Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Vermaak en algoritmes

Sanet Pearson
Wiesie Kotzé – As die ma van ’n groeiende huisgesinnetjie moet ek bieg ek was altyd ’n groot fliekliefhebber – spesifiek romantiese komedies.

Die laaste paar jaar het ek al hoe minder tyd gekry om televisie te kyk, soveel so, dat dit wel een lekker ding is waarby ek nou kan uitkom terwyl ek op kraamverlof is.

Elke persoon se smaak is uiteenlopend en ek is seker my opinie en voorkeure word nie noodwendig deur elke leser gedeel nie. Iets wat ek wel nogal mis in die era van algoritmes en ’n sosio-polities gedrewe vermaaklikheidsbedryf is “skoon vermaak” sonder enige agendas.

En waar is die dae van advertensies wat episodes onderbreek? Op sommige van die kanale is dit net ure aaneen van episodes. (Oukei, advertensies kom steeds op DStv voor op sommige kanale.)

As kind het ons altyd die advertensies verpes, maar vandag, as volwassene, sien ek hoe die verslawing aan televisie en “binge-watching” nogal moeilikheid kan veroorsaak. My persoonlike voorkeur is skoon vermaak. Eenvoudig, omdat ek daarmee assosieer. Ek is ’n Christen en verkies dus vermaak wat my norme en waardes daarin weerspieël.

Netflix en sy algoritme om voorkeurprogramme voor te stel, is interessant. My man het onlangs ’n tweede profiel geskep om ’n groter verskeidenheid opsies vir ons te bied, en het daarmee saam weer al die voorstelle van dit wat ons glad nie wil kyk nie ingelaat.

DStv het weer die kanaalstelsel wat ons ook van voor die era van Smart TV’s ken en dan het ons onlangs ingeloer by Apple TV om dit vir ’n gratis proeftydperk te gebruik. Dit lyk my hulle bied weer net vermaak op ’n programbasis aan. Ek het al van Amazon en Amazon Prime gehoor, maar nog nie daar rondgekrap nie.

Al gooi Netflix ’n mens soms toe met die wêreld se sosio-politiese agendas, wil ek in Netflix se verdediging sê toe dié stromingsdiens se algoritme eers agterkom dat ons ’n Christelike fokus verkies, het ons al hoe meer ons tipe flieks en programme begin vind.

En dit in die era waar selfs die duiwel ’n televisiereeks het... Ek is redelik seker dat ander geloofsgroepe dit ook sal beleef, veral waar en wanneer daar sulke programme vervaardig en onder die Netflix-vaandel aangebied word.

Vir diegene wat aanklank vind by my persoonlike smaak: Op Netflix is daar die reeks “The Chosen” en vir meer humoristiese vermaak – die fliek Family Camp, sowel as Root of the Problem wat ’n interessante metafoor vir die lewe is.

Op Apple TV het ons ’n “skonerige” reeks ontdek, bygesê die taalgebruik is minder skoon, wat positiewe beginsels opdis in die vorm van Ted Lasso. En ek het onlangs op DStv se Universal Channel ’n oulike speurverhaal (in die ligste sin van die woord) ontdek waarin Jane Seymour die hoofkarakter speel – “Harry Wild”. Dit is wel net in die oggende op Live TV beskikbaar vir diegene wat soos ek tans die geleentheid het om dit te kan geniet.

Ter opsomming: Algoritmes, of ons dit geniet of nie, is waarskynlik hier om te bly en ons lewens te beheer. Die vraag is – is ons die algoritmes se slawe, of kan ons leer hoe om dit te bestuur sodat ons meer beheer het oor ons voorkeure vorentoe?

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!