Bokke sal duim vashou Wallabies skok die Kiwi’s
Rugby
’n Vreemde toneel kan dalk Saterdag in Suid-Afrika afspeel – Springbok-ondersteuners wat duim vashou dat die Wallabies die All Blacks in Melbourne trap.
Indien dit gebeur, het die Bokke nog ’n kans om die Rugbykampioenskap te wen.
Met die kragmeting tussen die Wallabies en Nieu-Seeland wat vroegdag in Suid-Afrika uitgesaai word, sal die Bokke dan presies weet hoeveel punte hulle later in Johannesburg teen die Poemas moet probeer insamel om die beker te wen.
In hierdie stadium is die kans dat die Wallabies met die All Blacks gaan afreken, egter bitter skraal.
Dit wil voorkom of die Nieu-Seelanders behoorlik op dreef is en hul afrigter, Ian Foster, kan dit selfs bekostig om komende naweek weer ’n paar proefnemings te maak.
Met wie begin hy byvoorbeeld op slot? Wie van Sam Whitelock, Brodie Retallick of Scott Barrett moet op die bank sit?
Moet hy Beauden Barrett ’n kans gee op losskakel en Will Jordan of Damian McKenzie op heelagter kies? Wat dan van Richie Mo’unga?
Terwyl die Wallabies en die Bokke se ondersteuners hoop vir ’n groot skok, raai All Black-ondersteuners wie van hul helde hierdie naweek almal drieë gaan druk.
Dis moeilik om nie entoesiasties te wees nadat jou span reeds Argentinië in Mendoza met 41-12 afgeransel en Suid-Afrika in Auckland met 35-20 getroef het nie.
Eddie Jones, die Wallabies se afrigter, wat hom so gewip het toe ’n Suid-Afrikaanse rugbyskrywer hom gevra het of hy bly is sy span het net teen ’n B-span gespeel, is onder druk.
Die feite was daar vir almal om te sien dat sy span in Pretoria teen ’n gelapte Bok-span met 43-12 verloor het.
Toe looi die Poemas sy span boonop in Sydney met 34-31.
“Ons moet die span verbeter. Ons was nie goed genoeg in die eerste twee wedstryde nie, so dis baie duidelik dat ek nog na my beste span soek,” het Jones laas naweek gesê.
Verstommend dan dat hy die agtsteman Harry Wilson, wat puik rugby vir die Reds gespeel het, nie in sy uitsoekgroep het nie.
Jones kan dalk volgende naweek weer sonder die inspirerende kaptein Michael Hooper wees, wat met ’n kuitbesering sukkel.
“Ons het nog ’n week oor en ons weet uit ondervinding dat ons versigtig moet wees met kuitbeserings,” het Jones gesê
Die breier hoop dat spelers soos Andrew Kellaway en Jordan Petaia agterlangs ’n bietjie flair sal bring noudat hulle van hul beserings herstel het.
Dit klink egter of Jones hom reeds regmaak vir nog ’n pak slae. “Ons het ’n hele paar spelers wat terugkeer ná langtermynbeserings en hoe graag ook al ons hulle nou reeds op hul beste wil sien, is die werklikheid dat hulle eers hul beste vorm by die Wêreldbeker-toernooi sal bereik.”
Die Bokke sal op hul beurt na verwagting volgende naweek spelers soos Kurt-Lee Arendse en Jesse Kriel speelkans gee. Jean-Luc du Preez, Herschel Jantjies en Jaden Hendrikse kan ook dalk in die prentjie kom.
Die stut Ox Nche herstel egter steeds van ’n borsspierbesering en sal nog langs die kantlyn wees.
Die Bokke sal vandag en Dinsdag in Pretoria oefen voordat hulle Woensdag na Johannesburg vertrek, waar hulle sal bly vir Saterdag se kragmeting teen die Poemas.
Die Poemas het met hul hardnekkige vertoning teen die Wallabies natuurlik gewaarsku dat hulle nie net Johannesburg toe gaan kom om om te rol sodat die Bokke hulle pensies krap nie.
– Netwerk24, Stuff.co.nz

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie