Kristien Kruger
Kristien Kruger

Besoeke aan NaTis hopelik iets van die verlede

Kristien Kruger
NaTis kan soms die slegste in ’n mens na vore bring. Jy weet nooit wat om te verwag as jy noodgedwonge een van hul kantore moet besoek nie. Soms staan jy in ’n lang ry, net om voor te kom en te hoor jy het nie al die vereiste dokumente nie. Dan kom jy maar die volgende dag terug en val weer heel agter in die ry in.

Jy maak doelbewus tyd uit jou besige dag om jou voertuigsake uit te sorteer. Wanneer jy by hul kantore instap en jy besef die ry staan al by die deur uit, sak jou moed in jou skoene. Ek is seker meeste van julle het dit al ervaar.

Dit is amper soos binnelandse sake, maar ek moet bieg – Windhoek se binnelandse sake is opgeknap en opgeskerp en ek hoor dit is ’n vinniger en meer aangename ervaring.

Die angs rondom aansoeke en die hernuwing van paspoorte en ID-dokumente is glo nou iets van die verlede. Gelukkig is paspoorte ook nou 10 jaar geldig, dus word ons ’n paar jaar ekstra gespaar.

NaTis het beslis ook ’n paar stappe in die regte rigting geneem. Ek moes onlangs my voertuig se lisensie hernu en het rêrig daarna opgesien. Ek hoor toe oor die radio dat dit nou aanlyn hernu kan word. Ek was skepties, om die minste te sê.

Ek het eenvoudig nie kans gesien vir die rye en al die mense nie – wie het nog die tyd daarvoor. So toe probeer ek die aanlyn storie en ek was aangenaam verras. Meer soos aangenaam geskok. Ek kon dit eenvoudig nie vir myself hou nie – ek vertel almal wat bereid is om te luister.

Die hele proses het my nie langer as twee minute geneem nie. Ek het vinnig ’n profiel geskep en het daarna net my registrasienommer ingetik en die res van my voertuig se inligting het op die skerm verskyn. Al wat ek moes doen, was om te bevestig.

Ek het die afleweringsopsie gekies en my adres ingevul.

Daarna is die prys aan my deurgegee en ek het die betaling gemaak. Nou hier is waar meeste Namibiërs, veral die ouer garde, bietjie skepties sal wees en ek verstaan, maar in hierdie geval het ek heel veilig gevoel om die betaling te maak.

Ek het my besonderhede verskaf en daarna moes ek op my banktoep die betaling bevestig. Die bank het ook vir my ’n OTP (One Time Pin) aangestuur en daarom dink ek die betaling is redelik veilig

’n Koerier het twee dae later die lisensie by my afgelewer.

Die hele proses was maklik en moeiteloos. Ek sal mense regtig aanraai om dit te probeer en ek is seker meeste mense sal nie te veel oortuiging nodig hê nie.

Ek kan nie wag tot NaTis meer van sy dienste aanlyn beskikbaar maak nie en ek sien uit om nooit weer my voete by hul kantore te sit nie. Ek doen eerder alles vanaf my sitkamerbank met ’n glimlag op my gesig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!