Onderwys - Kry tog nou die hande uit die hare
Die debat oor skoolreëls rakende hare, haarstyle en haarsoorte woed voort in die media en die studentevereniging, Nanso, het hom in die hoek van die ministerie geskaar en die uitvoerende direkteur met nog ‘n suksesvolle dekolonialiseringspoging gelukgewens.
Was die opdrag van die ministerie aan die skole en Nanso se ondersteuning daarvan wys en in belang van die goeie orde by ons skole?
Skoolreëls oor die hare van leerlinge is nie beperk tot Namibië nie. Dit is ‘n wêreldwye verskynsel wat dikwels gesprek uitlok.
In Engeland, ‘n land met een van die oudste demokratiese grondwette en ‘n lang geskiedenis van die beskerming van menseregte, is die toets of haarstyle van leerlinge met die gedragskode van die skool strook. Style soos JoJo bows, die Beckham Mohawk, Peaky Blinders, Meet you at McDonalds, Ronaldo-haarstyle en kaalgeskeerde koppe is nie toelaatbaar by baie Engelse skole nie. Amerikaanse skole is meer toegeeflik, maar dwing ook sekere standaarde af.
In Suid-Afrika was daar ‘n hele paar lelike herries waar skole probleme met kulturele en tradisionele haarstyle gehad het. Skole is uitgeskel as ’n broeiplek vir rassisme, mense is die strate in, daar is getoi-toi en selfs geëis dat sulke skole vir goed gesluit moet word. In ander gevalle is op die afdanking van skoolhoofde en onderwysers aangedring. Die vryheidstryd is as konteks gebruik en alles is oor die boeg van grondwetlike regte gegooi.
Waar pas haarreëls binne die algemene raamwerk van skoolreëls of gedragskodes?
Die hoofdoel van skoolreëls of 'n gedragskode vir leerlinge is om ‘n ordelike omgewing te skep waarbinne onderrig en leer kan gedy. Die oorkoepelende doel is nie slegs om leerlinge se gedrag te reguleer nie, maar om leerlinge gereed te kry vir die geordende volwasse wêreld wat op hulle wag. Voorskrifte oor hare en haarstyle is natuurlik slegs een aspek hiervan.
Die meeste skole laat vandag tradisionele en kulturele haarstyle toe met die voorbehoud dat hulle die reg het om die lengte, dikte en bykomstighede voor te skryf. Haarstyle moet inskakel by die skooluniform en bydra tot die algemene netjiese voorkoms van leerlinge.
'n Mens wonder of dit wys van ‘n onderwysministerie is om “in te meng” met die toepassing van die gedragskodes van ‘n bepaalde skool of ‘n groep skole. Omdat die ministerie die oorkoepelende toesighoudende liggaam is, is dit miskien nie verkeerd nie, maar dan moet die toets wees of ‘n bepaalde reël in konflik met die gedragskode en nie met die grondwet van ‘n land is nie. Die skool beskik oor die outonomie om die skoolreëls op te stel en dit is slegs afdwingbaar as dit nie in konflik is met die Grondwet, die Onderwyswet en ander regsbepalings nie. Dit behoort die ministerie tog te weet.
Miskien kan die volgende as riglyn dien.
Jare gelede het ‘n leerling in die //Kharasstreek met ‘n rasta-haarstyl by die skool opgedaag. Sy verskoning was dat hy ‘n rastafariër is en dat sy geloof vereis dat hy sy hare so moet dra.
Die skoolhoof het die verduideliking nie aanvaar nie, die leerling onmiddellik die skool verbied en hom huis toe gestuur.
Die leerling en moontlik sy ouers het hul lot by die destydse minister van onderwys, mnr. John Mutorwa, bekla. Sy duidelike antwoord was dat as die seun nie tevrede is met die skoolreëls nie, kan hy toelating by ‘n ander skool soek waar sy haarstyl wel aanvaarbaar is. Dit was ‘n wyse en die korrekte reaksie.
Miskien moet ek net die volgende noem. 'n Klompie jaar gelede moes ek ‘n besoek by ‘n skool aflê. Op pad na die skoolhoof se kantoor het ek by ‘n klaskamer ingeloer. Tot my verbasing sien ek ‘n onderwyser besig met ‘n wiskundeles met ‘n hoed op die kop en ‘n brandende sigaret in die hand. Baie duidelik ‘n skool met ‘n baie losse dissiplinestruktuur.
Nou dat ek die aangeleentheid onthou, sal ek graag wil weet of sulke skole - en die waar so gereeld op die trom van grondwetlike regte geslaan word - werklik goed presteer? Ek dink nie so nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie