Die wêreld daar buite is besonders
Die wêreld is wyd en breed. Uiteenlopend, anders en ryk met geskiedenis, kultuur en skoonheid. Ons is net ’n sandkorreltjie en ons lewens – veral ons probleme – is heelwat kleiner as wat ons dink.
Ek en my man sê gereeld vir mekaar hoe dankbaar ons is vir die geleentheid om ’n ander deel van die wêreld te beleef. Al is dit net ’n klein deeltjie, het dit ons perspektief op die lewe heeltemal verander.
Die lewe wat ons geken het, die klein dorpies waarin ons grootgeword het en ons land Namibië, is iets wat altyd ná aan ons harte sal lê, want dit is deel van wie ons is. Ons is wel bly dat ons die wêreld buite Namibië se grense kan beleef.
As mens begin reis, veroorsaak dit ’n kettingreaksie; die wakker jou nuuskierigheid aan en mens begin smag na meer. Jy wil meer sien en meer ervarings meemaak; dis verslawend. Voordat ek Amerika toe gekom het, het ek geen begeerte gehad om die wêreld te sien nie. As iemand vir my jonger self moes sê ek sou eendag in Amerika woon, sou ek beslis gelag het.
Dis asof hierdie klein treetjie tot in die vreemde, iets binne my aangeraak het en ’n avontuurlus binne my wakker gemaak het. Ek dink dit gebeur omdat mens uiteindelik besef wat daar alles buite ons lewens in Namibië en Suid-Afrika is.
Ek is seker nie al een wat wens ek kon tussen berge wakker word met die reuk van koffie in die vars lug nie. Op ’n sonnige dag op ’n wit strand lê met ’n piña colada in die hand. Fietsry langs ’n kanaal en “bitterballen” eet. Stadig aan ’n warm glasie Glüwein by ’n weihnachtsmarkt sluk. Bier drink in Dublin. Ski in Les Trois Vallées in Frankryk.
Ons het reeds so baie van Amerika leer ken in die tyd wat ons hier is, maar ons het ook baie van onsself geleer. Ons het ’n nuwe waardering vir ons eie land gekry. Mens raak so gewoond aan die oop ruimte, vriendelike mense, uiteenlopende kulture, sonnige dae en die ongelooflike natuurskoon.
As mens eers weg is, dan besef jy hoe spesiaal jou eie land is en hoe geseënd ons is om daar te kon grootword. Ja, ek is seker Amerikaanse kinders het met al die geleenthede in die wêreld grootgeword, maar ek dink nie hulle het al ooit modderkoekies gemaak of vroteier gespeel nie.
Ek sien Namibië anders as voorheen. Wanneer ons terug is, haal ek dieper asem, ek sit langer op die stoep, ek staan in die reën en ek staar na elke sonsak. Ek eet ook baie biltong – natuurlik.
My ervaring tot dusver in die buiteland het my hele verwysingsraamwerk verander. Dit het my perspektief op die lewe verander en dit het my so veel laat groei. Dit is soms moeilik om in ’n plek te wees wat nie jou kultuur, taal of menswees verstaan nie.
Jy voel altyd soos ’n buitestander, maar dit leer jou om aanpasbaar te wees. Dit leer jou sosiale vaardighede en lewenskennis. Dit leer jou meer van die wêreld en meer van jouself – jy is maar net een vissie in ’n reusesee.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie