Wannneer die sirkel voltooi word
Ons almal het moontlik ’n versugting, ’n verlange, ’n tipe heimwee na sy heimat as die daaglikse lewe jou in die ribbes skop.
Sommige verlang na Ouma se kombuis of Ma se beskuit of dalk net ’n plek of gebeurtenis uit sy kinderjare wat neffens sy DNS genestel sit.
Vir my as Namibskind en boorling van die Suide, verlang ek na die oop vlaktes, kameel- en noeniebome, driedoringbosse, grasvlaktes en die blou berge van my wêreld. Ek soek na die geblêr van ’n karakoelskaap of dorper en die roep van ’n rooi poenskopkoei na haar kalf.
Sal dit ooit vervaag? Daagliks ademloos vasgevang in die meule van verganklikheid, is dit soms bitter moeilik om normaal te funksioneer. Dis dan wanneer die meesleurende dae en rondrolnagte vir my té veel word. My herinneringe kom lê dan teen my hart en druk snoep soos ’n suigeling wat na sy Ma se sagtheid en vertroostende bors vir lafenis soek.
Die afgelope paar jaar se bekommernisse klou soos ’n roofdier aan ons psige. Dit beroof ons as kwesbare sterflinge van lewensgeluk.
Dan hunker ek eerder na die ooptes van die Namib uitgestrek tot by eindelose kimme waar verskeie kore ’n gebelgde siel vertroos.
Sawens is daar ’n sterrekoor, ’n maankoor, ’n vroegaand- en sononder-geitjiekoor aangestu deur ’n windkoor wat deur die venster kruip en weer langs my op die bed kan kom lê.
Ek soek na die ooptes, die eindelose vertes waar die blou na die diep blou en verblou insmelt. Die berge is grotesk soos ’n vredemaker wat beskermend oor my buig met sy skadu’s as die dag se hitte aan my slape hang.
Die duine se sagte rooi sand wil ek weer tussen my tone voel as ek gaan hout soek om ’n kampvuur saam met die Suiderkruis vir geselskap aan te steek.
Ek wil stilraak en die nag se geluide hoor. Ek wil na die donker ooptes se aandliedjie luister terwyl die vlamme oranje en geel sy eie deuntjie in die skoon naglug tokkel. Iewers in die verte kan ’n astrante rooijakkals dalk na ’n maat roep.
Wanneer die son die volgende oggend in die laaste koelte welkomend sy strale oor die Namib baai, word ’n nuwe dag, nuwe hoop en nuwe geloof soos ’n welkome nuweling gebaar.
Die Namib genees, die Namib vertroos en les bes, die Namib koester sy liefde onbeskaamd vir sy mense wie dit gulsig soos die droë sand opslurp.
Toe ek vir die eerste keer in 16 jaar die Namib binne ry, het welkome trane oor my wange geloop. Dit was ’n vreemde emosie wat deur dié wêreld en sy bekende vertroostende panoramas voor my deur kom lê het.
Ek het dit nie verstaan nie, maar later besef ’n boom kan afgekap word, maar sy wortels bly veilig in die diepte van die aarde se pens gesetel om nuwe takke van lewe na bo te stoot.
Grypend na die lug en bekende omgewing om weer lewe aan ’n verdorde siel te skenk.
Dit is moeilik om te beskryf of te verwoord. Maar die wat dit ken, sal weet waarvan ek praat. Vir my is dit die Namib wes van die Tsarisberge waar ek vir die eerste keer kaalvoet die sand tussen my tone kon voel en in die koeltes van ’n kameelskadu kon rus.
Vir ander is dit die bosveld of dalk die Kalahari, maar ons het een gemene deler, ’n heimat wat vertroosting vir die siel koester.
Eendag wanneer die Namib se sand vir oulaas op my laaste rusplek neerstuif, sal die sirkel voltooi wees.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie