Tielman van Lill
Tielman van Lill

Waar is die dae van regte flieks?

Tielman Van Lill
Ek onthou hoe ek een Desembervakansie in die laat 70’s op Lüderitz my eerste 16 mm Titanic-fliek gesien het. Nogal ’n wit-en-swart affêre van langer as twee uur.

Ons laerskoolhoof was genadiglik ’n geswore aanhanger van “Westerns” en aksieflieks en dit is basies al wat ons mannetjies geken het.

Die flieks wat ons in Laerskool Maltahöhe se koshuiseetsaal gekyk het, was ’n “fijn” beplande operasie wat ten minste twee keer per maand plaasgevind het. Tannie Google was nog net ’n gedagte en daarom moes die telefoonlyn per handsentrale na Windhoek geslaan word om plekke soos Uncle Spikes te bel (wat die rolprente verhuur het) om te hoor watter flieks beskikbaar was.

Hoe die betalery gewerk het, sal ek nou nie weet nie. Maar as die moewie bespreek was, is dit in Windhoek op die spoorwegbus na Mariental gesit. Vanaf ou Stofbakkies was daar Vrydae weer ’n bus na Maltahöhe om die langverwagte fliek af te lewer.

Natuurlik het die hoof ons reeds vroeg ingelig watter fliek op pad is. Die koshuisseuns moes Saterdagmiddae die eetsaal se tafels wegskuif en die stoele in netjiese rye pak, terwyl die kombuispersoneel aanmaakkoeldrank en versnaperinge soos jêffels vir die fliekgangers voorberei het.

Ons dorpie het nie elektrisiteit gehad nie, maar die koshuis se “generator” het daarvoor vergoed. ’n Hengse frustrasie vir ons latte was natuurlik wanneer die fliek op die mees ongeleë oomblik besluit om te breek.

Gewoonlik kon die aksie darem na ’n minuut of tien hervat ná die fliek weer deur die projektor gevoer is. Die rolprent is Maandag per bus terug Windhoek toe vervoer om sy regmatige plek tussen die ander rolle in te neem.

Sondagoggend (en vir die res van die week) was jy nes John Wayne die held van jou eie fliek, waar jy al skietend oor die Namib se vlaktes al wat ’n boef voor die voet op jou vlieënde ros die ewigheid ingestuur het.

Ek onthou hoe ons een aand ’n karate-fliek gekyk het waar die held, Bruce Lee (toe reeds ’n legende), gillende sy teenstanders met al wat ’n rowwe karate-skop soos vrot velle neergevel het.

Terug by die huis het ons godsdiens gehou. Terwyl Ma bid, het ek my “moof” beplan om die kamerdeur aan te val. Toe sy “amen” sê, het ek soos ’n pyl uit ’n boog opgevlieg en die deur met ’n bloedstollende gil en wrede skop in sy spore gestuit.

Al wat Ma verslae kon uitkry was: “Jy het mos nou nie ’n woord geluister wat ek gebid het nie!”

Weens die gebrek aan televisie op hoërskool was ons beskore om elke Saterdagaand een of ander obskure aksiefliek of riller in die koshuiseetsaal te kyk. Dit was ’n hoogtepunt in ons koshuisbrakke se saai bestaan.

Hoe sit ’n tiener wat net van skop-skiet-en-slaan-flieks hou, vir meer as twee uur stil? Ek is steeds innig dankbaar teenoor fliekteaters soos die Odeon en Alambra vir verpligte pouses. Dan kon jy vir jou meisie ’n koeldrank en tjoklit koop en later darem weer haar hand in die donker vashou.

Direk ná die vertoning het haar ma of pa reeds buite gewag om hul dogter uit die wrede kloue van ’n hormoongedrewe tienerseun te red terwyl sy met die wegtrek vir jou waai, of ’n skelm soentjie blaas, as jy gelukkig was.

Ietwat ouer en met ’n karlisensie op 18 in jou sak, was die Windhoek-inry (as fliekvenue) natuurlik ons latte (en meisies) se eerste keuse.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!