’

Coleman het in September 2021 appèl op verskeie gronde aangeteken. Hy het ook kritiek uitgespreek oor die landdros se oorweging van die klaagster se emosionele toestand tydens haar getuienis en gesê die slagoffer het “aanhoudend en onnodig sonder regverdiging gehuil”.

In sy appèl het Coleman ook aangevoer die erns van die misdaad en die belange van die samelewing is oorbeklemtoon deur ’n vonnis van 28 jaar op te lê, en dat sy persoonlike omstandighede – insluitend sy jong ouderdom en die feit dat hy ’n pa is – nie in ag geneem is nie.

Hy het aangevoer die landdros het haarself in die wet en feite mislei toe sy hom skuldig bevind het, en dat daar geen “geloofwaardige bewyse van die verkragting was nie”.

Coleman het aangevoer die klaer het geen pogings aangewend om ­gedurende die nag hulp te soek nie, selfs nadat hy aan die slaap geraak het.

TWEE WEERGAWES

Die hoërhofregters het egter daarop gewys dat hoewel die mediese ondersoek onvoldoende was, was Coleman se weergawe van konsensuele seks “hoogs onwaarskynlik”.

“’n Mens sal nie verwag ’n persoon wat met ’n mes gedreig word terwyl hul mond vasgeplak is, sal normaal optree deur ’n gesprek te geniet of in te stem tot seksuele omgang nie.”

In Vrydag se uitspraak is ook opgemerk dat die hof korrek was om op die klaagster se weergawe staat te maak en Coleman se weergawe te verwerp, aangesien die klaagster ’n geloofwaardige getuie was.

Die staat is deur mnr. Palmer Kumalo verteenwoordig, en mnr. Jermaine Muchali vir Coleman.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!