No Image Caption

Gaan soek jou kaktus vol blaartjies

“Bim,” vra my vyfjarige kleinknapie my 16-jarige laatram, “wat is daai plant se naam?”

“Dis ‘n kaktus,” antwoord tiener-oom Ben.

“O,” merk die nuuskieragie doodluiters op, “ek mag nog nie daai woord sê nie.” Hy systap die dorings en begin na nuwe vrae soek.

Ja, my liewe Briantjie, die wêreld is vol poeftusse. Mishope van hulle.

En so baie van hulle het dorings: Langes, kortes, hariges of sulke krom haak-en-steek speldjies.

Jy moenie ‘n poeftus vlak kyk nie, my kind.

Hulle bewandel die aarde al vir ministens 30 miljoen jaar. Hulle kén die lewe. En wéét van oorleef.

Hulle het die mens en sy vele aanslae uitoorlê. So ook droogtes. En die by tye ongenadiglike son. Hulle floreer in die harde, klipperige wêreld.

Hulle het nie altyd dorings gehad nie, liefste kleinman. Waar dorings vandag pryk, was eers fyn blaartjies. Maar dit het hulle weerloos gemaak. Insekte en diere kon op hulle teer, hulle verorber.

Blare wat in dorings verander het, het hulle beskerm. ‘n Afskrikmiddel geword. Die poeftus het geleer. Want hy kén die lewe.

So is dit ook met baie mense, my oulike Braaibroodjie.

Baie van ons het dorings. Want die lewe het ons saggeaarde blaartjies teen ons gebruik. ‘n Doringjas beskerm ons teen ‘n winter vol koue medemense. Beskut ons teen die ryp van van misbruik en uitbuiting. Teen die kil winde van Julie en Augustus.

Dorings skep afstand. Moenie dat dit jou afskrik nie, Bri-Bri.

Gee vir Ouma jou handjie. Stadig, versigtig, dan woel ons jou vingertjie tussendeur die poeftus se dorings. Voel jy hoe fluweelsag die plant is? Glad soos sy. ‘n Regte, egte wonderwerk. Enig in sy soort.

So is dit ook met die meeste mense, my lief.

Staan eers op ‘n veilige afstand en bekyk hul dorings. Vat jou tyd en streel hul skerp naalde saggies. Laat hulle verstaan jy’s nie daar om hulle seer te maak nie. Dat jy hulle aanvaar, dorings en al. Dat hulle mooi is.

En dan, soos met die poeftus, wurm jy hou handjie deur die doringdraad wat jou buite hou en vat aan hul hart. Dít ook, is die meeste van die tyd sysag.

Daar is van hulle wat jou sal steek, verseker. Maar as jy versigtig en respekvol is, is dit dikwels net ‘n waarskuwingsprik.

Moenie vir altyd terugdeins nie. Probeer weer. En wéér. Om die soel mens onder die dorings te leer ken, is die brandpyn van ‘n prik werd, Ouma se knapie.

Oor jou eie dorings? Ja, Ouma sien hier en daar ‘n puntjie uitsteek. Dis okei, mannetjie, álmal het dorings. Ouma ook.

Die truuk, dink Ouma, lê in oëverblindery. Jou dorings moet nie regte dorings wees nie. Dit moet net so lyk. Maar jou dorings moet eintlik blaartjies wees wat in towermantel van dorings toegedraai is.

Sodat net mense wat regtig jóú mense wil wees en die moeite gedoen het om die kuldorings aan te durf, mag weet dis blaartjies.

Die lewe sal jou leer vir wie jou blaartjies beskore is. Dít gaan ‘n lang en moeisame pad wees, Brian. Daar gaan seer en trane wees, maar ook drukkies en baie lag, my kind.

Vat my hand, dan soek ons sáám na jou eerste poeftus vol blaartjies. Dit gaan ‘n wonderlike avontuur wees!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!