Augetto Graig
Augetto Graig

Onthou om te onthou

Augetto Graig
Daar kom ʼn tyd om terug te kyk na alles wat gebeur het.

Dit is belangrik om van tyd tot tyd terug te kyk.

Baie dinge gebeur en ons let nie altyd noukeurig op nie.

Die alledaagse en aanhoudende siklus waarin ons volwassenes onsself bevind, en soms in vasgevang is, maak ons gevoelloos teenoor die wonderwerke wat om ons plaasvind. Ons sien dit nie raak nie.

Dus is dit belangrik om soms te stop en toe te laat dat die werklikheid ons weer kan inhaal.

Dit vat ’n oomblik om die een of ander krisis wat nou weer onmiddellik moet aandag kry vir ’n wyle te vergeet. Dit verg moeite om jou gedagtes te herroep en aandag te gee aan wat reeds verby is.

Mens kan nooit daardie verlore oomblikke herleef nie, maar jy kan erken dat dit plaasgevind het. Jy kan met daardie kennis dalk die vrugte van daardie veranderinge steeds geniet.

Veranderinge is die enigste konstante deel van die lewe. Alles verander. Hierdie veranderinge is soms betekenisvol. Nogtans besef ons nie altyd wat om ons aangaan nie.

Die jare vloei later soos water. Omstandighede verbeter, verswak, verbeter weer, verswak weer. Ons lot dobber op en af in die wêreld. Harde werk word sommer net so weggespoel, meevallers kom ongevraagd, tragedie loer om die hoekie en die ongeluk tref net wanneer jy dink alles is in orde en onder beheer.

Die lewe is niemand se speelmaat nie.

Die lewe wil gelewe wees, het my ouma altyd gesê.

Deel van die ervaring om jou lewe te lewe, is om daaroor na te dink. Deur aan jou lewe te dink en dit eerlik te ontleed, kom insig en ook die geleentheid om doelbewus op te tree.

Soms moet jy die verandering maak.

Die deel wat ek egter hier wil uitlig, is om die waarde van jou herinneringe so bietjie te koester terwyl jy steeds lewe.

Mens hoef nie te wag tot jou oud is en niks beter het om te doen met jou tyd nie. Jy kan selfs nou ’n oomblik neem om terug te dink.

Onthou die dae wat jou hart met trots laat swel het. In jou gedagtes kan jy amper weer daai ou liefde voel, daardie genot en oorheersende vreugde van oorwinning, daardie hartseer van verlies.

Sterk emosies merk gereeld die keerpunte van jou lewe. Omhels jou gevoelens. Sit met jou hartseer. Luister na jou hart se klagtes. Glimlag oor jou herinnering van spesiale oomblikke.

Pak dit dan mooi netjies weg en staan weer op.

Vat weer die dag by die horings en draai sy kop in die rigting waarheen jy besluit het om te gaan. Jy is steeds die kaptein van jou lewe. Jy is in beheer.

Gister is verby, en nietig behalwe in ons herinneringe. Môre is onseker. Net vandag is jou gawe, net vandag is spesifiek vir jou gebied. Neem dit en vat dit vorentoe. Maak daarvan wat jy wil, wat jy kan.

Doen wat jy weet goed is. Jy weet nou van beter. Dit het jou verlede jou geleer.

Probeer om nie jou ou foute te herhaal nie, maar leer daaruit. Jy moet nou ook kan sien wat werklik van waarde is. Maak dít ’n prioriteit.

Sê dankie vir als wat jy al deurgemaak is. Waardeer jou ervaring en doen nou die moeite om jou lewe te verbeter, terwyl jy nog kan.

Onthou om te onthou. – [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!