Beserings ry toerspan in Spanje

Rugby
Andrew Poolman
Die Namibiese senter Danco Burger is op pad huis toe met die kniebesering wat hy op die oefenveld voor laas naweek se verloortoets teen Spanje opgedoen het – maar hy is nie die enigste toerlid oor wie daar kommer is nie.

Die flank Janco Venter (kniebesering), slot Ruan Ludick (elmboog) en linkervleuel Divan Rossouw (harsingskudding) het almal in die tweede helfte van Spanje se oorwinning met 34-15 in Madrid die veld verlaat met beserings wat hul verdere deelname aan die toer in die weegskaal kan plaas.

Rossouw was ongelukkig om teen die kop raakgeskop te word toe hy kort ná rustyd ’n duikslag uitgevoer het, terwyl Venter ook net enkele minute later tydens ’n lopie naby die kantlyn skeef getrap en sy knie beseer het.

Afrigter Allister Coetzee was genoodsaak om dissipline as een van die onderwerpe na vore te bring in sy reaksie aan die media, nadat Namibië deels vanweë vier geelkaarte teen Spanje nie die tempo kon volhou nie.

Die Namibiërs was vroeg met 12-0 agter en het daarna die volgende twee drieë gaan druk, naamlik deur heelagter Cliven Loubser ná ’n puik solo-lopie en daarna Johan Retief se drie net voor rustyd (Spanje 15 Namibië 12) vanaf ’n rolmaalbeweging.

“Ons skrum was stewig, ons lynstane het gewerk en ons het met tye ver veld gewen met ons rolmaalbewegings,” sê Coetzee.

Namibië het ná 49 minute met 20-12 agter geraak toe Spanje se flank Mario Pichardie spasie gehad het om ’n dwarsskop raak te vang en deur te nael. Die punteverskil was egter steeds binne bereik – totdat skrumskakel Kerman Aurrekoetxea met ’n breekslag teen die stroom in sy pad naby die doellyn oor gevind het (12-27).

In die laaste minute het buitesenter Iñaki Mateu met ’n vlak aangee van sy losskakel deurgesny sonder dat die oorhoopse verdedigers kon keer, om die eindtelling ietwat onvleiend te maak.

Die Namibiërs sal moet besin hoekom die Nieu-Seelandse blaser Paul Williams 19 strafskoppe teen hulle toegeken het.

Ewe erg was die vier geelkaarte. Wian Conradie het ná net ses minute ’n boorvat uitgevoer; stut Casper Viviers is in die 45ste minuut afgestuur nadat sy span vir oortredings op die grond gewaarsku was; Cliven Loubser het in die 72ste minuut ’n Spaanse aangee op sy doellyn afgeklap en in die 79ste minuut het Conradie ’n rolmaalbeweging van die tuisspan grond toe getrek.

Die toer word komende Saterdag in Amsterdam afgesluit, wanneer die Namibiërs vir Kanada ontmoet. Kanada het Saterdag juis in dié hoofstad losgetrek met 24 punte in die tweede helfte om Nederland met 37-25 te verslaan (rustyd 13-13).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!