No Image Caption

Opgeklim en weer gery

SMN 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gert Kruger – Gistermiddag, terwyl ek besig was om die weeklikse instelling van ’n vleisbraai uit te voer, oorval ’n vreeslike weemoed my.

Nie oor Namibië Saterdag teen Wallis verloor het en ek gedink het hulle moes wen nie. Ek weet ook nie of dit is omdat die jare nou so vinnig verbygaan en ’n mens besef jy word by die dag ouer nie. Miskien is dit omdat die voorkop ook breër word en daar nie meer hare is om ’n windmaker bokramkuif te kam nie.

Ewenwel, terug na die weemoedsgevoel wat gister soos ’n spook in die nag op my hart kom lê het.

Toe ek so in die kole staar, sien ek weer my jare op Kalkrand soos ’n Warner Bros-rolprent voor my verbyrol. Hoe ons Sondae in die veld gaan stap het. Wegkruipertjie, blikaspaai, “touch” – noem maar enige speletjie op. Veral wegkruipertjie was die gunsteling onder die speletjies. Dit het tyd gegun aan enige kalwerliefde om te blom. Aan die rondomtalie op die speelgronde waar ek my eerste kennismaking met die sagte lippe van ’n meisie gehad het. Om nie eens te praat van agtermiddae wanneer die klomp seuns soos regte ape in die populierbome rondgeklouter het om die beste plek op die stam te kry om sy nuutgevonde liefde se voorletters in ’n hartjie met die Josef Rodgers uit te kerf nie. En van klasrolprente Dinsdagaande, wanneer jy soos ’n wafferse grensvegter op jou maag onder die tafels deurgeseil het om koerier tussen twee geliefdes te speel.

My gedagtes dwaal terug na ’n bleek Saterdagoggend in Junie 1969. Die Laerskool Kalkrand se rugbyspan teen Mariental. ’n Wen sal beteken Kalkrand dring deur na die eindstryd. Die hele wedstryd verloop baie gelykop. Toe maak Kalkrand ’n fout en Mariental druk ’n drie. Daardie jare het ’n drie nog drie punte getel. Gelukkig was die vervyfskop mis en ons het darem nog ’n kans gehad.

Soos die geluk dit ook wou hê, druk ons die gelykmakende drie. Die uwe was die skopper en het soos ’n wafferse Piet Visagie (in daai dae was Naas Botha nog in die doeke) aangelê pale toe. Die verskil was net dit: Visagie het al met “togs” gespeel, terwyl ek moes staatmaak op die krom groottoon om die bal sekuur te tref. Die skop was nou nie vreeslik moeilik nie, maar was darem reg voor die pale wat dit dalk net bietjie meer delikaat as ander skoppe gemaak het. Nodeloos om te sê, toe ek die bal tref, woer-woer dit hoek se kant toe. Skoon mis en ons speel gelykop. Dit het ook beteken ons verloor die liga, omdat Mariental meer punte deur die seisoen aangeteken het as ons.

Skielik besef ek waarom ek so weemoedig is. Dit is mos darem my “valley” soos Constant sou sê. En ek hou nie daarvan om te sien hoe hulle verneder word nie. Miskien het die Marientallers ook Saterdag gevoel soos ek oor daai verbroude skop. En miskien moet hulle maar maak soos ou Frik du Preez. Elke keer as die Springbokkeurders hom “gedrop” het, het hy maar net die fiets by die “handles” gevat en weer gery.

– 7 Junie 1993

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!