No Image Caption

Wees – sommer net ‘n slag – laf

Dani Booysen
Niemand hou van ‘n tjoppie sonder spesemry nie?

Só is die lewe ook.

En met al die stormwinde wat ons steeds moet trotseer, sommige oorgewaai van heinde en verre en ander terplaats losgetorring, is dit waarskynlik gerade om afleiding te soek.

Dalk deur soms doodgewoon laf te wees.

Peper, rissie, kool en kasterolie is daar genoeg wat ons elke dag eenvoudig móét sluk?

So tussendeur die voortgesette sages van visvrot, Swapo se opvolgpolemtiek, mynvrot se ontvouende tentakels, stygende rentekoerse en al die bestaande en nuwe tolle wat uit Freek en Frederika Verbruiker se pannekoekplat beursies geëis word, benodig ons waarskynlik sakke eerder as knippies sout.

Of is dit vragte?

Maar dan sal jy vir die diesel moet kan opdok.

Heeltyd kan mens natuurlik nie simpel wees nie. Op gevaar dat jy soos die Groot Boek waarsku, uitgespoeg sal word.

Orig. Maar nié in daai ander betekenis nie ...

Lawwige lighartigheid is nie noodwendig gelyk aan ligsinnige oppervlakkigheid nie.

Oktober se fees vol skuimende biere, vrolike Dirndiln en Lederhosen is verby.

En Dapperrerige Daniëltjie ken nie juis enigiemand wie se beursies dikker bult hier in 2022 se afdraende nie.

Selfs al is jy dus geswore suurknol (hierdie Daantjie dra ook nog Dônnerbos as bynaam saam), wag daar maar swaar tye as jy nie bereid is om elke kans wat jy kry, jou eie vermaak te skep nie.

Soos in een van daai groepfoto’s waarin jy versoek word om iets belaglik te doen voor die voëltjie se oog vir ewig oor die oomblik toeknip.

Een daarvan is hier in ‘n ander venster op die skrywer se komper oop.

Die familie se spanfoto by Ma se 80ste:

Tweelinggebroeders Brolloks en Bittergal kon net so ver as duime op en ‘n glimlag kom. Vroutjie en dogter maak (telepaties?) wêlakapêlas, ousus en manlief monsterkrete, kleinsus en maat giggel diep uit hul pense, een niggie maak pieringoë en twee ander gooi soene, seun wys tekens wat by ‘n metal-konsert hoort en sommige dominees sal laat bloos, en kleinseun, die heel jongste, wys ...

‘n Swartmagvuis!? Iesj...

Elkeen vasgevang in ‘n heerlike, onbewaakte oomblik.

Oupa, ‘n gebore plaatjie, se kykers trek skrefies tussen die lagplooie op sy gesig. En Ouma slaan maar net die hande voor haar mond saam.

Maak ons genoeg tyd? Om meer gereeld ons knypende borsrokke en wurgboordjies los te knip. Sonder aansiens des immer selfbewuste en beswaarde persoons.

Oor lag as medisyne is daar al boekdele geskryf. En na bewering bring ‘n gesonde poets verligting vir fisieke en emosionele pyn, buiten dat dit familieverhoudinge en spanwerk verbeter en kreatiwiteit stimuleer.

Eerste twee stoppe die naweek: Namibië Toerisme Ekspo en rugby teen die Griekwas.

Reël nog verskeie op pad na Okresmisa. En lappesaait vir oordrewe bitter nuwejaarsvoornemens.

Maar as jou planne min is – plant liefs eerder ‘n poepkussing as ‘n drukspyker op my stoel ...

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!