No Image Caption

Dit gaan oor vertroue, én senuwees van staal

Sanet Pearson
“Vertrou Ma my nie? Ma weet ek het al baie alleen op die plaas rondgery. Hoekom vertrou Ma my nie, ek kán bestuur!”

As ’n 17-jarige eers dít vir jou begin vra en probeer redeneer waarom hy – sonder enige lesse of ervaring – op die paaie “losgelaat” moet word, dan moet jy miskien die hasepad begin kies. Ek het soos ’n haas gevoel wat die aankomende lig gesien het, maar nie geweet het of ek moet bly stilstaan of weghardloop nie. Ek het geweet die oomblik gaan een of ander tyd aanbreek. Ek het net gehoop dat dit nie só vinnig sou wees nie.

Een dag is jou kinders nog klein en wil net by mamma wees, want sy is die wonderlikste persoon op aarde. Die volgende oomblik wil hulle jou lewe op die paaie in gevaar stel. Ja, ja, ek weet ek is oordramaties, maar dit is hoe dit vir my voel. Gelukkig weet hy al van die koppelaar en die rem en hoe om die kar op die pad te hou.

Hy was onder die indruk dat die plaasomstandighede hom vir die stad se omstandighede en sy “ervare” (kom ons noem dit maar by die naam, roekelose bestuurders) voorberei het. Hy kon aan die begin nie insien dat Windhoek se paaie baie meer gevare inhou as die wilde diere op die plaas nie. Hy het dit gelukkig naderhand begin besef.

Ek is ook nie in dié scenario in ag geneem nie. Ek is daaraan gewoond om die bestuurder te wees en ewe skielik is daar nou iemand anders agter die stuur. Dit voel behoorlik vir my of hy óp die sypaadjie ry, en of hy op die stopstrate en verkeershobbels afjaag. Dan ry die arme kind nie eens vinnig nie en my senuwees is klaar.

Elke keer as dit net lyk of ek iewers heen wil ry, staan hy langs my. Ewe gretig om saam te gaan. Die “saamgaan” gaan nie meer oor Ma en om iets saam met haar te doen nie; dit gaan oor bestuur. Elke geleentheid word benut om te bestuur en Ma kry elke keer net nog grys hare by.

Ek het al 'n bietjie kalmeer, maar ek wil ook net byvoeg my tong is soms aan flarde soos ek op hom moet byt. Ek het besef hy is net so op sy senuwees soos ek. As ek hard met hom praat (of gil, soos hy dit noem) help dit hom nie veel nie. Dit maak hom net nóg meer senuweeagtig, en dít wil ek beslis nie hê nie.

Ek het ook nooit besef met hoeveel verskillende omstandighede jy elke dag as bestuurder gekonfronteer word nie, en jy moet aan elkeen gewoond raak. Hy is een van die dae 18 en dan sal ek in sy vermoë as ’n bestuurder moet glo, want dan is hy op sy eie. Dan sal ek hom stelselmatig sy vryheid moet gee, al is dit hoe moeilik.

Ek wil net vir die mense wat nou saam met my deur hierdie “moeilike” tyd gaan sê, ek voel julle pyn, maar jy is nie alleen nie.

Die ergste van alles is dat ek oor minder as twee jaar myself wéér in dieselfde bootjie gaan bevind. Behoede my!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!