Tanja Bause
Tanja Bause

Ma’s en hul seuns

Tanja Bause
Ek en ’n kollega het die ander dag ’n gesprek gehad oor ma’s en hul seuns.

Ons al twee het in huise grootgeword waar geen onderskeid tussen seuns en meisies getref is nie.

Wanneer dit jou beurt was om die skottelgoed te was, dan was dit jou beurt. Dieselfde met grassny, wasgoed ophang of hondebollie optel. Ons was almal gelyk.

Gedurende die laaste vakansie is ek na mense genooi vir ’n Sondag–ete. Ek kan nie beskryf hoe verbaas ek was toe die man van die huis en die oudste seun (ver oor die 30) bly sit toe die borde afgedek is nie. Mamma sal dit mos vat. Hulle gee nie eens die leë bord vir die persoon langs hulle aan om weggevat te word.

Mamma staan op en loop na hulle toe en vat die bord, want is dit mos wat ’n vrou doen, verduidelik die seun.

Ek is geskok en deel dit met iemand wat ook twee seuns het en sy sê sonder om ’n oog te knik: “Ai, hulle is tog maar net seuns. Ek tel ook my seuns se klere op wat hulle langs of op die wasgoedmandjie gooi. Ten minste het ek hulle nou al so ver dat hulle dit nie net uittrek en net daar op die vloer los nie,” sluit sy trots af.

Weer eens kan ek my ore nie glo nie. Beide seuns is op die nippertjie om uit die huis te gaan en wie vra ek met trane in my oë sal dan hulle klere agter hulle optel?

Ek hoop nie hulle kry ’n netjiese kamermaat nie; een waar die ma nie haar seuntjie pamperlang en bediende voor gespeel het nie, want hulle sal die arme kind tot pille dryf.

Ek kry ook die meisies en vroue van “ai, hy is tog maar net ’n seun” se ma’s baie jammer, want sonder dat sy besef het, het sy nou ’n volgroeide man met ronde hande. Iemand wat nie ’n leë bord kan wegdra of aangee nie, wat te sê van skottelgoed was of wasgoed ophang (dis mos ’n vrou se werk). Ons praat nie eens van die sokkies en onderbroeke wat op die kamer se vloer lê en wag dat iemand hulle in die mandjie of wasmasjien gooi nie.

Dieselfde geld in die kombuis. My boetie het al van jongs af die wonderlikste etes voorberei. Ek weet van seuns wat nie maalvleis kan gaarmaak en “noodles” kan kook en sodoende vir hulself ’n middagete kan voorberei wanneer ma werk nie. Die ma staan op ’n Sondag, sy moet ook Sondae werk, vroeg op en berei ’n hele ete voor sodat die seuns beide ouer as 15 jaar die kos in die middag net kan warm maak en eet.

Weer eens as sy twee meisies gehad het, glo ek stellig het hulle al lank al die maalvleis in die pan gehad en die “noodles” in die water.

Hulle sou ook in die aande – wanneer ma laat werk – iets aanmekaar geslaan het sodat ma kan kom aansit en nie nog in die kombuis moet staan nie.

Ek hoop regtig dat dié ma’s besef dat hulle nie hul seuns ’n guns bewys om hulle te pamperlang, agter hulle skoon te maak en te verstout soos dit in die ou dae die gebruik was en van ma’s verwag was nie.

Die seuns sal uit die huis gaan, hulle sal manne word en moet een of ander tyd op hul eie voete kan staan. Niemand kan net van wegneemetes lewe of die hele tyd nuwe sokkies koop nie.

Vandag se meisies en vroue aanvaar ook nie meer sulke seuns nie, want in vandag sê dae werk mans en vroue dieselfde ure en ewe hard. So die tye waar die vrou alleen vir die huishouding verantwoordelik was, is verby en al wat ek vir die seuns kan sê, is sterkte. Ek hoop jy vind die laaste meisie wat soos jou ma is en agter jou sal skoonmaak.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!