Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Takhaar kou taai toffies

Charlotte Beukes Muundjua
Charlotte Beukes Muundjua – Dis ’n soel Vrydagmiddag op ’n kleinhoewe buite Rehoboth.

Ousie-ma sit wagtend op haar riempies-stoel onder die breë kameeldoringboom, haar oee amper konstant op die stofpad.

Dis ’n dag van afwagting, haar oorlede suster se dogter kom plaas toe. Die blote gedagte is soos water in die woestyn – sielsverkwikkend!

Die ou vrou het haar oorlede man se khaki sakdoek opgefrommel van ongeduld, tweede keer gesnuif, tee gedrink, grond natgespuit vir hoenders om naderby te kom skrop-skrop – sy nodig die tweepotiges se morele ondersteuning.

En doer ver staan die stofwolk. Dis my Saartjie, haar hart spring soos ’n jong springbok. Sy kriewel.

Saartjie se pa is nog in die veld, so die blye oomblik sak alles op een lyf af.

Maar hoe lyk dit dan Saartjie het met ’n mater gekom? Sy het niks laat val.

Soos die twee naderstap versmoor Ousie-ma se wasgoed-voorarms vir Saartjie in warm omhelsing.

“My kind, jy is blink-mooi; ronde wange en boude. Nou watse takhaar-klong lê en dra bring jy op my werf. Sê die jong moet sy ry kry, jy is mos veilig tuis, ek soek tog nie sulke roesbondels in my kontrei nie”

Saartjie raak vaal om haar kiewe.

“Ousie-ma dis my besonderse kollege-vrind, Blessing. Hy gaan die naweek met ons kuier en ek weet hy sal onder Ousie-ma se vel inkruip”

Ousie-ma se hart ruk soos ’n bok wat pas kop-af geslag is. Sy dink net “onder vel inkruip? Dis dan ’n sangoma-afstammeling, hoe de hoender koek”. Sy hoop dis nie ’n vry-kêrel nie, die keenders moet ta’ aan hulle nageslag dink.

Sy skraap sterkte bymekaar. “Nou goed kom laat en sit gesels, daar is lekker koue gemmerbier in die blik emmer, skep vir julle. En Takhaar sleep daai stoel nader tot duskant my blad, ek wil ’n gevoelentheid oor jou kry. En waarvoor is jou hele arms vol geskryf?”

Saartjie trap klei, arme Blessing kou nou letterlik taai toffies. Sy Afrikaans nog swak en nou staan en praat Ousie-ma nog Basteriaans.

“Ousie-ma, Blessing is ’n derdejaarstudent in filmmakery (sy hou maar die terme plat, verstaanbaar), so dis amper normal vir kunstenaars om tattoes te het en sy hare is Rasta-lokke.

Die ouvrou sug maar en aanvaar die storie net vir nou. Die naweek sal ’n oopboek word, my hart sal waarheid spreek.

Dis toe dat Paul, Saartjie se pa van die veld kom met ’n vet skaap. Weereens gegroet, gekloek, bekendstel aan Takhaar (Blessing). Oom Paul sny ook net die klong onderlangs, maar hy is ’n man arm aan woorde. Sonder uitnodiging bied Blessing hulp aan met die slagtery. Ousie-ma se mond hang oop toe hy die skaap tjoef-tjaf slag, en netjies uitmekaar maak. En onmiddellik begin hy vuurmaak en verneem of hulle ook hou van vars rugstring kook. Nou begin legkaarte inmekaar spring.

Soos die son kooi maak op die westerkim, dans Takhaar se vuur in vele vlamme. Dit lag en gesels op die maat van knetterende kole en ’n ysterpot wat plaaskos-tale praat.

Klomp stories in Basteriaans word vertel tussen pot-roer en omdraai van roosterbrood.

Intussen het Takhaar ’n skêr en erdeskotteltjie in die kombuis gaan kry en sit en knip rus-rus die skaapstert. Hy vertel vir Saartjie dat kaiings sy gunsteling is.

Ousie-ma se gewete looi haar: hoe kon sy as Moeder ’n ander vrou se kind op sy donker vel en lykings veroordeel? Die lyk na ’n knaap met inbors.

Die blikborde word warm onder vars vaal rugstring en roosterbrood. Die gemmerbier-emmer staan nader, die is ’n klein fees sowaar!

Takhaar verdwyn nog ’n keer motor toe en keer terug met sy kitaar. Hy begin speel “Namibsroos” die gesogde liedjie van oorlede Theuns Jordaan. Ousie-ma se oee raak tranerig, haar hart doek-saf. Sy verlang haar oorle man. Die was knap met ’n kitaar en die liedjie was sy gunsteling onder die einste koelteboom.

Daar sak ’n onbeskryflike salige vrede oor die viertal. Ousie-ma vra verskoning by Blessing oor haar krasheid. Sy is kinderlike opgewonde en soebat dat hy volgende maand vir haar 70ste verjaardag eregas gaan wees.... Met sy kitaar natuurlik. Hy moet die dansvloer met “Namibsroos” oopmaak.

En hy moet sy fênsie kamera saambring om die mooiste kiekies te neem.

Saarjie is bly want Blessing is inderdaad haar blessing, ’n steunpilaar met moeilike take, selfs vir haar ’n naweek-werkie help soek. Hy het belowe om hul plaastuintjie op te dollie, want Zimbabweans word gebore met vlytige groen vingers. Die is die volgende verrassing vir rissie-pit Ousie-ma

Die nag vou sy mantel oop. Elkeen gooi sy kop op sy kussing met eie gedagtes en danksegging

Ousie-ma loof haar Skepper vir so baie seninge en genade deur ’n roesbondel tak-haar seun te stuur om die sluiers van haar oee af te haal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!